Elsa Winckler gesels oor die boeke in haar lewe

Vandat ek kan onthou, was boeke deel van my lewe. Ek onthou die feëverhale wat ek as kind gehoor en gelees het, al die Saartjie en Trompie boeke wat in ons plaaslike biblioteek was, die Maasdorp-reeks wat ons verslind het. En ek het ’n helder herinnering aan die dag toe ek as twaalfjarige, bewend van opgewondenheid, my eerste boek kon uitneem by die grootmens-afdeling. Boeke fassineer my, leer my, vermaak my en hou my min of meer by my sinne.

Twee boeke wat vroeg-vroeg my sosiale bewussyn wakker geskud het, was FA Venter se Swart Pelgrim, ’n voorgeskrewe boek op hoërskool en dan natuurlik Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Albei hierdie boeke het my lewensuitkyk totaal verander.

Die boek wat vir my as mens die meeste beteken het (naas die Bybel), is M Scott Peck se The road less traveled. Die eerste sin in die boek,, “Life is difficult,” was vir my ’n openbaring, ’n soort ek-kom-so-agter-hoekom-hoor-ek-dit-nou-eers oomblik.

En dan het dit vir my gevoel ek kom huis toe toe ek as veertigjare weer begin studeer het en kennis gemaak het met skrywers soos Jane Austen, George Eliot, Elizabeth Gaskell, die Brontë-susters. Ek het ademloos elke bladsy van hulle boeke verslind. Ek probeer elke jaar Middlemarch van George Eliot lees, dit bly ’n belewenis.

En dan hou ek daarvan om te dink ek het James Joyce se Ulysses gelees, maar om eerlik te wees, ek sou dit nie sonder die hulp van ons dosent, Michiel Heyns (deesdae skrywer) kon baasraak nie. Maar wat ’n ervaring.

Die skrywer wat my bewus gemaak het van die skryflus in my, was Audrey Blignaut. Ek het onlangs van haar briewe gelees en wat my telkens opval as ek van haar werk lees, is hoe belese sy was. Dit was ook een van die dinge wat my laat besluit het om verder te studeer voordat ek probeer skryf. Sy het my net laat besef hoeveel wonderlike boeke daar is wat gelees moet word.

Ek het deesdae meer tyd en probeer so wyd as moontlik lees. Op die oomblik probeer ek sin maak uit Nassim Nicholas Taleb se The Black Swan. Dit handel oor al die toevallige gebeure wat deel uitmaak van ons alledaaagse lewe. Die skrywer wil jou oortuig om op te hou om hierdie gebeure te rasionaliseer en te voorspel en om liefs voordeel te trek uit die onsekerheid. Maar as die letters voor my begin dans, dan gryp ek ’n liefdesroman sodat ek met ’n glimlag aan die slaap kan raak!

3 thoughts on “Elsa Winckler gesels oor die boeke in haar lewe

  1. Linda Felkel says:

    Ongelooflike toeval dat ek hierdie Blog ontdek het! Ek moet dit dadelik by my leestekens merk omdat ek definitief gereeld hier sal kom kuier. Dit het my dag verryk!

    Dankie Elsa, vir die nostalgiese gedagtes terug aan ons jeugdae!

    Baie groete van `n Suid-Afrikaanse Boerenooi in Duitsland!😉

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s