Proestukkie: Dina Botha : Bly myne

“Jackie?”

Sy was so vasgeval in die verlede dat sy nie die deur hoor oopgaan het nie. Sy maak haar oë oop en wag dat die spookbeelde van die verlede opklaar voordat sy stadig omdraai. “Hallo Alec.” Haar hart begin vinniger klop en die klop is terug in haar keel. Om heeltemal ander redes. In die vergadering was sy te gespanne om daarna op te let, maar Alec is  nog net so aantreklik as wat sy kan onthou. Die paar plooitjies langs sy oë en die suggestie van grys langs sy slape is al wat bygekom het. Nee, die koue en emosielose uitdrukking in sy oë was nie drie jaar gelede daar nie. Ook nie die wit kilheid om sy mond nie.

Skielik weet sy nie hoe sy hom moet groet nie. Steek sy haar hand uit of soen sy hom? ’n Senuweeagtige laggie glip oor haar lippe. Sy lig haar hande in effense radeloosheid.  “My liewe hemel, Alec. Hoe groet ’n mens jou eksman ná drie jaar?”

Iets wat baie na ’n vonkel lyk, flits vlugtig in sy oë, maar die stroewe masker bly op sy gesig.  “Nog net so impulsief en uitgesproke soos altyd.”

Hy stap nader en steek voor haar vas. Dit lyk of hy met dieselfde vraag as sy stoei. Hy weet ook nie.

Sy lag geforseerd en steek haar hand kordaat uit. “Dan groet ons maar met die hand.”

Verkeerde besluit, weet sy die oomblik wat hulle vingers aan mekaar raak. Sy voel duidelik die elektriese ontlading toe sy warm hand om haar koue een vou. Verward wonder sy of hy ook die sagte statiese kortsluitinkie kon hoor. Toe weet sy dat sekere herinneringe nie verdryf kan word nie. Dit kan ook nie geïgnoreer word nie. Sy kan presies onthou hoe Alec se warm hande oor haar lyf gestreel het, hoe sy hande ’n vuur in haar kon aansteek wat selde geblus kon word. Maar dit was in ’n ander leeftyd en iets wat sy nie nou durf onthou nie. Sy ruk omtrent haar hand weg en tree terug.

Alec se hand val slap teen sy sy. Sy ligte blou oë is nou kouer as ys. “Waar was jy drie jaar lank, Jackie?” val hy met die deur in die huis.

Sy trek haar skouers op. “Hier en daar en sommer oral.”

“En as ek nou sou vra wat jy oral oor die wêreld gedoen het, gaan jy seker sê dit en dat en sommer alles?” Hy het hom bloedig vir haar antwoord vererg.

Sy het nie gedink dit maak saak nie. Sover sy weet, het hy nooit met haar probeer kontak maak nie. Sy was so seker hy wou nie. Weer trek sy haar skouers op, probeer voorgee dat sy sarkasme haar nie regtig raak nie. “Jy ken my tog goed, Alec. Jy weet hoe rusteloos my voete kan wees.”

“Weet ek dit nie. Nou goed, sê dan wat jy hier by Joubert Finansiering, doen?”

“Ek …” Hy het te skielik gevra en die goed geformuleerde antwoord wat sy al die hele oggend geoefen het, verdwyn soos mis voor die son.

Alec frons. “Is jy in enige soort moeilikheid? Het jy  geld of iets nodig? My prokureur het my onlangs nog verseker dat jy elke maand jou toelaag ontvang en dan is daar ook jou jaarlikse trustgeld wat binnekort uitbetaal word.”

Dis nie vreemd om Alec skielik so bekommerd te sien nie, want dis hoe dit in hulle getroude lewe was. Hy was meer besorg oor die materialistiese as die emosionele sy van haar lewe. Dis juis sy besorgdheid oor haar finansies wat haar nou uitkoms bied.

“Ek’s jammer, ek wou dit nie sommer net so uitblaker nie, maar jy is reg. My uitgawes het die afgelope jaar geëskaleer en ek kan skaars bybly. Ek het gehoop ons kan die een of ander tyd oor my  vooruitsigte gesels,” jok sy vlot.

Alec maak sy eie afleiding. “Laat ek raai. Jy is nog steeds lief om die rol van sosiale vlinder te vertolk,” sê hy skerp.

Die insinuasie sny deur haar, maar sy weet sy moet haarself beskerm. Sy lag vrolik. “Soos ek reeds gesê het, jy ken my hopeloos te goed.”

One thought on “Proestukkie: Dina Botha : Bly myne

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s