Proestukkie: Kristel Loots: Eendagmooi

Maar dit lyk nie asof die boodskap tot hom wil deurdring nie. In elk geval nie sonder dat sy hart en nog ’n paar van sy ander organe in die slag wil bly nie.

“Wel, dan moet jou hart maar gaan staan en klaarkry, Fanus. Want ek maak nie grappies nie. Daar’s ’n baba op pad.”

Hy lyk dadelik weer asof ’n klip hom teen die kop getref het. “Hemel vrou, is jy seker? Hoe wéét jy?”

“Daar is sekere tekens, jy weet?” Sy probeer nie eens meer die sarkasme uit haar stem hou nie.

“Ja, ja, ek weet, natuurlik weet ek, dêmmit, Janeke. Moenie met my praat asof ek ’n idioot is nie. Ons hét mos al hierdie paadjie gestap, meer as een keer om die waarheid te sê. Juis daarom behoort ons teen hierdie tyd van beter te weet.” Hy gluur haar aan. “Ek sal nooit vergeet hoe jou ma my met haar besem wou bykom toe ons jare gelede met swangerskapstories by haar gaan draai het nie.”

“Soos ek dit onthou, wou sy jou nie met haar besem bykom nie, sy wou jou kaalhand vermoor.” Janeke draai na hom. “Maar dit was ’n leeftyd gelede en ons was nie getroud nie. Wat anders het jy verwag? Nou is alles mos anders. Kan jy nie maar ’n bietjie bly lyk nie?”

“Bly lyk?” Hy grom soos ’n leeu wat met die verkeerde poot agter ’n doringbos opgestaan het. “Bly wees waaroor? Nou? Op hierdie stadium van ons lewens?”

Janeke voel die trane agter haar ooglede brand, maar trane laat nie Fanus Fourie se hart smelt nie. Sy sal iets anders moet doen om by sy hart uit te kom, ás daar nog iets soos ’n hart in daardie borskas van hom te vinde is. Want sowaar . . . so kan hulle nie hierdie lewetjie in haar verwelkom nie. Arme kind! Sy sal met haar koppie onderstebo gebore word en nooit die wêreld in die oë kan kyk nie.

“Dis ’n dogtertjie,” sê sy. “Ek weet sommer.”

“Moenie laf wees nie, Janeke. Dis nie vir jou moontlik om dít nou al te weet nie.”

“Nee, natuurlik nie. Maar dis asof ek haar voor my geestesoog kan sien. Sy’t blonde haartjies. Krullerig, soos joune.”

“Asseblief, Janeke, dis nie nou die tyd om sentimenteel te raak nie.”

“Natuurlik is dit. As ’n mens nie sentimenteel kan raak oor ’n  baba wat jy verwag nie, wanneer dan? Dis tog die grootste wonder . . . ”

Fanus hou sy hande afwerend voor hom. “Janeke, asseblief. Hou net op met jou praatjies oor ’n baba en die duiwel weet wat alles. Sê nou vir my helder en duidelik en sonder enige liegstories. Is jy swanger of is jy nie?”

“Ek is swanger, Fanus.” Sy sê dit afgemete.

“Hoe kan jy so seker wees?”

“Ek het ’n swangerskaptoets gedoen.”

“Met die goed wat ’n mens by die apteek koop?”

“Ja. Behalwe dat ek myne sommer by die kafee gekoop het. Hulle hou dit deesdae agter die toonbank aan. Tussen die klein pakkies disprins en die blikkies Vicks.” Hoekom sy dit alles vir hom vertel, weet sy nie. Sy weet net sy wil nie hê hy moet so bars met haar praat nie. Nie nou nie. Nie terwyl sy hom van die baba vertel nie.

Hy kyk na haar soos na iemand wat nog baie het om te leer. “Sommer dieselfde tyd toe jy brood en melk gaan haal het?”

“En eiers.”

“Dan, my liewe vrou, sal ek my nie te veel aan daardie uitslag steur nie. Ek twyfel of dit die mees betroubare en wetenskaplik bewyse toets is wat daar bestaan.” Hy’t duidelik sy ekwilibrium herwin. “Buitendien weet ek nie hoe so iets moontlik sou kon wees nie. Die blomme en die bye ten spyt.”

 

3 thoughts on “Proestukkie: Kristel Loots: Eendagmooi

  1. ameliastrydom says:

    Ek het gister hierdie boek gekoop en dit in een sitting in Seattle Coffee Company sit en verslind (met ‘n choc chip koekie en ‘n groot hazelnut cappuccino om my geselskap te hou). Ek het hardop gelag, stil-stil ‘n paar trane afgevee, en gevoel of ek ‘n vriendin tussen die buiteblaaie ontmoet het. Dankie, Kristel, vir ‘n wonderlike leeservaring. Ek dink dis jou mees aangrypende verhaal nog.

  2. Bets Smith says:

    Ek vermoed hierdie is ‘n man wie se keel afgesny moet word. Sal moet lees en sien of dit op ‘n moord uitloop.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s