Proestukkie: Dina Botha: Net een soen

Kyle se gesig voorspel niks goeds nie. Voor sy kan raai wat hy beplan, vat hy haar aan die arm en loop die voorportaal binne.

“Jy kan nie sommer …”

“Dis ongeskik om ’n gas net so op jou drumpel te los en nie in te nooi nie.”

Hy wil natuurlik meer van haar partytjie uitvind, flits dit deur haar gedagtes. Sy gaan hom beslis nie inlig nie en het in elk geval geen idee hoe hy daarop gaan reageer nie.

“Jy is nie ’n gas nie, want ek het jou nie genooi nie,” kap sy terug.

Sy stap na ’n koffietafeltjie en sit die geskenke neer. Terselfdertyd merk sy in die groot vergulde spieël, wat byna die helfte van die muur beslaan, haar voorkoms op. Die rooi skouerlose rok laat nie veel aan die verbeelding oor nie. Dis noupassend, streel elke vroulike ronding en eindig ’n hele paar sentimeter bokant haar knieë. Sy wou goed voel én lyk. Sy wou bewys dat daar tog ’n lewe ná ’n egskeiding is  – ’n sinvolle een.

In die spieël ontmoet hulle oë. Aspris laat hy sy oë sak om na haar bene te kyk. Die rooi rok voel skielik korter as wat dit in werklikheid is en sy vervies haar. Sy draai om, vasberade  om hom te verwilder, maar  sy kry nie kans nie.

“En wie is dit dié?” Suzanne Foster staan in die voordeur en stap vinnig nader.

Suzanne bekyk Kyle blatant aan. “Moenie vir my sê jy het ’n stripper gekry nie? Jou dark horse!” Sy steek haar hand uit en voel aan Kyle se boarm. “’n Spierpaleis, ek kan dit sommer voel. Het jy ’n spesifieke act wat jy doen? Met ’n fancy costume of so iets?”

“Dis nie wat jy dink nie. Kyle is nie ’n ontkleedanser nie,” probeer sy walgooi. Waar Suzanne boonop die idee kry dat sy wat Liselle is ooit iets so onsmaakliks sal oorweeg, sal sy nie weet nie.

“Kyle … ’n pragtige man met ’n pragtige naam.” Suzanne frons en Liselle kan sien hoe haar sy geheue rek om iets te onthou.

Haar glimlag versuur en vir die eerste keer wat sy Suzanne ken, lyk sy onseker. “Hy is nié ’n stripper nie, nè?”

“Nee.”

“Is dié Kyle dieselfde Kyle van wie jy ’n jaar gelede geskei is?”

“Einste.”

Susanne suig haar asem geskok in en hierdie keer is dit haar beurt om rooi te word. “Ek is so jammer. Ek met my groot mond.” Sy steek haar hand uit. “Suzanne Foster is die naam en ek is bly om jou te ontmoet.” Sy kyk vlugtig na Liselle,  dan weer na hom en skud vinnig haar ongemak af. “Ek het net nie gedink Liselle het genoeg moed om jou na haar egskeidingsherdenking te nooi nie. Ons almal het haar beslis onderskat.”

Kyle frons. Hy verstaan nie wat sy bedoel nie. “Haar wat?”

“Egskeidingsherdenking. Jy weet, iets soos ’n huweliksherdenkingspartytjie, maar net een om nog ’n jaar van geskeide lewe te vier?”

Kyle verbleek en sy sensuele lippe trek in ’n stywe wit lyn toe hy na Liselle kyk. Dít het hy nie verwag nie. “Jy vier die een jaar wat ons geskei is  met ’n partytjie?” sis hy dit uit.

“Wel, ja. Ek het jou gewaarsku dis nie ’n goeie tyd vir ’n besoek nie.”  Sy probeer ongeërg klink, maar faal skromelik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s