Proestukkie: Elsa Winckler: Heldergeel dag

Heldergeel dagHenry swaai om strand toe. Daar is ’n geraas in sy ore, asof die branders om hom breek. Vrees vou ’n vuis om sy lugpyp en vir ’n oomblik wil hy naar word.

“Moet nou nie ontsteld word voor ons nie weet wie dit was nie,” paai Ian en trek Lana onder sy blad in.  “Henry, gaan jy vir ons uitvind …”

“Henry, wag,” sê Nick ook agter hom, maar Henry is reeds op pad deur die malende massa op die strandgebied. Angstigheid stu op in sy keel en hy moet sluk om nie  te skree nie. Wat de hel soek sy naby haaie? Het die vroumens dan geen verstand nie?

Hy loop met lang treë tussen die mense deur. Sy elmboë beur vir hom en pad oop en hier en daar kry hy ergerlike kyke, maar daaraan steun hy hom nie. Hy moet by haar uitkom sodat hy haar nek kan omdraai. Van alle belaglike goed …

“Henry?” vra ’n vrolike stem verbaas langs hom. Dis Ammi, Cara se vriendin.

Voor hy  kan keer, is albei sy hande om haar boarms. “Is sy oukei? Waar is sy? Wat het julle besiel om haaie te gaan opsoek? Ek kan nie glo …”

Sy woorde droog op. Ammi lag. Sy sê iets en beduie na agter hom, maar die gedruis in sy ore is nog oorweldigend en hy kan nie uitmaak wat sy sê nie. Hy swaai om en sy hart, wat  by sy lugpyp wou uitspring, val terug;  net om weer freneties te begin klop. Want daar tussen die mense kom Cara aangestap. En hy kan sweer James Blunt se song “You’re Beautiful” speel iewers kliphard oor ’n mikrofoon.

Sy is pragtig. Die bietjie suurstof wat nog in sy longe was, verdwyn. Alles rondom hom vervaag. Cara se bruingebrande, slanke lyf, baie effentjies bedek deur ’n bloedrooi einabikini, is vir ’n paar sekondes al wat by hom registreer.

Toe is sy reg voor hom, haar oë vraend, haar glimlag huiwerend. Hy vat aan haar arm. Sy is regtig hier. Sy makeer niks. Sy bloei nie. Met ’n swetswoord ruk hy haar nader en vou haar styf teen hom aan. Hy druk sy gesig in haar hare en met  ‘n paar diep teue trek hy haar geur in tot hy uiteindelik kalmer voel.

Cara beur terug. “Henry? Wat is dit?”

Maar hy kan nog nie praat nie. Visioene van haar lang bene in die haai se bek, haar bloed op die gedierte se tande, is nog grafies voor hom. Hy hou haar net stywer vas.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s