Proestukkie: Cecilia Nortjé: Instaanmeisie

Sy vertel hom hoe ‘n mooi nuwe dag dit is en dat die saailinge wat sy die vorige naweek in die pottuintjie op die woonstelbalkon geplant het, gister begin blom het.

Maar vanoggend laat die eenrigting gesprek haar frustrasievlak styg. Hoor hy haar ooit, of maak sy haar belaglik?

Sy vat sy hand en druk haar lippe teen sy oop palm.

“Jo … maak oop jou oë … asseblief?”

‘n Vreemde dringendheid in haar maak dat sy op die kant van die bed gaan sit en sy vingers een vir een oopvou. Sy sit sy hand teen haar wang en laat sy oop hand oor haar gesig gly.

“Dis ek, Jo – Lané,” fluister sy. “Onthou jy my?”

Hoendervel slaan oor haar uit terwyl sy sy hand oor haar gesig beweeg. Sy blaas haar warm asem oor sy palm, asof sy lewe in hom wil inblaas. Haar hele lyf is lam en haar hart gaan teen ‘n mal spoed tekere toe sy sy hand teen haar nek opstoot en in haar hare druk.

“Voel my hare … onthou jy hoe lank was dit?” Haar stem klink skor in haar ore. “Ek het dit afgesny. Ek hoop jy hou daarvan … Jo …?”

Haar hart trap twee keer uit pas, want die vingers onder haar hand het vanself beweeg. Geskok ruk sy haar hand weg. In die kort oomblik voor sy hand op die bed neerplof, voel sy hoe hy tevergeefs ‘n greep om haar nek probeer kry. ‘n Diep sug vibreer deur sy bors en hy draai sy kop moeisaam in haar rigting.

“Lané … liefie … waar’s jou  … ring?”

Toe is daar skielik weer niks, net die roerlose gestalte wat voor haar lê.

Olivia staar verlam na hom. Het dit regtig gebeur? Het Jo met haar gepraat? En wat is dit van ‘n ring?

“En nou – as jy so sit?”

Sy vlieg met wydgesperde oë op toe suster Nel skielik in die deuropening praat.

“Hy’t gepraat …” sê sy verdwaas. “Jo het met my gepraat.”

Die suster kyk ongelowig na haar. “Wanneer?”

“Nou net … ek … hy …” Sy staan op en wys dom na hom.

Die suster stap nader en vat haar ferm aan haar skouers. “Is jy seker?”

Olivia skud haar kop heftig op en af. “Doodseker.”

Sy laat haar so vinnig los dat Olivia amper haar balans verloor. Verdwaas sien sy hoe die vrou die noodklokkie druk voor sy die monitors haastig begin nagaan.

Binne sekondes staan ‘n verpleegster in die deur.

“Bel dokter Engelbrecht,” beveel die suster kortaf. “En meneer Roos se ouers.”

“Wat is … ”

Die suster vlieg om en gluur die verpleegster aan. “Watter deel van die opdrag verstaan jy nie, Pelser?”

By die aanhoor van die Roose se van skrik Olivia haar nugter. Sy kan nie hier wees as hulle kom nie! Sonder om oor die wysheid daarvan te besin glip sy stil-stil uit die kamer.

Toe sy buite kom, begin sy hardloop. Haar bors brand naderhand so erg dat sy haar pas teen wil en dank moet verslap. Deurentyd maal net een gedagte deur haar kop: sy moet vir Lané bel. Sy moet terugkom – onmiddellik!

4 thoughts on “Proestukkie: Cecilia Nortjé: Instaanmeisie

  1. Bets Smith says:

    Cecilia, ek het dit nog nie gelees nie, maar my ma het haar klubboeke gekry en het my vanaand gesê dis “twee alte mooi stories, niks wild nie”! Sy is ‘n kritiese leser en normaalweg nie vreeslik gepla oor gewaagde tonele nie, maar daar was onlangs twee klubboeke wat haar vreeslik afgesit het. Gelukkig het sy my nie gesê wie s’n dit was nie!

  2. Bets Smith says:

    Dit klink na ‘n heerlike storie. Kan nie wag om hom te lees nie. Ek hoop dis ‘n klubboek, dan kry ek hom anywag. So nie koop ek hom sodra ek weer in Pta kom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s