Proestukkie: Kolkende emosies

“Jy is ontsteld, Walda. Ek kan dit sien. Glo my, ek wou jou nie gesoen het nie. Aan die ander kant, ek het nog nooit ‘n meisie gesoen sonder dat sy gesoen wou wees nie, en jy was gewillig, was jy nie, Waldatjie?” Sy stem het hees geword en sy arms gly weer om haar, die keer met ‘n stewiger greep.

            Sy woorde laat die warm gloed vererger. Natuurlik het hy agtergekom dat sy vir daardie kort rukkie sy soen en aanraking sou verwelkom het, eintlik gesmag het na nog meer.

            “Jy… jy verbeel jou dinge,” kry sy dit gesmoord uit net voor sy lippe vurig oor hare sluit, en dan wil sy nie meer dink nie. Sy stoot haar gedagtes opsy om sodoende ook vir die oomblik haar skuldgevoelens teenoor Lerina te ignoreer. Haar mond kelk oop onder syne en die soetheid van sy tongpunt raak hare aan. Haar arms vou om sy nek en sy druk haar styf teen hom vas, soen hom terug met net soveel drif as wat sy syne ontvang. Dis eers toe sy voel hoe sy hande op haar rug onder haar bloes inkruip, sy warm vingers sensasiewekkende strepe oor haar kaal vel trek dat sy met ‘n snak van hom af padgee en terugstaan. Haar asem jaag en sy weet sy moet in die toekoms nie weer so na aan Ben kom nie. Eendag is eendag en dan gaan sy nie die moed en sterkte hê om betyds van hom af pad te gee nie, en wie sê sy sal daarna met haar kan saamleef? Dit is tog bloot begeerte van sy kant af. Vir hom bestaan sy gevoelens van destyds nie, en hoe gaan sy vir Lerina in die oë kan kyk?

            “Jy matig jou dinge aan, Ben, omdat jy dink dat ek nog verlief  op jou is. Wel, jy is verkeerd. Ek het aanbeweeg met my lewe en jy het jou Lerina in joune. Moenie dat ek my respek vir jou verloor nie. Net omdat die maan ‘n romantiese omgewing skep en jy jou verbeel jy dinge in my oë sien wat nie bestaan nie, gee jou nie die reg om dit te doen wat jy so pas gedoen het nie.” Sy is skaamkwaad en daarom val sy hom heftig aan. “Niks het verander nie, Ben. Ons is net vennote. Sorg net dat so iets nie weer gebeur nie anders sal jy vir jou iewers ‘n ander vennoot moet soek.  Nag, Ben.”

 Sy naggroet kom saam met ‘n geamuseerde laggie agter haar aangesweef asof hy nie ‘n woord glo van wat sy pas gesê het nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s