Proestukkie: Sterre vir ewig

“O, maar jy ruik vreeslik lekker.” Die volgende oomblik druk hy sy gesig in haar nek en snuif hard soos ‘n hond aan haar.

Geskok staan sy vir ‘n sekonde stil. Is die outjie nou skoon laf? Clarissa gee vinnig pad van hom af, en maak of niks gebeur het nie. Sy sien eers vir Erwee  toe sy by die trappe kom en hy besig is om met syne afgestap te kom. Daar is al  weer ‘n grinnik op sy bakkies. Hy het natuurlik die hele gedoente gesien. Hy kom vinnig nader en kom staan naby haar.

“Wil jy hê ek moet die mannetjie se rooi hakskene ‘n skop gee?” fluister hy met ‘n lag in sy stem.

“Moenie simpel wees om met die seun te wil baklei nie, Erwee. Dis sommer tienergroeisels.” Sy fluister ook, bang Pieter hoor haar.

“Ek wil nie met hom baklei nie.”

“Nou wat dan?”

“Dit,” sê hy en sy arms gly om haar lyf. Hy trek  haar styf teen hom aan. Nog voordat sy kan asem skep om te reageer, kom sy lippe vol op hare neer. Hy vroetel met sy een hand in haar kort hare, en streel met die ander een oor haar rug.

 Dit kriewel lekker oral deur haar lyf, en oorheers ‘n oomblik lank haar gesonde denke, maar dan druk sy hard met haar hande teen sy bors. Sy arms is soos klampe om haar, en haar pogings lei tot niks. Hy beweeg sy mond strelend teen haar wang langs na haar oor toe.

“Staan stil. Sjame, jy moet die arme mannetjie se gesig sien. So rooi soos ‘n kalkoen en nou spit hy dat jy net sien graspolle waai. Hy sal jou nou uitlos. Dit was maar al, Clarissa. Ek wou jou net help.” Hy lag sag, tergend.

Hy los haar en stap met lang hale motorhuis toe.

“Die mense kom later die ruit insit,” roep hy oor sy skouer.

 Hy ry by haar verby, steeds met die grinnik op sy gesig en waai vir haar. Clarissa loer net vinnig na Pieter, maar dié staar die motor agterna en begin weer verwoed te spit. Sy vlug haastig die huis binne.

Vir wat moes Erwee dit nou gedoen het. Hy het net ou sluimerende emosies in haar oopgeruk, terwyl hy bloot vir Pieter daarmee wou laat verstaan  hy is ‘n snuiter wat sy plek moet ken. 

“Dêmmit. Hy kan mos nie doen net wat hy wil nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s