Proestukkie: Chanette Paul: Nan & Jeannie

“Wonder wat onse Gideon gaan sê as hy uitvind Nan het ’n affair aan met die leier van daardie kursus.” Sue draai haar glas om en om en gee ’n befoeterde kyk na die No Smoking-bordjie teen die veranda se muur.

“Wát?” vra Jeannie.

Jo skud haar kop. “Ag, Sue is laf. Nan het ons net op Facebook gemessage dat hulle op haar verjaardag saam gaan uiteet het en af en toe saam koffie drink.”

Jeannie wens sy was nie so tegnologieverskrik nie. Op haar ouderdom is sy sekerlik veronderstel om alles van sosiale netwerke te weet, maar voor sy met die susters deurmekaar geraak het, het sy nie juis belanggestel nie omdat sy in elk geval nie vriende gehad het nie. En nadat die susters onomwonde verklaar het die internet is die werk van die Antichris, was dit vir haar ook taboe. Buitendien, sy pes internetkafees. Dis so ironies dat Nan en die res hierdie soort goed voor haar baasgeraak het. Miskien gaan dit beter as sy eendag ’n BlackBerry het pleks van Jo se hand-me-down nadat Jeannie haar foon verloor het.

“En?” dring Sue aan.

“En hy het haar glo die naweek Blarney toe gevat om die Blarney Stone te soen.”

“Wat is die Blarney Stone?” frons Jeannie.

“’n Klip in die Blarney-kasteel. Volgens ’n legende raak mens welsprekend as jy die klip soen,” verduidelik Sue. “En hulle het in Blarney oorgeslaap. Dis nou behalwe dat sy uit die Inn getrek het en ’n kothuis vir die volgende twee maande gehuur en vir nog ’n kursus ingeskryf het. En haar boodskappe is deurspek met O’Reilly dit en Seamus dat. Jy kan nie so dom wees nie, Jo. Glo my, die Blarney Stone is nie al wat gesoen is nie. En om te dink ék is die blonde in die familie.”

Jeannie sit verdwaas terug in haar stoel. “Maar as Nan met ’n Ier deurmekaar raak … Sy sal mos nooit weer terugkom nie?”

“Nan is mooi groot, Doringrosie, en dis haar lewe. As sy gelukkig is, moet ons haar dit gun.” Sue vul hulle glase aan, al is nie een s’n leeg nie. Wanneer sy nie kan rook nie, ontaard Sue in die rusteloosste wese denkbaar.

“Maar sy kan mos nie nog affairs en goed hê nie? Sy is ses en vyftig!” protesteer Jeannie.

“En hoekom nie? Sy is maar tien jaar ouer as ek en dis geen geheim dat ek vir die res van my lewe nog soveel as moontlik seks wil hê nie.”

Seks? Jeannie het nog nie eens sover gedink nie. “Maar Nan haat mans!” Jeannie voel skielik na aan trane. Sy het grootgeword met die besef dat Sue seksueel baie aktief is. En sy kon vrede daarmee maak dat Jo en Saul saamslaap, solank sy nie enige bewyse daarvan sien of hoor nie. Maar Nan kan nie seks hê nie. Dis ondenkbaar. Nie Nan nie.

“So het ons gedink, maar het dit vir jou dalk gelyk asof sy Gideon haat? Het jy nie gesien hoe hulle vir mekaar kyk as hulle dink niemand sien hulle nie?” Sue grinnik. “Laat ek jou vertel, as Gideon net ’n bietjie meer die moed van sy oortuiging gehad het, is Nan dalk nooit oorsee nie. En nou is dit sy loss as die Ier hom voorgespring het.”

Natuurlik was sy bewus daarvan dat Gideon en Nan aanklank bymekaar vind, maar wat Sue nou insinueer, is heiligskennis. Die prentjie van Gideon en Nan in ʼn krakende bed is verby ondenkbaar. Jeannie spring op en hardloop kleedkamer toe. Sy maak die toilet net betyds.

“Sien jy nou wat jy aangevang het,” hoor sy Jo deur die oop venster bokant haar kop sê. “Jy weet sy beskou Gideon as verhewe bo gewone sterflinge. En jy weet wat gebeur wanneer sy ontsteld is.”

“Dis tyd dat Jeannie grootword, Jo. Dink sy Saul en Monique is die gevolg van immaculate conception? Of dat dit die enigste twee kere is wat Gideon sy vrou gepiets het? Ek sal my kop op ’n blok sit ou Gideon is ’n bok vir sports in die bed. Het jy gesien hoe gespierd is daai buns van hom nog? En dit op sestig. Daai boudspiere het gewerk, sê ek jou. Ek dink wyle Esther, bless her soul, het les opgesê.”

“Sue!” Jo se magtelose laggie ondermyn die teregwysing.

“En ek dink Nan …”

Jeannie druk haar ore toe. Sy wil niks, maar niks, meer hoor nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s