Vandag kuier ons by Lené de Waal

Lené gesels met ons oor die lewe en nog meer.  Sy is ‘n veelsydige vrou met ‘n stoute glinster in haar oë.  Ons hoop om nog baie van te hoor en met die inspirasie van haar interessante lewe, nog baie meer van haar stories te lees.

Wat is jou klerestyl?

So gemaklik as moontlik. Spykerhakke word gebêre vir spesiale geleenthede, maar my tekkies bly in my motor, net vir ingeval. Ek moes al noodgedwonge vir ‘n eend uit  swenk wat oor die sperstreep geswem het. My vorige kar het 750 000 km op gehad. Dink dit verduidelik my nodige klerestyl.

Hoe was jou kinderdae oor die algemeen?

Dit was dansende kaalvoet dae op Jakaranda bloeisels. My vlerke kon vreesloos en met vryheid geoefen word onder die oog van my liefdevolle ouers.

 Toe jy ’n kind was, wat wou jy gewees het as jy grootword?

‘n Marine bioloog. Die naaste wat ek daaraan kon kom, was om te begin skubaduik.

Wat beskou jy as die insident wat tot dusver die grootste invloed op jou lewe gehad het?

Die dood van my man toe ek 26 jaar oud was.

Het jy ’n troeteldier? Naam? Spesie? Voorkoms?

Drie honde waarvan twee worshonde is. Nie een was ‘n beplande toevoeging nie. Ons het Jessica uit ‘n troeteldierwinkel gered. Sy is ‘n liefie-ding. Jack was ‘n geskenk waaroor ek nie een dag spyt is nie. Hy ly nou wel aan ‘n gesplete persoonlikheid en dink hy is ‘n Rottweiler of ‘n kokketiel, maar het soveel karakter! Hy het die kuns van bedel vervolmaak. ‘n Maand gelede het my oudste ‘n, vermoedelik gesteelde, Golden Retriever van twee maande gered. Die hondjie was dodelik siek en Ma het uit die aard van die saak vir Max gekry. Hy is pragtig, maar ons het taamlike meningsverskille oor binneversiering. Hy hou van die hippie-era. Alles word in toiings en rafels verander, selfs my tone terwyl ek die vrae probeer beantwoord. Max!

Wat is die grootste verleentheid wat jou ooit oorgekom het?

Grond, daar is baie en almal ewe erg. ‘n Maand terug het ek weer ‘n klassieke blonde oomblik beleef. Ek sien ‘n vreemdsoortige siek pelikaan en 30-40 kraaie wat wag om daarop te aas. Besluit toe om dit te probeer vang en veearts toe te neem. Sowat tien treë van hom af klap hy sy vlerke so snaakserig, styg op en flop aan die anderkant van die wildsdraad naby ‘n dooie skaap neer. Genadiglik vir my.

Dit sou ‘n vernederende koerantberig uitmaak: Mev de Waal sterk in die hospitaal aan nadat sy ‘n siek pelikaan wou red. Die pelikaan blyk toe inderdaad ‘n aasvoël te gewees het. Hy sterk tans by die plaaslike veearts aan. Nie een van die twee was beskikbaar vir kommentaar nie.

Is jy bygelowig?

Nee, beslis nie. Of wag… dalk voëls? Haha.

Hoe na is jou familie aan mekaar?

Ons is baie onafhanklik grootgemaak en honderde kilometers uitmekaar, maar as daar ‘n probleem opduik, word alles summier gelos, in ons karre gespring en gejaag om bymekaar te wees. Dis in sulke tye wat ek aan die Gauteng motoriste dankie sê. Hulle sien my FS-nommerplaat, die tarentaalduik teen die kant van die kar en verstaan.  Volgafstande word dadelik gerek tot skaap- en mielietrokgrootte. Nogal kommerwekkend die baie naelbyters onder hulle. Wonder wat stres hulle so?

Glo jy aan sielsmaats of ware liefde?

Hoe kan ek anders? My ouers is al amper 59 jaar gelukkig getroud. Hulle is die perfekte voorbeeld daarvan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s