Proestukkie: Dina Botha: Vrypostige Aussie

Dina vertel ons ietsie oor haar nuwe boek:

Die idee om my held n Aussie te maak het tydens die Drie Nasie rugby wedstryd en kort voor die Wêreldbeker  ontstaan. Dink net hoe onversoenbaar is  ’n Australier en ’n Suid-Afrikaanse nooientjie is  – veral tydens ’n rugby wedstryd waar patriotisme en lojaliteit hooggety vier.  My heldin, Sanré Strassen, leer dat Liefde hom nie laat voorskryf nie, nie eens deur nasionaliteite nie.

Hier’s die proestukkie:

___________________________________________

“Ek wou net weet hoe jy voel. Jy mis mos nie sommer ’n drienasierugbywedstryd nie.”

Sy swaai haar bene van die bed af. “Wie het gewen, Pa?”

“Die Aussies, en hulle het ons nie juis gespaar nie.”

Haar hart sink in haar skoene. “Waar is Aiden?”

“In die kombuis. Hy gaan met aandete begin.”

“O,” sê sy flouerig. “Ek moet hom seker gaan help. Wag, ek stap sommer saam.”

Ten spyte van alle argumente wat sy met haar self gevoer het, is daardie fladdering op haar maag terug. Gaan daar altyd so   ’n afwagting in haar binneste wees as sy weet sy gaan hom sien?

Terwyl sy in die gang afstap, kan sy Aiden in die kombuis hoor praat en uitbundig hoor lag. Sou daar nog iemand wees? Hy staan met sy rug na die deur, sy foon teen sy oor. Dis nie dat sy afluister nie, sy het ’n reg om in die kombuis te wees, dink sy terwyl sy na hom luister.

“Dit was ’n fantastiese wedstryd. Die voorspelers was soos ’n rots en die agterlyn het lanklaas so goed gespeel.”

Die vreemde opgewondenheid in haar binneste verander stadig in antagonisme.

“Nee, ons was nou maar net eenmaal te sterk vir die Bokke. Nou moet ons hulle net in die Wêreldbeker klop. Soos hulle vandag gespeel het, behoort dit nie veel van ’n probleem te wees nie.”

Ongekende patriotisme skiet deur haar.  As sy  ’n antwoord op alles gesoek het, dan het sy dit so pas gekry, dink sy toe sy omswaai en na haar kamer toe terugmarsjeer. Haar oupa is heeltemal reg. Australiërs is grootpraterig, bombasties en vol van hulle self. Sy het al die bewyse reg voor haar neus dat  ’n verhouding tussen haar en Aiden Smith nooit sal kan werk nie. Hy is ’n Australiër en sy ’n Suid-Afrikaner. Hy sal altyd die opponent wees, altyd een van die ander span wees. Dit geld op alle sosiale vlakke. Skielik is sy bly dat sy betyds tot haar sinne gekom het. Gelukkig weet Aiden nie van haar momentele dwaling nie. Al wat sy nou moet doen, is seker maak dat, wat sy ook al voel, so gou moontlik verander. Sy was die afgelope tyd met haar pa se siekte baie kwesbaar en, in ag genome dat sy lanklaas in die geselskap van ’n aantreklike man was, is dit net natuurlik dat sy aangetrokke tot hom sal voel. Dis maklik om … die pad byster te raak.

Sy sak op haar bed neer – skielik moeg en teleurgesteld. Die pyn in die omgewing van haar hart is diep en intens. Sy wens sy kan dadelik teruggaan huis toe. Wat sy nodig het, is haar oupa en haar tante en alles wat haar herinner aan wie sy regtig is. Koelkop, gefokus en met ’n helder visie van haar toekoms. Nie die meisie met die vreemde verwarring in haar binneste nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s