Proestukkie: Verlore jare

Nakita blaf opgewonde en spring teen die voordeur op. Isabella frons en maak die deur versigtig oop.  Die hond skiet by haar verby na buite.

Juan sit op die rand van die stoepie met sy kop in sy hande. Hy kyk om toe hy haar gewaar en staan tydsaam op om die trappies na die stoep op te klim.

“Ek weet jy wil my nie sien nie, Bella.” Hy skud sy kop en vee sy vingers deur die donker, deurmekaar gewaaide hare. “Ek kon nie wegbly nie,” sê hy sag en beweeg nader aan haar waar sy steeds versteen in die deuropening staan.

“Bella, …” sug hy toe sy net roerloos na hom bly kyk. “Hoekom het jy teruggekom Witskuimstrand toe?”

“Om te skryf,” antwoord sy toonloos.

“Jy kan dit mos op enige plek doen. Hoekom hier? Na soveel jaar …”

Sy trek haar skouers op. Liewer dom speel sodat Juan nie agter die waarheid kom nie. Met haar hele hart wens sy dat Zac besluit het om die vakansie eerder op ’n ander plek te gaan werk en hulle mekaar sonder Juan se teenwoordigheid kon leer ken. Met hom hier, en boonop so gereeld op haar drumpel, pla haar gewete haar meer as ooit oor haar verraad.

“Onthou jy nog ons laaste vakansie hier?” vra hy meteens en Isabella kyk vinnig weg oor die see wat donkergroen vertoon in die helder sonskyn. Hoe kan sy dit ooit vergeet?

“Dit was lank gelede, Juan.”

“Dit voel soos gister, ons was so gelukkig. Onthou jy die dag toe …”

“Moenie, Juan. Asseblief,” pleit sy hees toe die herinneringe haar opnuut pynig, veral nou met hom so naby aan haar.

Hy vat haar aan die skouers en dwing haar oë in syne. “Ek wil hê jy moet onthou, Bella. Ek onthou alles en ek weet jy onthou ook. Ek weet jy onthou hoe jy gevoel het.”

“Wat maak dit saak hoe ons gevoel het? Dit het nie gewerk nie, Juan! Ons was te jonk om te besef wat liefde is. Ons was kinders.  Jy was pas agtien.”  Sy sluk en wil haar oë van syne wegskeur, maar hy hou haar blik soos ’n magneet gevange.  “En ek was maar net sestien jaar oud.”

“Ek was oud genoeg om te weet wat ek voel,” sê hy skor terwyl ’n spiertjie in sy wang spring.

“Ek nie! Jy het my gebruik, soos ’n goedkoop meisie behandel,” breek die woorde oor haar lippe en haar hart krimp ineen toe sy die seer in sy oë sien. Sy weet dis nie die waarheid nie, maar sy moet hom kry om van haar af weg te gaan en die verlede met rus te laat voordat hy die waarheid uitvis.

Hy skud sy kop. “Nee, Bella. Dit was nie hoe …”

“Jy was ouer en moes van beter geweet het as om my weerloosheid uit te buit, Juan. Ek het jou vertrou,” hou sy aan. “Jy het seker vir almal gaan vertel hoe Juan Brynard, die groot rugbyheld, sy meisie ingebreek het!”

Sy oë vernou en die skok op sy gelaat ontgaan haar nie. “Bella, is dit wat jy dink?”

Haar woorde maak seer, sy kan dit sien. Dit voel asof sy besig is om haar eie hart aan stukkies te kap, maar sy kan nie ingee nie. Sy moet Juan van haar af wegstuur. “Ek het jou nie liefgehad nie, Juan. Wat ek in my brief geskryf het, is die waarheid, of jy my glo of nie. Gaan asseblief weg en moet my nie weer pla nie.”

Sy draai weg om by die deur in te gaan, maar hy kry haar aan haar die bo-arm beet en swaai haar ru terug na hom toe,  sy oë blitsend. “Ons is nie meer kinders nie, Isabella!  Hou op om vir my te lieg!” sis hy met sy gesig sentimeters van hare af.

Verskrik staar sy  in sy oë waarin woede soos rooiwarm kole brand. “Los my uit en vergeet van die verlede,” krys sy die woorde hees uit. “Ék het lankal,” forseer sy ’n laaste leuen oor haar lippe.

Sy oë vernou toe sy mond in ’n dun, wit lyn saamtrek. “Nou goed, ek sal loop, Isabella. Ek ken jou in elk geval nie meer nie. Die Bella wat ek onthou sou nooit só opgetree het nie.” Hy sluk en los haar arm.  “Dis dan vir altyd verby,” sê hy sag toe hy van haar af wegdraai en met geboë skouers deur die veldpaadjie tussen die rotse langs na die strand toe afstap.

Isabella se trane breek deur en loop teen haar wange af. Sy kyk hom agterna totdat hy uit haar sig verdwyn. Toe gaan sy by die kothuisie in en druk die deur styf agter haar toe. Die pyn van haar verlore liefde sny opnuut deur haar, hierdie keer met meer felheid as ooit.

2 thoughts on “Proestukkie: Verlore jare

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s