Proestukkie: Marietjie Welgens: Droomsmous

DroomsmousDie volgende dag, direk na ontbyt, skraap Toni haar dagbeplanner en ’n klompie skryfbenodigdhede bymekaar en loop na die konferensiekamer
waar haar eerste onderhoud met Derek plaasgevind het. Die plek is leeg – geen teken van Derek of Thomas nie en geen stoele nie, net tafels.
Sy besluit om haar tuis te maak op die een hoek van ’n tafel, en om verder te lees aan die spannende draaiboek, met een toon wat ’n los hoëhak sandaal ritmies op en af swaai, totdat iemand uiteindelik opdaag.
Iets kriewel aan die agterkant van Toni se nek. Sy voel agter aan haar hare, maar toe die gevoel haar bybly draai sy intuïtief haar kop in die rigting van die man wat haar doodbedaard staan en betrag. Sy vlieg orent sodat die boek van haar skoot afgly en op die vloer val. Verloor ook haar sandaal in die proses.
“Ek is jammer. Ek het jou nie gesien in kom nie,” stamel sy verward en gly van die tafelblad af. “Ek was so besig om die draaiboek te lees …” Met haar hande druk sy op die blad agter haar terwyl haar een gepunte voet soek na die verlore skoeisel.
Thomas rek sy treë om vinnig tot by haar te kom.
“Sit, ek kry jou skoen,” glimlag hy geamuseerd en druk met sy hand liggies teen haar skouer. Haar lam bene bied geen ander keuse nie en sy skuif gehoorsaam terug op die tafel. Net soos die prinses en die glas skoen, skiet dit deur haar brein toe hy voor haar hurk en haar enkel ferm met sy een hand vasvat. Terwyl hy die sandaal sorgvuldig onder haar voetsool deurskuif gly haar blik oor sy donker kop hier naby haar knie. Een van die aantreklikste mans in die wêreld is besig om vir haar ’n skoen aan te trek. Sy voel ’n ongenooide warm blos oor haar wange skuif. As haar voet kon bloos dan hét dit … tref die onsinnige gedagte haar. Sy skud haar kop ergerlik in ’n desperate poging om beheer oor haar lam ledemate terug te kry.
“Baie dankie,” sê sy beslis en glip van die tafel af. Sy buk om die draaiboek van die vloer af op te tel en op daardie moment kyk Thomas op vanuit sy hurkende posisie. Met haar gesig byna teen syne, vries sy. En hy ook.
Dan glimlag hy en kom moeiteloos orent. “Vir ’n sekonde daar het ek gedink jy wil my soen,” draal hy en hou sy hand na haar uit om haar op te trek. Toni ignoreer die aangebode hand en sit die draaiboek op die tafel neer. Met haar rug na hom gekeer hou sy haar besig met die oopmaak van haar dagbeplanner en die naderskraap van haar skryfbehoeftes, terwyl sy naarstiglik haar bloeddruk en hartklop onder beheer probeer kry. Sy durf nie toelaat dat hierdie man agterkom watter effek hy op haar het nie. Ten eerste is dit uiters kinderagtig en  ontwrigtend om elke keer soos ’n verliefde tiener aan die bloos te raak as sy in sy teenwoordigheid verkeer … om nie eens te praat van haar onbeholpe gestamel en gestotter asof sy nie Engels magtig is nie; en tweedens is haar optrede totaal onprofessioneel. Hy moet dink dat sy ’n volslae idioot is.

2 thoughts on “Proestukkie: Marietjie Welgens: Droomsmous

  1. Alma Carstens says:

    Ai Marietjie, ek hoop hierdie is ‘n klubboek, want ek wil dit baie graag lees. Ek hou van jou taalgebruik, dit lees lekker en maklik.

    • Marietjie Welgens says:

      Weereens nie ‘n klubboek nie. Jy sal apart moet koop. Maar baie dankie vir jou mooi woorde. Ek het lekker geskryf aan Droomsmous.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s