Proestukkie: Frenette van Wyk: Ek wil jou hê

Die Mercedes-man. Hy is sowaar terug. So gou. Haar hart begin vinniger klop.

“Hallo daar,” groet hy en wuif met die hand by die deur asof hulle jarelange vriende is.

Maar hulle albei weet tog van beter. Die spiere in Sugar se ledemate wil-wil in bondels begin saamtrek van spanning toe hy die werkswinkel die volgende oomblik summier ingestap kom.

“Ek het nie geweet jy werk ook hier nie?”

Haar oë gly terloops oor sy gestalte.

Eintlik pas ‘die Mercedes-man’ beskrywing hom glad nie, nie dat sy graad van arrogansie enigsins teen die klas van die voertuig afsteek nie. Ewe uitstekend. Daar is egter net iets meer ru, minder gepoleer omtrent hom as daardie gladafgewerkte, blink Mercedes, dink sy, terwyl sy hom met versluierde oë dophou. Nie dat hy slordig of onversorg voorkom nie. Inteendeel, hy is skoongeskeer, sy kuif blink soos ou-goud, sy klere getuig van goeie smaak al is dit baie informeel. Sy skouers span wyd en waterpas en onweerstaanbaar onder die loodblou hemp. En in elke beweging van sy sexy-smal heupe roer louter … verleiding.

“My pa is nog nie hier nie,” hoor sy haarself bo haar hart se oorverdowende getrommel  sê sonder om op sy vraag te antwoord.

Sy sal hom liewer nie weer Oom noem nie. Sy gesig is bruingebrand van die son en die plooitjies lê sigbaar oor sy voorkop, maar hy straal ’n viriliteit uit wat hom ver van oud af maak.

“Jy sal maar moet wag,” sê sy weer met die hoop om hom letterlik in sy spore te stuit. Sy strek oor die werksoppervlak en tel ’n yslike moersleutel op, waarom weet sy nie presies nie. Die man se skielike opwagting het haar heeltemal van koers af gegooi. Miskien wil sy hom wys sy is nie so onbevoeg soos hy reken nie, miskien wil sy hom bewus daarvan maak dat sy ’n regte mechanic en boonop ’n deskundige op haar gebied is, miskien wil sy hom ’n bietjie afskrik met die groot stuk gereedskap in haar hand. Sy maniere netnou daarbuite het immers aan dié van ’n buffel gegrens en …

“Ek sal wag, daarvan kan jy seker wees,” verseker hy haar toe hy tog ’n entjie van haar af tot stilstand kom. Sy oë gly nou op hulle beurt oor die blou oorpak wat sy aanhet.

Ja-nee, klas en styl ontbreek hom nie, ook nie ’n oormaat arrogansie nie. Sy voel sommer veiliger in die lospassende werksuniform wat haar teen sy blik beskerm. Want wat sy in sy oë lees, is ’n mengsel van geamuseerdheid, nuuskierigheid en sy weet nie wat nie, behalwe dat sy weet dit maak haar senuweeagtig. En dan is hy tog so vasberade om haar by haar pa te verkla oor die vervlakste stamp aan sy heilige karretjie waarin hy ook maar net-net pas.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s