Proestukkie: Chanette Paul: Jo & Sue

Hierdie maand op die rakke!! Dit is ‘n MOET vir jou inkooplysie.

Sue stoei met die waenhuis se slot, maar Jo probeer nie eens hand bysit nie. Sue is iemand wat dinge self wil doen. Nan staan ook net met haar tekkie se punt en tik op die kweek. Hulle ken almal mekaar se geite.

Uiteindelik pluk Sue die slot af en ruk die deure oop.

“O, fok.” Sue se hande klem om haar kop en die skraal vingers krul diep in haar hare vas.

Van waar sy is, kan Jo nie uitmaak wat in die skemer staan nie.

“Wat?” vra Jeannie.

Sue draai om, haar gesig ’n studie van verkneukeling. “Dis pienk. Verskriklik pienk.”

Jeannie hardloop nader, haar blommetjiesrok fladderend om haar enkels. Hoe sy met daardie dun enkels een voet voor die ander kan sit in die afgryslike Docs waarop sy laas jaar in een van Jo se opgaarbokse afgekom het, sal g’n mens weet nie. Lyk soos ’n polioslagoffer. Jo wil nie eens daaraan dink dat sy waarskynlik self ook so gelyk het toe die Docs nog hare was nie. Dit was die tyd wat Nan “Jo se Rebellie” noem. ’n Tyd waaraan Jo nie graag dink nie.

Jo stap teësinnig nader. Sue lieg sekerlik. “Pienk?” vra sy nietemin.

“Ek háát pienk.” Sue begin magteloos lag.

“Watse kar ís dit? Dis myle lank. En check die vlerke!” Jeannie verdwyn in die waenhuis in.

“Jy kla oor ’n pienk kar, het jy die kleure van die huis gesien?” roep Nan wat ook nader stap.

“Kan enigiemand dit miskyk?” Jo kom tot stilstand by die stertkant van die motor. Dis inderdaad pienk, inderdaad myle lank, het inderdaad vlerke. “’n Landyacht. Dis wat die Amerikaners dit noem.”

“Eldorado,” lees Jeannie die effens geroeste letters wat hulle nou almal kan sien. “Dit lyk soos iets uit ’n Elvis-fliek. Soos daai in Nanna se videoversameling. Net ’n grosser weergawe.”

Sue stap na die voorkant toe en buig oor die embleem op die neus. “Cadillac.” Sy bars van voor af uit van die lag. “’n Pienk 1959-Cadillac Eldorado. Kan jy dit nou oorvertel. Ek dag Hannetjie het gesê Casper was vervelig?”

“En ’n convertible boonop.” Jeannie streel oor die seilkap. “Vat ons vir ’n spin, Sue. Ag toe?”

Sue kyk oor Jeannie se kop na Jo. Selfs Sue sien klaarblyklik dat sy nog in ’n toestand van skok is. Jo probeer haar gesigsuitdrukking neutraal hou, maar sy weet sy bluf Sue nie. Sy kan haar self skop dat sy so tussen alles deur tog effens optimisties begin raak het. In hoopvoller oomblikke gedroom het van ’n huisie by die see waar hulle dalk almal saam kan kuier oor naweke en vakansies. En vir Jeannie ’n bietjie kan wegkry van die twee susters met hulle lang name en verdagte invloed. Dit kom nou van droom.

“Netnou, Jeannie,” besluit Sue, al brand sy seker ook om haar erfporsie uit te toets. “Kom ons gaan kyk eers hoe lyk jou ma se vreeslike turkoois kasarm van binne. Dan vat ons ’n spin in my verskriklike pienk skip en gaan kyk ons sommer watse kleur winkel Nan geërf het.”

“Goeie plan.” Nan slaan haar arm om Jo se skouers. “Kom ons gaan kyk waar Casper, die spook al die jare van sy nageslag weggekruip het.”

Jo knik, maar bly staan. Sue en Jeannie ook.

Jo kan dieselfde vraag tussen hulle hoor vibreer al vra nie een dit weer hardop nie: Waarom ons laat erf? Waarom ons nou erken as bloed van jou bloed, Casper Calitz? Ná jou dood eers. En dan sulke vreemde erfporsies boonop?

“Wow,” ruk Sue haar terug na die werklikheid net toe die son agter ’n verdwaalde wolk uitkom.

Jo kyk vinnig na Sue en dan waarna sy met ’n allesomvattende gebaar beduie. Nie net na die skokkende huis nie, maar ook na die seeagtergrond. Na die geheelprentjie, hier van die hoër punt af waar die waenhuis staan. Die huis is nie minder van ’n kasarm as met die eerste aanblik nie, nie minder verwaarloos, nie minder verspot geverf nie, maar van hier af lyk dit behoorlik soos ’n Middeleeuse ark wat aan die soom van die oseaan gestrand het. Ark? Nee, Sue is reg. Dit lyk soos ’n bordeel uit enige eeu.

 

3 thoughts on “Proestukkie: Chanette Paul: Jo & Sue

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s