Proestukkie: Seisoen van genade

Sy weet nie waar die mens vandaan gekom het nie. Die een oomblik was dit nog net Bolandse skoonheid deur die motorruit; die volgende oomblik vul die gesperde oë en die mond wat klankloos uitroep haar hele wese met verskrikking. Daarmee saam die dowwe slag en toe die stilte. Die vreeslike stilte.

            Natuurlik gaan sy nie aan die gil en gooi die motor om van skok nie. Nee, dis nie die soort mens wat sy is nie. Sy bring haar motor tot stilstand, tru tot naby die hopie mens in die pad en klim met ferm bewegings uit. Die paar treë na die stil figuur neem ‘n klein ewigheid. Êrens in die suisende stilte hoor sy ‘n hond veraf blaf. Sy buk stadig soos ‘n oumens, soek   met haar vingers na die nekslagaar, sluk aan die walging wat saam met die reuk van goedkoop wyn haar oë laat traan en haar hande laat ruk.

            Daar is geen pols nie. Sy wat ‘n halfuur gelede in die pas vir een belaglike oomblik sit en oorweeg het om haar eie lewe te beëindig, het pas dié van ‘n medemens geneem.

            “Juffroutjie, is jy orraait?” Sy skrik haar asem uit haar lyf vir die besorgde stem, die vreemde arm wat om haar skouers geslaan word. “Die blerrie mense is ‘n gevaar op die pad – natuurlik smoordronk hier op die heilige Sondagmôre. Moenie worry nie, die polisie sal jou nie veel moeilikheid gee nie – almal weet ‘n mens in ‘n kar het nie ‘n kans as een van hulle voor jou inloop nie.”

            Sy draai haar onder die arm uit, slaan haar arms beskermend om haar eie lyf. Die man is groot en joviaal en sy verbeel haar sy duur kar staan en wieg nog soos hy remme aangeslaan het om nie ook die bondeltjie in die teerpad te tref nie. “Sy is dood,” sê sy.

            “Ja, shame,” sê die man, selfoon in die hand. “Ek bel gou vir jou die polisie.”

            “Dis nie nodig nie, ek sal dit self doen. Reguleer jy net die verkeer, dat iemand nie nog ‘n keer oor haar ry nie.” Haar stem klink sterk en kalm, soos haar pa haar geleer het.

            “Ek gaan nie in die middel van die pad staan en arms swaai en dit vir ‘n fokken dronk m … vrou nie. Dis in elk geval ‘n stil pad, hier’s nooit swaar verkeer nie.” Die man loop kwaad terug na sy motor en gaan plak ‘n rooi driehoek ‘n ent agter die liggaam neer.

            “Ek het ‘n vrou doodgery,” sê Karla vir die persoon wat haar oproep beantwoord.

            “Was sy dronk?” vra die anonieme verteenwoordiger van die gereg onbewoë.

            “Ja, sy was dronk.” Haar kop begin draai, sy verbeel haar daar’s spikkeltjies voor haar oë. “Maar sy is nog steeds dood.” Sy gee die aanduidings so goed soos sy kan, haar motor se registrasienommer, haar naam soos ‘n terloopse gedagte agterna.

            Toe gaan klim sy in haar motor, sluit die deure en SMS vir Mariaan: Biki teenspoed gekry. Begin kook solank, ek gan laat ws. Die barmhartige Samaritaan klop aan haar ruit, beduie vererg dat sy moet oopmaak. Sy draai haar rug op hom, sy kan sonder sy selfgenoegsame hulp klaarkom.  

Maar sy ruk toe haar foon lui, kyk outomaties na die skermpie. Chris, van alle mense. Die laaste persoon met wie sy nou wil praat. Ignoreer die gelui tot dit weggaan. Maar getrou aan sy aard gaan Chris Steyn nie weg nie. Hy bel eenvoudig weer toe haar antwoorddiens aangaan. En weer en weer. Haar vinger is al op die knoppie om die foon af te skakel, toe sy die toneel in die mooi huis onder die ou eik meteens helder voor haar oë sien: Marius Jansen, indrukwekkend selfs in sy rystoel, met die sagtheid wat sy liefde vir sy dwars vrou oor hom gebring het. Hy sal bekommerd wees. Sy geliefde dwars vrou sal aanvanklik vererg wees, en dan ook besorg. Opreg besorg. Emily, met haar hand voor haar mond en haar oë verskrik soos dié van die mens net voor die motor haar getref het. En Chris, waarskynlik ongeduldig aan die heen en weer loop terwyl hy bel en weer bel en weer bel.

            Nee, sy kan dit nie aan hulle doen nie. Dit sal doodgewoon ongeskik wees.

            “Hallo,” fluister sy toe hy die derde keer bel. “Hallo,” probeer sy weer ‘n bietjie harder.

            “My liewe hel, K-Karel, vir wat antwoord jy nie jou foon nie?”

            Hoekom hakkel hy altyd op haar naam? Dit maak haar senuweeagtig. ‘n Mens weet nie of jy die man moet jammer kry of bewonder nie. “Ek het ‘n vrou doodgery.” En as jy ook net vra of sy dronk was, skryf ek jou finaal af, voeg sy in haar binneste by.

             Maar hy vra nie of die vrou dronk was nie, ook nie of Karla te vinnig gery het nie. Hy vra net waar sy is. En sê toe eenvoudig: “Ek kom.” Sonder om te hakkel.

             Sy moet seker geëerd voel. Waarskynlik die mooiste man in die ganse Boland is oppad om haar te kom red. Net jammer sy is nie die soort vrou wat in elke krisissituasie wag op ‘n man om haar te red nie.

            Dalk moet sy maar vandag ‘n uitsondering maak.

2 thoughts on “Proestukkie: Seisoen van genade

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s