Lusmakertjie: Tussenspel

TussenspelToe Francisca aangetrek soos ‘n Goot en onder ‘n vals naam by ‘n aantreklike ou se ouers beland, moes sy probleme verwag het.

Toe hulle op die stoep kom, gee een van die neefs ‘n wolwefluit. Dit word weer eens doodstil en alle oë is op haar.

“Kyk haar tattoo, Ma.” Marieta trek haar aan die arm en draai haar om. “Kan ek nie vir my ook net so een hier bo my boudjies laat maak nie?” smeek sy. “Kyk net hoe mooi lyk dit. Ag, asseblief tog, Ma?”

“Oor my dooie liggaam!” sis haar ma.

“Ag toe, Ma, asseblief,” probeer Marieta weer.

“Gedra jou, Marieta!” roep haar ma vererg uit.

Herman kom met sy swemklere op die stoep aan. “Sjoe, jy lyk mooi, Bianca,” grinnik hy.

“Kom ons gooi haar in,” roep een van die neefs uit.

Die twee van hulle kom laggend op haar afgestorm. Net nie dit nie! Sy keer benoud. Sy moes die bandjies ‘n dubbele knoop gegee het. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Herman naderkom en probeer keer. Hy is te laat. Hulle kry haar aan die arms beet en swaai haar eers agtertoe. O toggie, sy trek deur die lug, ver die swembad in.

“Nee!” gil sy.

Die water spat om haar en is koel teen haar vel. Sy sak in die diep kant af. Waar’s haar bostuk! Sy vou haar arms om haar ronde borsies. O, aarde, wat nou?

Met ‘n gespartel kom sy op en breek die oppervlak. Sy teug die vars lug in.

“My bostuk!” roep sy benoud uit.

Daar, ‘n ent van haar dryf dit onder die water. Sy duik af, gryp dit en hou die twee stukkies lap oor haar borste. Toe sy weer opkom vir lug, staan die mans haar nog oopbek en aanstaar.

“Iemand, help asseblief met die toutjies.” roep sy benoud uit.

Hulle duik soos een man in. Herman is eerste by haar. Net daarna kom die oupa se kop bo die water uit. Hy hyg na sy asem en spoeg ‘n boog water uit.

Die ander neef begin haar toutjies agter vasknoop, maar Herman stoot hom weg. “Toemaar ek sal,” sê hy kortaf.

“Dankie.” Francisca maak die toutjie om haar nek ook vas.

“Kyk nou net wat het julle gedoen!” roep die ouma kwaad uit. “Julle het vir Oupa klere en al ingestamp. Waar is julle respek vir ‘n ou mens,” raas sy met die neefs. “A nee a, help hom gou uit. Die koue water is sleg vir sy asma.”

“Niemand het vir Oupa ingestamp nie, Ouma,” proes Marieta.

“Met die warmte wat Oupa gevoel het, kan geen man koue vat nie,” filosofeer die een neef en neem sy oupa kant toe. Herman se pa help hom uit.

Die ouma gee vir die oupa ‘n handdoek aan. “Kom ons gaan kry vir jou droë klere, my man,” sê sy besorg en kyk beskuldigend na Francisca.

“Herman, duik asseblief oupa se valstande op die bodem uit,” roep sy pa.

Herman kyk na sy oupa se slap mond en lag. “Kan jy nou meer,” sê hy en duik af. Hy bring die tande vir sy oupa na bo.

“Sjoe, dis goed Pa het onthou van die gehoorapparaat. Pa het baie amper ook klere en al ingeduik,” giggel Marieta.

“Marieta, gedra jou,” raas haar ma. “Gerhard, jy en jou pa is ewe stuitig. Netnou verbrand jy die vleis.”

Sy vee haar skoene af. “Kyk net hoe lyk my nuwe ontwerpersskoene!” kla sy.

“Dis seker van die golf water wat veroorsaak is deur die testosteroon,” grinnik die een neef.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s