Proestukkie: Seisoen van vergifnis

Seisoen van Vergifnis - Copy“Ja, Amanda, jy verstaan my reg.” Philip Benade se aantreklike gesig is strak; die oë wat gewoonlik so direk kyk, vermy nou hare. “Ek het jare gelede ‘n kortstondige verhouding gehad waarvan Linda steeds nie weet nie.”
Die oomblik wat sy al weke lank vrees, het dus nou aangebreek. Die paniek spoel in golwe oor haar. En saam met die paniek is daar die huiwerige vreugde, die vreugde wat sy net so min kan beheer as die vrees. Die kliënt het eindelik by die punt uitgekom, die ding waaroor sy terapeut dwarsdeur elke sessie sit en broei: Die ongelooflike, skrikwekkende en verregaande moontlikheid dat hy die pa kan wees waaroor sy al soveel jare in die geheim wroeg en wonder, die man wat haar by haar losbandige ma verwek het en toe aangestap het, met sy lewe voortgegaan het.
In die jakarandaboom voor haar venster gaan ‘n tortel ekstaties aan die koer. Amanda verskuif effens in die gemakstoel, konsentreer op haar asemhaling. Kalm bly, dis al wat sy moet doen. Verbete aanhou glimlag en nie die kliënt ontstel nie. Dit sal verby gaan, soos in die verlede.
Natuurlik weet sy voor haar siel dis nie ‘n hartaanval nie. ‘n Mens kry nie sommer net af en toe ‘n ligte hartaanvalletjie en hou geen blywende skade daarvan oor nie. Daarby weet elke Jan Rap en sy maat ‘n paniekaanval kan maklik met ‘n hartaanval verwar word. En sy is nie Jan Rap óf sy maat nie, sy is ‘n ervare sielkundige met indrukwekkende kwalifikasies. Kyk, daar hang haar ry sertifikate netjies in gelid teen die rustige roomkleurige muur. Almal geldig, almal met sweet en moeite en trane bekom.
Hartaanval of paniekaanval – albei is veronderstel om waarskuwings te wees. Die een toon daar is fout met jou hart, die ander toon daar is fout met jou lewe. Daar is nie fout met haar lewe óf met haar hart nie. Sy is dalk ‘n bietjie moeg, dalk ‘n bietjie alleen. Maar volkome in beheer van haar lewe. Presies soos sy dit verkies.
“Amanda, jy hoor nie ‘n woord wat ek sê nie.” Philip Benade se voet in die blink, bruin skoen wip-wip geïrriteerd in die ruimte bokant die los mat se rustige blompatroon. “Ek gaan maar liewer, ons tyd is tog amper verstreke.”
Vandag is die feit dat hulle mekaar ook buite die spreekkamer ken, nie noodwendig ‘n voordeel nie. Vandag wens sy hy het liewer nie die vrymoedigheid gehad om sy terapeut te kritiseer nie.

Leave a comment