Proestukkie: Miljoenêr van harte – Dina Botha

Miljoenêr van harte “Jy lyk besluiteloos.”

Sy draai om en Naudé staan haar geamuseerd en aankyk. Dadelik merk sy hoe  verskriklik netjies en saaklik hy in sy grys snyerspak lyk. Sy hemp is soos altyd kraakvars en vandag dra hy ’n rooi strepiesdas. Dra die man ooit informele klere?

“Môre en ja, ek kan nie besluit wat ek vandag wil doen nie.”

“Klaar verveeld in my hotel?” spot hy.

“Dis nie dit nie. Ek het net niks om te doen nie,” begin sy verduidelik.

“Wat van die wye reeks skoonheidsbehandelings wat in die hotel beskikbaar is? Het jy al een daarvan probeer?”

“Nee, nog nie.”

“Dit kan ek skaars glo. Die skoonheidsalon kan nie voorbly met al die besprekings nie. So dit moet uitstekend wees.”

Hy korswel net met haar, dink sy vreemd bly. Sy skud haar kop. “Laat my asseblief klaar praat. Dit was lekker om ’n paar dae net leeg te lê, maar ek is gewoond om dingetjies by die huis vir myself te doen. So af en toe in die winkels rond te loop, al koop ek niks nie. My kar self te was en sommer net die koerant oor ’n koppie Wimpy-koffie te sit en lees.” Sy beduie in die rondte. “Dit is lekker en alles, maar ek mis ’n regte lewe.”

“’n Regte lewe,” herhaal hy haar woorde. “Jy is ’n vreemde meisie. Ek dag alle vroue begeer ’n lewe van gemak en rykdom.”

Sy lag en sy besef dis die eerste keer dat sy dit spontaan in sy geselskap doen.  “Nie almal nie. Nie ek nie.”

Hy kyk haar nadenkend aan. “Ek wil iets voorstel en dalk verlig dit jou verveeldheid so effens. Ry saam met my na julle huis toe. Ek wou eers later gaan kyk het hoe die werk vorder, maar ons kan net so wel nou gaan.”

Haar moed sak effens en sy weet nie hoekom nie. “Jy klink haastig om die werk afgehandel te kry.”

“Ek is nogal. Ek kan nie vir ’n onbepaalde tyd hier bly nie.”

Natuurlik nie. Sodra hy op ’n vrou besluit het, sal hy haastig wees vir sy wittebrood in Griekeland.

“Wil jy saamry?” vra hy weer.

Sy knik. Eintlik wil sy ook weet hoe die werk vorder, want dit raak haar toekomsplanne, nes Naudé s’n.

“Kom ons gaan.” Haar lyf ruk toe Naudé haar onverwags aan die arm vat. “Hierdie kant toe. My motor is nie  ver nie.”

Dis die skielike gevoel wat sy kry dat iemand na haar kyk wat maak dat sy oor haar skouer kyk. Die ontvangsklerke kyk haar en Naudé nuuskierig agterna en sy is lus om te kreun. Groot flater wat sy gemaak het om so lank in die middel van die ontvangsarea met Naudé te staan en gesels. Almal kon hulle sien.  Sou  die klerke agter daardie toonbank ’n stophorlosie aanhou, en met hoeveel punte het haar telling gestyg? Maar die oomblik toe Naudé voor haar staan, het sy van al die ander mense om haar vergeet. Sy het ook vergeet dat hy eintlik ’n rokjagter is. Al troos is dat hy nie agter haar rok aan is nie. Toe Naudé die deur oophou en sy inklim, berou sy klaar haar besluit. Die rit in sy motor is net ’n verkwisting van haar tyd.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s