Proestukkie: Haar eie miljoenêr

Dianette rek haar treë om uit te vind wie in die swart motor sit, maar dan verloor haar bene hulle krag en sy gaan botstil staan.

Linde klim agter die stuur uit en kyk rustig om hom rond voordat hy sy motor met die beheerapparaat in sy hand sluit. Steeds weier haar bene om haar vorentoe of terug huis toe te dra. Sy het nie vergeet hy is so aantreklik nie. Die herinnering het net effens getaan, dink sy toe hy haar sien en in haar rigting stap. Hy steek sy hand uit en sy lig hare werktuiglik.

“Goeiemiddag, Dianette. Dit lyk of jy ’n spook gesien het.”

Sy skud haar verbasing af. “Ek het net nie verwag om jou ooit weer te sien nie.” Van die begin af moet sy dit duidelik maak dat hy nie hier welkom is nie. Sy frons. “Ek hoop nie daar is iets fout met my ma nie? Ek het gister nog met haar gepraat.”

Hy glimlag effens en sy wens hy wil sy sonbril afhaal. Sy glo mense se oë verklap baie meer as hul gesigsuitdrukkings. Toe besef sy hy hou steeds haar willose hand vas, en haar gesig word warm.

“Nee, Annette is piekfyn.”

“Laat ek dan raai: Jy was in die buurt en wou net oë wys?”

Die kepe langs sy mond as hy glimlag bly maar vir haar aantreklik, dink sy tog tot haar skande.

“Steeds nie op jou mond geval nie, sien ek.”

“Ek’s ’n geëmansipeerde meisie. Daar is geen rede hoekom ek nie my sê kan sê nie.” 

“Ek moet erken ek hou nogal van uitgesproke meisies.”

“Maar nie van my nie,” voltooi sy sy sin vir hom.

Sy glimlag word breër. “Dis nie wat ek wou sê nie. Jy lê woorde in my mond.”

Hierdie mondelinge skermutseling mors nou haar tyd. “Kom eerder tot die punt. Wat doen jy hier?”

 Linde haal sy donkerbril af, vou dit netjies op en druk dit in sy baadjiesak. “Moet ons dit buite bespreek?” Hy kyk by haar verby. “Wie is die vrou wat kort-kort deur haar venster loer?”

Sy hoef nie te kyk om te weet dis haar buurvrou, tannie Marie, nie. “Ek het nie nou tyd vir kuier nie. Ek moet die pandjieswinkel oopkry voor hulle sluit.”

 Linde se glimlag word met ’n frons vervang. “Pandjieswinkel? Wil jy iets verpand?”

Dit het sy nou van haar persoonlike sake sommer net uitblaker. Sy kyk na haar motortjie en hoop hy sien nie al die goed op die voorste sitplek raak nie. Sarkasme is ’n goeie teenoffensief, het sy lankal uitgevind. “Nee, ek wil sommer vir die pret soontoe ry. Jy sal my nou regtig moet verskoon.” Sy stap om haar motortjie, maar voordat sy haar deur kan oopmaak, rus sy hand op die deurhandvatsel. Hy buig sy nek om by die motor in te sien.

“Hoekom wil jy jou goed gaan verpand?”

Is dit te laat om hom iets van ekonomie te leer? Sy sug hardop. “Nie dat dit enigiets met jou uit te waai het nie, maar ek wil van die ou goed ontslae raak want ek het geld nodig. Daar is rekeninge wat betaal moet word. Ierma het nie haar teikens gemaak nie en haar kommissie is te min om haar deel van die huur te betaal. Daar weet jy nou alles. Tevrede? Kan ek maar gaan?”

Hy ignoreer haar openlike sarkasme. “En nou verpand jy jou goed omdat sý nie haar verpligtinge kan nakom nie?”

Die feit dat hy so omgekrap klink, verbaas haar glad nie. Ryk mense kan meedoënloos in hulle redenasie wees, en hoekom sal hy haar een-hand-was-die-ander-hand-filosofie verstaan?

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s