Proestukkie: Lam in wolfsklere

“Kan ons nou maar ophou?” Amie trek ‘n laaste swart streep met die dun kwassie. “My hele ou lyfie pyn.”

 Kobus verf soos ‘n demoon. “Komaan! Ek dag jy is Mejuffrou Fiksheid? Ek is nou superopgewonde en superopgesyche. Dit gaan ongelooflik lyk.”

 “Mejuffrou Fiksheid en die Nutsvrou is twee verskillende meisies.”

Amie rol die lelike oorpak se mou op om na haar horlosie te kyk. “Dit is al tien oor vier. Ek moet amper die briewe gaan afhaal. Plig voor plesier, jy …”

 ‘n Geritsel van koerantpapier gevolg deur die klap van die deur teen die muur ontneem Amie van haar woorde.

 “Wat de …?”

Kobus trek sy asem skerp in.

Amie sluk en laat val die kwas in die pot verf.

 In die deuropening staan ‘n lang donker man. Die son skyn van agter by die oop deur in en baai hom in ‘n onheilspellende glans. Het daar pas musiek begin speel? Beethoven sy Vyfde Simfonie? Die haartjies op Amie se voorarm staan prikkelrig orent en sy raak weer bewus van die vieslike oorpak.

“Wat de donner gaan hier aan?” bulder die indringer.

O hel. Is hulle in gevaar? En sy bekommer haar oor die onvleiende oopak!

 Sy hoor hoe Kobus begin hiperventileer, maar sy is nie gebore in staat om weg te kyk nie.

 “Kobus, ek vra, wat gaan hier aan?”

Die stilte wat op sy woorde volg, is tasbaar.

Uiteindelik kry Amie haar blik weggeskeur. Sy kyk om na Kobus. Hy het op drie trappies bokant die vloer verstar. Hierdie twee mense ken mekaar. Sy kan amper die spanning tussen hulle sien vibreer. Sou Kobus bang wees vir die indringer? Waarom? Is die Italiaanse Mafia aktief in Suid-Afrika? Dalk is Anthony regtig Antonio en nie bloot ‘n Boere-Italianer nie?

 Die lang man kom nader. Weg van die verblindende sonlig kan Amie sy gelaatstrekke uitmaak. Hy is so aantreklik, sy Romeinse neus en ferm mond gebeitel op sy blas gelaat. Amie waag om in sy oë te kyk. Dié is donker en koud. Hy sal nie skroom om haar en Kobus net hier van kant te maak nie.

 Sy moet iets doen!

 Iewers in haar agterkop registreer dit dat die man se pikswart pak aan sy lyf gegiet is. Sy wonder hoe dit sou voel om deur daardie sygladde hare wat donker in sy nek krul, te streel. Hierdie man is familie van ‘n Michel-Angelo beeld…

 “Dit was alles Amie!” gil Kobus iewers bokant haar kop.

Amie kyk verskrik om. Kobus pleit by haar met sy oë, maar sy het geen idee waarvan hy praat nie. Die man is nou so naby aan hulle dat sy hom kan ruik. Hy ruik nie na duur naskeermiddel nie, eerder na… man. Dit is hoe hy ruik. Soos ‘n man. Snap out of it, Amie! Sy ruk haar reg. Sy sal iets moet doen. Kobus kan later verduidelik.

 “Verskoon my tog, Menéér,” begin sy, asof haar woorde hom op sy spore kan terugstuur. “Mag ek vra waarom u enigsins in ons doen en late belangstel?” Selfs in haar eie ore klink haar stem kil. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Kobus verbaas na haar kyk.

 Die man glimlag skeef.

 Hemel, hy is aantreklik. Daardie effense stoppelbaard op sy vierkantige ken … Al Pacino was ook aantreklik in Scarface, Amie!

Maar hierdie vreemdeling is so stylvol. Sy sluk. Die slegte ouens in Mafia -flieks trek mos so deftig aan.

“Caro Marx. Aangenaam. Kobus se broer en die trustee van sy insolvente boedel.”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s