Proestukkie: Marilé Cloete: Haar grootste geskenk

“Hou op karring, Klara, en kom help liewer hier. Waar’s die vervlakste hond nou?” Bernice tuur deur die tralies na die donker tuin. Pleks sy ‘n flits gebring het, maar dan kan dit weer die aandag van ‘n terloopse verbyganger trek. Of nog erger – die aandag van die polisie as hulle dalk netmooi verby ry op patrollie. In die vangwa wil sy regtig nie eindig nie, sy moet maar met die paar flou sterretjies en die straatligte regkom en hoop sy breek nie ‘n been of iets ergers nie.

Van die hond is daar nou geen spoor of geluid nie. Het seker besluit dis slaaptyd – om oor ‘n uur of twee weer volstoom te begin huil. Soos laasnag. En die nag voor laasnag.

“Siewie, siewie, siewie!” roep Klara gedemp, duidelik dik van die lag.

Arsenal steek met entoesiastiese tjankgeluidjies sy neus deur die tralies, swaai sy stert asof  hy iets wonderliks verwag. Arsenal lyk altyd of hy iets wonderliks verwag, hy is die grootste optimis wat Bernice nog ooit gesien het. En die getrouste vriend wat sy nog ooit gehad het. Dis nou buiten Klara.

“As ons net geweet het wat die brak se naam is,” sug Bernice. Hoe moet sy met haar kort beentjies oor hierdie heining kom? Sy loer vinnig op en af in die straat. Doodstil. Dit gaan darem nie té moeilik wees nie – die tralies is bo-op die oorspronklike  tuinmuurtjie aangebring. Wat dit eintlik verspot maklik maak vir boosdoeners om steeds in te kom.

Maar dis toe nie so maklik nie. Haar bene is eenvoudig te kort. “Help!” O genade, nou kan sy nie kan oor nie – en sy kan ook nie af nie. En die skerp punte bedreig weerlose dele van haar anatomie. “Gee my jou hand, Klara!” Die tweede gilletjie is ook nie meer so vreeslik sag nie.

Die ellendige Klara vou dubbel van die lag. Bernice besluit sy was verkeerd, Arsenal is ‘n veel beter vriend as wat enige mens kan wees. Kyk hoe mooi probeer hy nou help, staan eintlik regop teen die heining en druk sy snoet met klein tjankies teen haar been.

In haar oomblik van paniek vergeet Bernice tydelik van die eintlike doel van hierdie missie. Dit het belangriker geword om uit haar ongemaklike posisie te kom. Die gevolg is dat sy haar uit haar nate skrik toe die basset meteens uit die donker opdoem en reg onder haar begin blaf. En het hy nie ‘n stewige stem in daardie fris borskas nie.

“Eina!” Sy voel hoe iets skeur, toe tuimel sy half bo-oor die verbaasde hond na onder. Dis net haar judo-kennis wat voorkom dat sy ordentlik seerkry. Om te val is vir haar geen probleem nie. Hoewel dit gewoonlik op ‘n ordentlike mat is en nie tussen die struike in ‘n onbekende man se tuin nie.

Meteens is haar gesig téén die hartseer oë en lekkende tong van die basset. Sy hóú nie van bassets nie, hulle is vir haar lelik met hulle huil-ogies en groteske ore en ongemaklike krom bene. Maar klaarblyklik hou hy besonder baie van haar. Of dalk is hy so dankbaar vir ‘n bietjie aksie dat hy nie omgee wie die afleiding verskaf nie. Want die tong kom haar deeglik by op ‘n paar plekke waar sy nie bygekom wil wees nie.

Klara hou aan die tralies vas soos sy lag. “Is jy oukei, vriendin?” kry sy dit darem naderhand uit.

Bernice staan versigtig op, strek haar ledemate een vir een. Dankie tog, dit was net haar pajamabroek wat geskeur het, nie ‘n spier van enige aard nie. Haar geliefde pajamabroek met die beertjies op. Sy sal dit op die rekening sit. Die man moenie dink sy gaan sy hond verniet losies gee nie. “Gee die leiband, Klara, en staan reg om hom aan te vat.”

Die arme basset is so bly oor die geselskap dat hy nie weet watter kant toe nie. Dan is hy onder haar voete, dan is hy by Arsenal teen die tralieheining. Dit gee ‘n yslike gesukkel af om in die swak lig die leiband aan sy halsband gehaak te kry. “Komaan, honne, komaan,” koer Bernice skynheilig. “Jy gaan lekker bly by ons, jy sal sien. Staan nou mooi stil dat ounooi jou band kan vaskry.”

Eindelik is hy vas – nou vir die volgende stap.  Wat ook nie so maklik is nie, want die hond hardloop nou in opgewonde kringe, dink seker daar gaan gestap word. Nie dat sy al die nuwe buurman met die arme dier sien stap het nie. Eintlik het sy die nuwe buurman nog met geen oog gesien nie. Van haar kant af toon net die gordyne of hy daar is of nie. Eindelik kry sy darem die swaaiende halsband beet. “Hierso, Klara, vat solank die punt vas. Dan lig ek hom vir jou oor.”

“Kom nou, honne, kom nou …” As die dier net nie so ‘n ongemaklike lyf gehad het nie. Hoe vat ‘n mens hom? Hy’s te groot om soos ‘n troetelhondjie in jou arms op te lig, maar so plat op die aarde dat dit vervlaks ver is wat hy gelig moet word. Dit behoort te werk met haar arms onder die lang lyf deur. Sy wil tog nie die man se hond seermaak nie, netnou is sy  die een wat met die rekening sit. Maar hy glip soos ‘n stukkie seep van haar arms af, lek alles aan haar wat alreeds natgelek is, nog ‘n bietjie natter.  Daar’s net een genade – sy kry hom stewig beet, een arm voor om die borskas, ander arm agter om die boude. “Kom nou, honne, kom nou …”

Dit kos al haar krag om hom omhoog te lig. En hy hou nie van die greep wat sy gekies het nie. Hy hou ook nie daarvan om van vaste grond af gelig te word nie. Hy wriemel verskrik en sy tjankies word by die oomblik harder en meer paniekerig.  En hy is flippen swaar vir so ‘n plat hond. “Vat aan, Klara, ek kan nie hou nie!” Dis nie die eerste keer dat sy haar gebrek aan lengte verwens nie. As die ellendige Klara liewer wou oorklim met haar twee lang bokkie-bene, was hulle nou lankal veilig by die huis en fluks oppad bed toe.

Dis met die finale opligslag dat dit gebeur. Die hond raak paniekerig.  En hy doen wat bang honde doen: Hy byt. Presies waar die mou van haar baadjie in die gesukkel met die brak opgeskuif het. “O, help!” Met bomenslike krag gooi Bernice hom amper oor die skerp tralies tot in Klara se arms. “Die blerrie ding het my gebyt!”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s