Proestukkie: Jacolette van den Berg: Tanie se sprokie

Tani se kop ruk op toe sy die beweging oorkant haar gewaar. Die man wat nader gestap kom is alles behalwe ʼn gryskop oom. Inteendeel …

Haar oë bly vasgenael op die elegante, manlike figuur. Hy het ʼn eenvoudige donker baadjie en broek aan wat styl en geld tegelykertyd uitskree. Sy bewegings is selfversekerd en vloeiend, die tipe grasie waarvan sy net kan droom. Die donker hare is kort en netjies, maar tog volgens die jongste mode met ʼn effe deurmekaar kuif. Onwillekeurig gly haar hande teen haar sye af om ʼn paar onsigbare plooie uit haar rok te stryk.

Hulle oë ontmoet oor die kort afstand en sy trek haar asem liggies in. Die intelligente, ysblou oë wat haar blik vir ʼn oomblik gevange hou is geïnteresseerd en ondersoekend, maar nie dié van ʼn nuuskierige wat haar aanstaar nie.

Sy bly verstar staan en dit is net die warm klopping van haar hart wat haar herinner daar is nog lewe in haar lyf.

Haar linkerbrein spook om vrylik uiting te gee aan die emosie wat sy ervaar en sy moet die gevoel met mening onderdruk. Genade, die man se voorkoms inspireer haar om te skep. Een vlugtige waarneming met haar kunstenaarsoog, is genoeg om die simmetriese egalige gelaatstrekke in te neem en die perfeksie waarmee hierdie man geskape is, te waardeer.

Toe hy voor hulle tot stilstand kom, sien sy hy is langer as wat sy gedink het en sy moet haar bedwing of sy steek haar hand uit en trek die hoekige lyn tussen sy prominente wangbeen en ken met haar vinger na.

Hy maak sy keel liggies skoon en die geluid bring haar terug na die werklikheid. Haar wange verkleur toe sy besef sy staar steeds na hom en sy laat sak haar oë vinnig, maar die sterk lyn van sy nek wat deur die oopgeknoopte kraag beklemtoon word, betower haar van voor af en sy lig haar oë vinnig na sy gesig. Die man dink seker sy probeer hom met haar oë uittrek.

“Aangename kennis. Jy is Katania?” Sy woorde dring tot haar deur en dwing haar terug na die hede. Dit klink eerder soos ʼn stelling as ʼn vraag en haar oë draai vinnig, hulpsoekend na Marcel wat woordeloos langs haar staan en hulle dophou.

Hy hou sy hand na haar toe uit en sy sluk toe sy haar hand in syne sit. Die kontras van haar bleek vel teen die donker van syne val haar op. ʼn Skewe, en sy wil haar verbeel ook bewonderende glimlaggie pluk aan sy mondhoeke en haar hart struikel ʼn oomblik tot stilstand.

“Ek … ek is ongelukkig Tani Kirstein,” stotter sy hees en sy skrik vir haar eie woorde. “Verskoon my asseblief.” Sy sien vlugtig die ongelowige kyk in Marcel se oë en haal haar skouers liggies, verskonend op. Dit is niks minder as selfbehoud nie en beslis nie ʼn leuen nie. Sy het nie ontken sy is Katania nie, sy het net gesê wie sy werklik is.

Hy hou haar hand nog ʼn oomblik voor hy dit los. Daar is vrae in sy oë, maar die uitdrukking op sy gesig is steeds beleef en die glimlag wat nou aan albei sy mondhoeke pluk is verskonend.

“Jammer, ek het aangeneem … Ek was oorhaastig, vergewe my,” sê hy en sy verstom haar aan die man se perfek gemoduleerde stem. Dit is egalig, maar diep en sy wens sy kan bly staan om te luister.

One thought on “Proestukkie: Jacolette van den Berg: Tanie se sprokie

  1. Bets Smith says:

    Jacolet, my ma het haar klubboeke gekry en sommer klaar gelees ook. Haar kommentaar was “‘n alte mooi storie wat lekker lees. Niks wild nie”. Sy lees normaalweg redelik krities, en gee nie regtig om vir gewaagde tonele nie, maar van ‘wildgeit’ hou sy niks (ek ook nie)! Ek kan nie wag om die boek Desember by haar te kry en self te lees nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s