’n Uur saam met Mari Roberts

Ons kuier vandag so bietjie saam met Mari. Sy het geduldig ons lang lys vrae beantwoord en ons in haar lewe ingenooi met ‘n wonderlike sin van humor.

Lys drie eienaardighede wat jy het.

Ek skryf in my badkamer of in die melkstal. Volgens my kinders is ek eienaardig omdat ek met my honde praat. Ek kan nie ’n sin klaarmaak, sonder om ‘dinges’ of ‘watsenaam’ te gebruik nie.

Watter soort woordeskat het jy?

My pa was half Namakwalander en half  Kalaharie mens en hy het nou ’n veelkleurige woordeskat gehad. Dit slaan vandag nog deur, maar die mense beskou dit as vloek, so ek probeer om nie te veel terug te val in my ou weë nie.

Waar en by wie het jy die meeste geleer?

Spreuke van Salomo. Daai ou was vir jou slim en ek geniet hom vandag nog.

Toe jy ’n kind was, wat wou jy gewees het as jy grootword?

Ek was geïnspireer deur die TV-program 240-Robert. Ek het daardie vrou (Joanna Cassidy) geïdealiseer en wou bitter graag ook ’n helikopter vlieënier word. Helaas het die Here ’n ander pad met my lewe geloop.

 
Wie was die eerste man wat jou gesoen het?

My eerste soen wat ek gekry het was by Flippie Coetzee in graad 1. Dit het soos ’n kop aan kop botsing gevoel en hy het ’n harde klap gekry vir sy moeite. Daarna het dit my BAIE lank geneem voordat ek daardie ondervinding wou herhaal, maar toe raak dit nogal lekker

 Wat beskou jy as jou grootste prestasie?

Die geboorte van my drie dogters. Ek onthou nog elke minuut en selfs die pyn, maar veral die euforie van verliefdheid toe ek in hulle ogies kyk en dit rus met soveel vertroue op my. Ek was ’n totale gonner.

Waaroor is jy spyt?

Twee goed: 1. Omdat ek nie destyds valskerm gespring het toe ek die kans gehad het nie en 2. Dat ek my deur ’n onderwyser laat beïnvloed het omdat ek volgens haar nie slim genoeg was om iets te doen nie. Sou haar baie graag vandag weer van aangesig tot aangesig wou sien. Ek dink ons het baie om oor te praat.

Wat is jou basiese lewensingesteldheid?

Lag soveel as wat jy kan, dit hou jou jonk en laat jou probleme in ’n heeltemal ander perspektief sien.

Glo jy aan sielsmaats of ware liefde?

Baie beslis. Ek het al ’n sielsmaat gehad, maar dit was nie my ware liefde nie. Ons kon ure gesels, maar daar was nooit enige aantrekkingskrag tussen ons nie. Toe ontmoet ek my man en ek vind uit wat is aantrekkingskrag. Vandag is hy my sielsgenoot en die enigste man vir wie ek nog ooit onvoorwaardelik lief gekry het.

Is jy ’n prater of ’n luisteraar?

Soms is ek ’n prater, maar meestal ’n luisteraar. Ek geniet dit en kan soms ure op ‘n lughawe of ’n winkelsentrum sit en mense net dophou. Mense se reaksie en lyftaal fassineer my en ek sal openlik na ‘n gesprek in ‘n restaurant sit en luister, net om te hoor hoe die storie eindig.

Is jy spontaan of beplan jy alles?

Sekere goed beplan ek, bv. wat om die volgende dag te kook of hoe die week se program min of meer gaan verloop. Maar dit realiseer nie altyd nie. My man is presies 24 uur ouer as ek. Ons is albei Gemini’s. Ek glo nie aan sterretekens nie, maar een ding is waar: Ons is spur-of-the-moment-mense en hou van opwinding in ons lewens. Beplanning om bv vakansie te gaan hou, is nie ’n opsie nie en realiseer glad nie. Ons het ’n plaas en ’n melkery en kan dus nie die plek vir lang periodes alleen laat nie. Daarom doen ons dinge op die ingewing van die oomblik. Ek sal bitter graag op ‘n lang vakansie Griekeland, Turkye en Italië, veral Venesië toe wil gaan, maar op hierdie stadium in my lewe sal ek dit maar per Google Earth besoek. Ten minste hoef ek nie vir ure in ’n vliegtuig te sit nie.

Wat is jou beste karaktertrek? Swakste?

Ek het ’n heerlike sin vir humor en lag maklik, maar dit is ook my swakste eienskap, want ek sien iets raak wat vir my snaaks is en niemand anders sien dit raak nie. Dit kan dan as ligsinnig geïnterpreteer word.

Waarvoor sou jy onthou wou word na jou dood?

Vir iemand wat met haar humorsin die lewe vir ander ligter gemaak het. Mense is te ernstig en dit ly tot onnodige stress en swaarmoedigheid. Lag en lewe. God wil nie dikmond tieners hê nie, maar vreugdevolle jongmense van hart. Al is jy 80 jaar oud.


One thought on “’n Uur saam met Mari Roberts

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s