Onderhoud: Bets Smith

Bets Smith is een van ons staatmaker bloggers, wat ons gereeld laat rol van die lag met haar spitsvondigheid. Luister ‘n bietjie wat sy oor haarself te sê het:

Waarvoor is jy allergies?

 Hoë, skril stemme gee my die wilde weghol. Ek kan dit glad nie hanteer nie.

 Lys drie eienaardighede wat jy het:

  1. My kinders noem my ‘n control freak. In outydse terme is ek seker ‘n wysneus? Of is dit ‘n busybody? Of bekdrywer? Of almal saam. Dis dalk hoekom ek skryf: daar is ek in beheer (meestal!)
  2. Ek leer ook maklik iemand se manier-van-sê en woordeskat aan, veral as daardie persoon interessant en dinamies is: ‘n halfuur in so iemand se geselskap, dan begin ek ook so praat.
  3. Bogenoemde 2 is eintlik al ‘n dosyn!

 KINDERDAE:

Wat is jou vroegste herinnering:

My eerste herinnering is een van algehele geborgenheid, maar my gunsteling herinnering is van my ma wat slaaptyd vir my gedigte voorlees (soos Amakeia en Mabalel wat gunstelinge geword het toe ek kon praat en self vra). Ook my pa wat stories vertel het van klein Duimpie wat hy self uitgedink het.

Waar en by wie het jy die meeste geleer?

By Pa en Ma.

INVLOEDE:

Grootste prestasie:

Dat ek ‘n man gekry het soos Pieter. Ek het hom nie gesoek nie, hy was sommer net eendag daar. Dis ook my grootste genade en die insident wat die grootste invloed op my lewe gehad het. Wat van my sou geword het sonder hom, weet ek nie.

 OORTUIGINGS:

Wat is jou basiese lewensingesteldheid?

Ek glo ek is ‘n realis. Vir ander mag ek lyk na ‘n pessimis: ek glo as ek die moontlike negatiewe voorsien, sal dit nie ‘n skok wees nie. Tog sien ek ook dadelik die humor en elke situasie raak (en buit dit uit!)

 Dink jy mense is basies goed of basies sleg?

Ek dink mense is basies eienaardig. En bygelowig. En geneig om hulself om die bos te lei. Hulle glo hulle is basies goed en as hulle iets wat sleg is, doen, was dit die duiwel wat hulle verlei het. Ek meen, ai, wie probeer jy oortuig? Jy het oortree, vat jou slae soos ‘n man.

VERHOUDINGS MET ANDER:

Is jy geneig om met mense te argumenteer of vermy jy konflik?

Ek sal enigiets doen om konflik te vermy. Ek vlieg selfs op en gaan maak tee as die karakters in ‘n sitkom of fliek begin argumenteer! Ek kan politieke debatte GLAD nie hanteer nie.

 Druk jy jouself goed uit?

Tussen vriende en wanneer ek ontspanne is, wel. Gespanne? Dan knoop my tong soms. Maar wanneer ek gaan sit om iets neer te skryf, sukkel ek nie regtig nie.

Lag jy baie? Wat is vir jou snaaks?

Ek lag baie, en kan vir buitestaanders dalk ligsinnig voorkom, maar dit skeel my min. Mense is skreeusnaaks (wanneer hulle nie wreed is nie). Katte ook. Katte is net onskuldiger.

 SELFBEELD:

Het jy ‘n vaste roetine? Hoe voel jy daaroor as jy onderbreek word?

Uit die aard van my onderwysberoep het ek ‘n vaste roetine, maar bo-en-behalwe sit, is ek oor die algemeen ‘n groef-mens. Ek HOU van my groef en wil nie daaruit gedwing word nie. Ek is skoon ontsteld as iemand bodder aan my groef. Maar as iemand my roetine onderbreek, is dit nie doodsake nie, eerder ‘n lekker verrassing.

 Wat is jou beste karaktertrek? En jou swakste?

My beste een: Ek is vriendelik. My swakste een: Ek is TE vriendelik: niks en niemand is ooit bang of skrikkerig vir my nie, nie eens die skaamste of stoute Gr 8 leerling nie. Al wat ‘n bedelaar is, loop my storm, karwagte, verkopers van goeters – noem maar enigiets, en hulle sien my as ‘n sagte teiken.

 Waar sien jy jouself oor vyf jaar? En oor 10 jaar? Oor 20 jaar?

Besig om te probeer oorleef tot ek aftree. Oor 10 – hopelik afgetree. Oor 20 – Hopelik in die hemel: Ek gaan nie so lank hier op aarde oorleef nie, nie na 30 jaar in die onderwys nie.

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s