Proestukkie: Waar liefde lê

“En toe soen hy my. Ek is nog aan die baklei met hom en toe buk hy af en soen my, sommer net daar in die parkeergarage!” roep Lana uit.

Haar ma en haar vriendinne sug gesamentlik.

“Ag, waar is my dae …”

“Daar was nie sulke mans toe ek jonk was nie.”

“Ai, dis so romanties.”

“Nou wie is die man?” vra haar ma. “Ken ons hom?”

Daar is ’n klop aan die voordeur en die volgende oomblik vlieg die deur oop.

“Hallo, mooi meisies, dis so lekker om julle te sien!” roep haar broer Henry uit en hou sy arms oop om almal gesamentlik te omhels.

Lana druk hom en sien ’n beweging uit die hoek van haar oog. Sy draai haar kop soontoe en verstar.

Henry lag en draai terug na die man wat agter hom staan. “Dis Ian. Ian Coetzee, ’n kliënt en vriend. Ian, dis my ma en die ander Golden Girls.”

Lana besef sy is lighoofdig en sluk ’n diep teug asem. Ian Coetzee is hier, in haar ma se huis. Saam met haar broer. Hy is haar broer se kliënt. Sy was nog aan die vertel  van die soen van gister. Wat sy van einste hierdie man gekry het. Histerie begin stadig van haar maag af opborrel.

“… en dis my kleinsus …”

“Lana, ons het gister ontmoet,” sê Ian en al die vrouens kyk verbaas na hom en dan na Lana.

“Gister?” vra haar ma. “Maar dan is dit mos …”

“Mamma, ons moet gou na die poeding kyk,” sê Lana vinnig terwyl sy haar rug op Henry en op Ian draai. Sy maak haar oë groot vir die vier vrouens wat haar nog vir ’n oomblik verstom aankyk. “Nou, dadelik,” pers sy dit uit en rek haar oë nog groter.

Emily kry eerste die boodskap. “Nou maar goed. Kom, girls, laat ons gou gaan help. Henry, daar is die wyn, skink solank vir julle, ons is nou terug.”

Lana stap so vinnig as wat sy kan in die gang af kombuis toe en hoor haar ma en dié se  vriendinne se voetstappe agter haar.

Toe die deur agter hulle toegaan, haal sy diep asem. “Mamma …” Toe borrel die lag oor haar lippe. Sy beduie na die sitkamer toe. “Dit was hy,” giggel sy. “Dis die man wat my sommer so … gesoen het.”

Haar ma en haar vriendinne kyk haar nog ’n oomblik verstom aan voordat hulle al vier uitbars van die lag. Lana probeer nog iets sê, maar dis asof histerie haar beetgepak het en sy nie kan ophou lag nie.

Met trane in haar oë leun haar ma teen haar skouer. “My kind, as hulle twee sekondes later was, het jy sy naam genoem en dan …” Sy begin weer so  lag dat sy vooroor lê op ’n kombuisstoel.

“Sjuut,” probeer Lana die vrouens stilmaak, maar hulle lag net harder. “Sjuut,” probeer sy weer en uiteindelik bedaar die laggery.

“Ek moet sê,” hik Adéle, “ek sou ook stilgestaan het dat die man my soen.”

Haar ma waai haarself koel. “Genade, mens, ek het lanklaas so lekker gelag. Ek stem saam. Al vraag nou is, wanneer gaan jy hom weer soen?” vra sy ewe onskuldig.

Lana stik amper. “Nooit weer nie,” fluister sy heftig. “En julle gaan julle nou gedra, hoor. Nie een woord verder nie,” en sy hou kamma dreigend haar vinger in die lug.

“Ai, waar is my dae?” glimlag Emily. “Maar ek stem saam met die ander twee. Die man kan my ook maar kry, hy is ’n absolute hunk, wat sê julle?”

“Wat op aarde weet julle van hunks af? Ons moet teruggaan. En hou nou op lag,” probeer Lana raas, maar die drie begin weer van voor af giggel.

 

 

2 thoughts on “Proestukkie: Waar liefde lê

Leave a comment