Proestukkie: Annetjie van Tonder: Man in ‘n raam

Man in 'n raamEn nou kry sy sowaar jelliebene oor hierdie man in die fotoraam. Sy oë, wat aan soethoutlekkers herinner, kyk broeiend vanonder welige donker wenkbroue na haar. Hy kon netsowel ’n hoofkarakter in ’n Hollywood film gewees het. Surene kan haar nogal voorstel hoe die res van hom moet lyk om by só ’n gesig te pas.

Michiel Bosch. Tronèl, haar woonstelmaat, het die foto by haar ouboet afgebedel nadat een van sy vele meisies hom afgesê het en dit weer vir hom teruggegee het. Nou pryk die foto hier waar ’n mens dit nie kan miskyk nie.

Surene loer weer na die sterk gesig in die raam. Sy mond lyk streng. Dit lyk nie of hy enige nonsies sal vat nie. Volgens Tronèl kan hy streng en beneuk wees, maar het tog ’n baie sagte hart.

Toe Surene by die buffet verby loop, tel sy die foto op en bestudeer elke gelaatstrek van naby. Dit sou maklik gewees het om haar vooroordele teenoor die manlike geslag te vergeet met só ’n man op die horison, maar op die oomblik is dit veiliger om op ’n foto verlief  te wees. Want dan kan hy nie haar hart breek soos pa Dirk met ma Emma gemaak het nie.

Surene staan in haar kamerdeur en spits haar ore. Die woonstel is so klein, sy kan net-net  hoor wat Tronèl en Michiel reken hulle in die sitkamer staan en fluister.

Toe klink Michiel se stem eensklaps harder en Surene hoor elke woord wat hy sê: “Wat? Nou wil jy hierdie maerderm in jou plek saamstuur! Genugtig, sus, jy laat my op nommer nege en negentig in die steek, net om saam met jou nuwe kêrel te gaan rondflenter.”

Surene probeer nie eens verder luister nie. Woede stu in haar op. Maerderm nogal. Dít moet hy nie gesê het nie. Niemand praat so van haar nie. Om die waarheid te sê, g’n man praat só van enige meisie nie.

So vinnig soos blits staan Surene by hulle in die sitkamer, strek haar in haar volle lengte uit en pen Michiel met haar oë vas. “Jy hoef nie die maerderm saam te vat nie. Ek gaan nie saam met jou nie, meneer Bosch. Nie nou nie, ook nooit in die toekoms nie.” Sy vryf oor haar arms. Al is dit somer, is die nog nagdonker oggend maar koel. Teleurstelling sit dik in haar keel. Dit is dan maar neusie verby met Golden Gate … en teen haar beterwete moet sy erken, sy het al baie daarna begin uitsien.

Verbasing gly oor sy gesig. En sowaar ’n rooi gloed ook. Woede of gewete? Hy weet nou natuurlik sy kon alles hoor. Vryf die sout deeglik in die wond, sê haar binneste en sy gehoorsaam dadelik: “Jy sal óf moet wag dat jou suster klaar pak, óf alleen moet gaan.”

Aan die streng blik wat hy op Tronèl rig, kan Surene aflei hy is gewoond om in beheer van situasies te wees. “Gaan pak jou goed, Trooi, ek gee jou vyftien minute.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s