Proestukkie: Liefdesdroom

“You back? No place, hey?” vra hy met ʼn breë glimlag. Dit lyk nie asof die hitte of hulle penarie hom vreeslik pla nie. 

“No,” Claud vou sy skraal hande soos ʼn sedige priester voor hom op die tafel en stut sy ken daarop. “Nana. Ziltch. Nothing, anywhere.”

Die Griek kry nie reg om sy ingenomenheid weg te steek nie. Hy slaan sy hande teatraal saam en brul dan so hard in die rigting van die kombuis dat Tascha eintlik wip soos sy skrik: “Nikos!”

ʼn Reus van ʼn man, met pikswart hare wat tot op sy skouers hang, geklee in ʼn spierwit T-hemp en afgesnyde Jeans buk om deur die lae deurtjie te kom. ʼn Stout glimlag krul om sy lippe, maar dit is toe hy opkyk, dat Tascha se asem behoorlik in haar keel stol. Sy oë is blouer as die Egeise See terwyl dit met innerlike pret en onnutsigheid glim. Janos beskou hom hande op die heupe en dan bars ʼn sarsie Grieks oor sy lippe terwyl hy wild met sy voorvinger beduie. Al reaksie wat hy van die ander man kry is ʼn diep lag wat Janos sy hande moedeloos in die lug laat gooi. 

“Eet. Eet. Eet,” verstaan Tascha darem een woord en lei daaruit af dat Nikos teveel in die kombuis eet en seker te min werk. Die gesprek raak ernstiger. Nikos kyk na hulle en dan verdwyn die glimlag van sy lippe af.

Stadig, tydsaam weeg hy eers vir Claud, dan skiet sy blik na Tascha. Dit is toe sy oë in hare haak, dat iets eienaardig in haar lyf gebeur. Dit voel skielik of sy opstyg en vir ademlose tellings deur die sterrestelsel skiet voordat sy verbouereerd en bewerig terugkeer na haar willose liggaam. Sy is so lighoofdig dat sy nie instaat is om te roer nie, dat sy selfs te bang is om haar oë te knip vir ingeval hierdie net ʼn ongelooflike droom is. Maar sy sien ook iets in sy oë wat haar mond kurkdroog laat. Onverbloemde begeerte. 

Hy is beeldskoon, dryf die gedagte sag deur haar. Absoluut, onmoontlik beeldskoon, maar op ʼn ruwe manier. Woorde soos mooi, aantreklik en popmooi, gee nie reg aan hierdie Griekse god, wat met sy brons lyf voor hulle staan en hulle nou met ʼn stoïese gesig en arms oor sy borskas gevou, betrag nie. Sy het al baie mooi mans gesien, maar hierdie een laat al die ander soos vae gedagtes lyk. Elke lyntjie, van die bruingebrande lyf en elke spier is presies gedefinieer. Die hoekige gesig, sterk kakebeen en hoë wangbene, is ru maar perfek gebeitel. Al wat die ewewig van die prentjie ietwat versteur is sy oë. Die blouheid daarvan onder die langerige, swart kuif en wenkbroue is onverwags en skokkend. Die uitdrukking daarin verander toe sy oë vinnig na Claud en toe weer na haar draai. Dit ontstig Tascha dat hy skielik met soveel gevoelloosheid na haar kyk.   

“Maak toe jou mond, Tassie?” fluister Claud geamuseerd.

Sy kry dit met groot moeite reg om haar blik uit die blou dieptes los te maak, bewus van haar hart wat met swaar hamerslae in haar ore klop.

“Maar jy kan nie stry dat hy ongelooflik is nie,” praat sy onderlangs. 

“H’m, hy is gorgeous,” antwoord hy terwyl hy steeds na Nikos kyk.

Die ouer man sê iets in Grieks en die reus lyk skielik baie soos ʼn stout seuntjie wat op heter daad betrap is, maar dan skud hy sy kop heftig. Janos se glimlag groei.  Dan volg nog ʼn vinnige sarsie Grieks wat Tascha met haar beperkte kennis van die taal nie kan volg nie, maar wat Nikos se blou oë weer in hulle rigting stuur. Beurtelings word sy en Claud betrag met ʼn gesig wat baie aan die sfinks van Egipte herinner. Tog kan sy die antagonisme in hom aanvoel en word dit bevestig toe hy direk na haar kyk.     

2 thoughts on “Proestukkie: Liefdesdroom

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s