Proestukkie: Dirna Ackerman: Liefdestango

LiefdestangoDirna Ackerman

Dané raak eers bewus van die bakkie toe die bestuurder die passasiersdeur oopmaak en roep: “Kan ek jou ’n lift gee?”

“Dankie, maar ek is sopnat,” roep sy terug met gesluierde oë van onder haar druppende baadjiehoed. Buitendien, dis darem een lessie wat sy sonder teëpraat by haar ma geleer het. Mens klim nie in enige ou se kar nie.

“Dis onbelangrik! Klim in!”

Dané reageer sonder om te dink en land met ’n wip langs hom. Sy druk die baadjiekraag terug sodat ’n ysige stroompie teen haar nek afloop, en die herkenning is oombliklik. Aan beide kante.

Die ontploffing in haar kop sit oor in ’n gesuis in haar ore. Sy pupille rek voor hy glimlag. Daardie glimlag wat g’n vroumens al ooit kon weerstaan nie. Behalwe haar ma, natuurlik.

“My wêreld, ou Daan, wat sê jou ma as jy so in die reën rondloop?”

“Hallo, Mynhardt.” Dané skep diep asem in die opeens benoude kajuitruimte. “Waar kom jy vandaan?”

Hy lyk nog dieselfde, maar eintlik ook glad nie. Nog net so asemrowend met daardie stoutseunaantreklikheid wat ’n vrou slap in die knieë laat, maar die seun het ’n man geword.

“Ver paaie, ou Daan.” Sy nagswart oë toer oor haar, kom terug na haar mond en haar bewing sit oor in ’n bibberasie. “Maar jy sal nie weet nie, sal jy?” Die bakkie kom in beweging. “Jy het mos nog nooit ver genoeg van die huis af gedwaal om die voorskootbande te ontkom nie.”

Haar oë drink sy donkerblonde kop met die sonvlammetjies, in. Sy sterk gesig, sy mooi mond. Sy wonder al agtien jaar hoe ’n herontmoeting sal wees, maar nou weet sy. Niks het verander nie. Mynhardt Verwey speel steeds die deuntjie en sy doen steeds die danspassies.

“Hoe weet jy dit?”

“Ek kom ook huis toe, ou Daan. Hoor ook maar die nusies.”

Wanneer? Watse nuus? “Ek is ’n veldwagter in die Noord-Kaap. Wat noem jy dit?” verweer sy lamlendig, maar ook so soort van outomaties. Niemand anders kon al ooit haar gedagtes laat knoop soos hierdie man nie.

“Ons albei weet afstand gemeet in kilometers is nie wat ek bedoel nie.” Sy sydelingse kyk spel dit uit indien sy dalk sou vergeet het. Maar sy het nie. Niks kon nog die herinnering aan die paar keer in sy arms laat vervaag nie. Al was hulle bloedjonk.

“Nou wat dan?” Pure aspris weet sy, maar hulle is net minute in mekaar se geselskap en sy is radeloos.

Die paar sentimeter fisieke afstand tussen hulle is opeens ’n onoorbrugbare kloof. “Ek bedoel daai soort waar jy jou eie besluite neem, ou Daan. Jy weet …” Die glimlag is nog daar, maar sy oë spieël iets anders. Aggressie en … seer? Aggressie wen egter loshande.

“Nee!”

“Soos … wie jy mag soen, of wie nie.”

Sy woorde is soos ’n laaste roer aan die aanbrandbrousel van emosies wat die helfte van haar leeftyd al omgeklits is, en die pot kook oor. Dané stamp haar hande teen die paneelbord. “Stop!”

Die bakkie ruk tot stilstand. Hy kyk verskrik rond. “Wat?”

Die deur is reeds oop en Dané land volvoets in ’n poel water terwyl Mynhardt se taal oor vroumense sonder ’n enkele breinsel, die lug nog donkerder maak. En haar trane met die gietende reën meng.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s