Proestukkie: Allesbehalwe

“Goeie donner, kyk daai kar!” Met daardie swets verloor hy skynbaar alle belangstelling in die hand wat sy uithou om te groet, fluit tussen sy tande deur en loop rondom haar kar. “Waar kry jy hierdie beauty?” Corneli laat sak haar hand. Ongeskikte, onopgevoede watsenaam! Soos alle ander mans is sy aandag onmiddellik vasgevang deur haar motor en vervaag sy tot ver in die agtergrond. Tipies.

“Van my oupa geërf,” antwoord sy onwillig.

“Blikskottel, jou oupa was seker skatryk. ’n Morgan uit die vyftigerjare skop ’n ou nie agter elke bos uit nie. Hulle kos megabucks en is so skaars soos hoendertande. Magtig, dis mooi.” Hy streel eerbiedig oor die motortjie se neus.

Terwyl hy haar kar bewonder, bekyk sy hom. Nardus de Waal. Daardie naam onthou sy maar alte goed. Die adonisboer by Mara se kantoor. Maar hierdie verskynsel lyk allesbehalwe soos die goedversorgde man wat sy onthou.

Wat de duiwel het die vent aan? Verbaas kyk sy af na sy vuil voete in ’n paar vellies wat lyk asof hy deur dik modder daarmee gestap het. Skoon verstom beweeg haar oë stadig boontoe. Daardie twee gespierde bene wat laas sy jeans so mooi gevul het, loer nou onder ’n eina-kort rugbybroekie, wat beslis al beter dae gesien het, uit. Les bes is sy breë skouers in ’n te klein T-hemp, waarvan die moue uitgeskeur is, ingewurg om twee sterk arms ten toon te stel. Genadiglik sien sy geen tatoeëermerke nie.

Kon sy, wat Corneli is, haar so lelik misgis het met die man wat sy by Kritzingers gesien het? Die dag daar by Mara se kantoor was hy heelwaarskynlik uitgevat vir die stad. Hierdie is seker sy alledaagse drag. Dalk sy werksklere? Is hy Mara se tuinier? Miskien verduidelik dit die modderbesmeerde skoene.

Stadig kyk sy op, maar kry onmiddellik spyt. Haar oë skarrel so vinnig moontlik weer weg voor ’n uitdagende paar blou kykers wat lyk asof dit dwarsdeur haar kan sien. Hy het ooglopend nou klaar haar ryding bewonder. Al sy aandag is beslis nou weer by haar.

“Nardus de Waal.” Hy kom weer nader om te groet.

“Corneli Lange,” antwoord sy en skud sy hand vlugtig. Dis beslis ’n eelt of twee wat sy met die kortstondige aanraking daar in sy handpalm voel. Werkershande. Vies maak sy asof sy steeds die stof van haar probeer afskud en vee onwillekeurig haar hand aan haar langbroek af. As sy hande so vuil is as sy paar vellies …

“Meneer de Waal is ons … e … gas vir die volgende drie maande. Hy is mevrou Kritzinger se kleinseun,” kom die butler nou tussenbeide. Met ’n uitdrukkinglose gesig, maar afkeer alte duidelik te lees in sy hele liggaamshouding, tel hy die grootste twee van haar tasse op en draai na die voordeur se kant toe.

Wat? Hierdie is die Kritzinger erfgenaam? Liewe hemel, was Mara se vermoedens oor haar enigste kleinkind in die kol?

“En jy is seker die mooie gesellin wat my dierbare Ouma vir my aangeskaf het,” draal die man met sy hand op die hond met die geelbruin oë se kop. “Sy vertel my jy gaan my oral heen vergesel.” Die laaste woord word suggestief uitgerek.

Corneli stik behoorlik van verontwaardiging. Die moedswillige stemtoon en gesigsuitdrukking impliseer ’n heel ander soort gesellin as wat Mara Kritzinger in gedagte gehad het.

“Metgesel, geselskapsdame …” probeer sy hom teregwys, maar genade tog, dit klink ál erger. Hoekom het sy en Mara nie daaraan gedink om vir haar ’n soort titel uit te dink nie? Persoonlike assistent? Nee, te persoonlik. Goewernante? Te outyds.’n Au pair vir ’n uitgegroeide man in sy vroeë dertigs? Behoede haar!

Met ’n gefrustreerde grom draai sy weg van sy grynsende bakkies af, gryp haar smuktassie en handsak saam met die viool en storm teen die trappe uit. “Sosiale sekretaresse,” kry sy ’n briljante ingewing toe sy die boonste trap bereik. Hoekom het sy nie lankal daaraan gedink nie? “Ek is aangestel as jou sosiale sekretaresse vir solank as wat jy hier in Kaapstad is.”

’n Vrolike lag wat die man met die bofbalpet agter haar byna dubbeld laat vou en die hond opgewonde teen hom laat opspring, dra haar by die oop voordeur in. Onopgevoede skarminkel. Sy ouma was sowaar reg. Corneli verwerdig haar nie weer om in sy rigting te kyk nie. Genadiglik is dit slegs sy uittartende gelag wat haar die huis in volg en nie die man self nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s