Proestukkie: Frenette van Wyk: Stukkie goud

Die godheid wat in die oggendson op haar afgestap kom, gryp haar vas in sy betowerende mag. …

Die boek wat sy nog diep onder haar sitplek wou indruk, val uit haar skoot en land op die grond. Sy vergeet wat sy nog wil sê toe die aantreklike godheid sowaar hier voor haar voete kom kniel om dit op te tel.

Byna eerbiedig fladder haar oë oor sy digte bos swart hare en breë skouers. Die blaaie van die boek warrel vinnig deur sy vingers. Hy bekyk die voorblad net vir ’n oomblik. Toe kyk hy op, reguit en diep in Cameo se oë.

Selfbewus tree sy terug tot teen die bakkie. Haar verbleikte denim en T-hemp is heeltemal gepas vir die tuinwerk wat sy doen, maar sy voel skielik soos ’n vaal veldmuis onder sy blik, veral in vergelyking met die beeldskone heldin op die voorblad van die boek, nog in sy hand.

Al haar selfbewuste gedagtes word egter in ’n lugleegte opgeslurp toe sy gesig in ’n glimlag verhelder en sy tande wit en egalig blink. Sy kan absoluut geen fout met sy voorkoms vind nie.

“Jy kan tog nie in ’n storiewêreld wil rondkuier en dink die werk gaan vanself gedoen word nie,” berispe hy haar in dieselfde meesleurende stemtoon as die een op die selfoon. Sy oë glinster uitdagend terwyl hy weer orentkom.

Sy staal haar teen sy charisma. Hy is net ’n gewone mens!

“’n Goeie storie is soms meer werd as die geld wat ’n vrou met ’n werk verdien. Daar is ’n stukkie goud in elke verhaal,” antwoord sy.

Sonder huiwering sê sy Tadi en die span nou aan om solank die toerusting af te laai.

“Sê my eers, is die stories nie maar almal dieselfde nie? As jy een gelees het, het jy almal gelees. Hierdie heldin is net ’n herhaling van al haar voorgangers. Raak dit nie vervelig nie?” vra die godheid en gee die boek terug in haar hande.

 “Sê eers of Tadi en die ander met die werk kan begin,” sê sy en glip die boek terug deur die oopgedraaide ruit in die bakkie. “Toe, Jim, vat solank die grassnyer en gaan vra daar by die huis vir ’n muurprop,” beveel sy sommer self een van die werkers. “Die dagloners moet hulle geld verdien en die tyd staan nie stil nie,” sê sy.

Die foutlose man voor haar se wenkbroulyne trek in ’n frons saam. Hy is oënskynlik ontevrede dat sy die opdragte uitdeel, maar sy vraag so ontwyk.

“Behalwe natuurlik in stories. Daar leef almal vir ewig en altyd,” voeg sy by om hom te paai. “’n Naamlose leser word skielik ’n heldin, en dis alles die held se liefde wat daarvoor verantwoordelik is. En dít kan nooit vervelig raak nie,” voeg sy met uitdruklike smaak by.

“En wie is die naamlose heldin wat nou hier voor my staan?” wil hy half spottend weet.

Net vir ’n oomblik aarsel sy.

Hy is dalk nie alwetend nie, maar as hy die koerante tot onlangs toe gelees het, sal Cameo van der Linde dalk net die verkeerde klokkie lui. Sy gaan haarself nie nou blootstel as gevolg van haar pa se skandes nie. Sy het ’n reg om haarself te beskerm en haar ware identiteit nie te verraai nie.

“Ek is Venus,” vlieg die naam oor haar lippe.

One thought on “Proestukkie: Frenette van Wyk: Stukkie goud

  1. Annatjie Kleingeld says:

    Hi Frenette, ek het al 4 van jou boeke gelees, kan nie wag om ‘n Stukkie Goud te lees nie. Sou graag die ander wou bekom, maar verneem hulle is uit druk. Ek geniet jou gemaklike skryfstyl, en die boeiende verhale, dis aangename leesgenot. Hoop daar gaan nog baie meer kom….. x

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s