Proestukkie: Susan Olivier: Aanloklike proposisie

Oopmond staar René hulle agterna. Die twee weglopers. Los haar wraggies alleen met hierdie man? En dit ná sy die situasie op groot skaal opgefoeter het. Die houers kon mos wag. Of sy kon ook help. Dalk loop hy nou. Of help hulle. Maar hy bly staan, vat sy bordjie en begin rustig aan die koek eet asof hy eregas by die paartie is.

Sy maak die vuil bekers bymekaar en sit dit op ‘n skinkbord. Enigiets om haar besig te hou, want sy is nie lus vir ‘n oppervlakkige geklets nie. Ná wat nou net gebeur het, is sy nie in staat tot veel meer as hierdie huishoudelike takie nie. Die vlugtige en onbeplande omhelsing bly in haar gedagte. Haar lyf tintel, haar bloed bruis deur haar are. Hoe kan ‘n vreemdeling se aanraking so ‘n effek op haar hê? Dis ongehoord. En hy tree hy op asof niks uitsonderliks gebeur het nie.

“Het jy dit gereël, René?”

Gesteurd kyk sy na hom. Sy wil nie nou praat nie, sy moet haar uit die verknorsing dink. “Ek en Elsie.”

“Dis die eerste keer wat ek hoor van ‘n pamperlangpartytjie. Wys jou net hoe het dinge verander.” Hy skud sy kop. “Die sjokoladekoek is heerlik. Wie het dit gebak?”

“Elsie. Sy is ‘n baasbakster.” Sy kyk hoe hy ‘n titseltjie versiersuiker van sy lippe aflek. Sy mond is ferm, en erg sensueel. Sy wonder hoe dit teen hare sal voel. Of dit hard sal wees wanneer hy haar oorgawe vra en sag wanneer sy toegeeflik raak. Warm rillings trek deur haar lyf by dié gedagte.

“En jy?”

“Wat?” Sy lig haar oë met moeite. Haar kop is dom en dit irriteer haar geweldig.

“Is jy ook ‘n baasbakster?”

“Nee, ek kan kosmaak, maar dis waar dit eindig. Gelukkig het ek ander talente.”

“Dit kan ek sien.”

Daar is iets in die manier waarop hy dit sê, terwyl sy blik berekend oor haar gaan, en die uitdagende glimlag wat om sy mondhoeke speel, wat haar terselfdertyd kriewelrig en kwaad maak, en haar laaste woorde laat berou. Dis iets wat jy vir ‘n vriend sê, nie vir ‘n volslae vreemdeling nie. “Wat bedoel jy?”

“Net dat jy heel tuis in die fabriek lyk.” Hy sê dit argeloos, asof daar nie sprake van enige bybedoeling is nie.

“O.” Sy weet nie wat anders om te sê nie. Sy kan hom aanvat oor sy opmerking, maar ook ‘n gek van haarself maak. Een maal per dag is genoeg. En sy beter nou bykom. Sy tel die skinkbord op en kyk veelseggend na die bekers op die tafel. “Magriet se koffie word koud.”

Hy sit sy leë bordjie neer. “Ek sal later ander skink. Kan ek jou help?”

“Nee, dis nie nodig nie,” stribbel sy vinnig teë.

Maar daar is geen keer aan hom nie want hy vat die skinkbord by haar. “Ek weet, maar ek help nogtans.”

Sy gee hom ‘n ontevrede kyk. Dit lyk sowaar asof hy nou gesellig met haar wil verkeer, en dit terwyl sy gehoop het hy gee nou pad. ‘n Tandartsafspraak sal haar meer opgewonde maak. Sy voel nie gemaklik oor die nuwe wending nie. Ook  nie met die man nie. Dis dalk te gou om te praat, maar Elsie slaan die spyker op die kop, hy is nie manipuleerbaar nie. Sy beter ligloop vir hom, veral as sy ‘n loskopdolla in sy teenwoordigheid word soos dit pas vir haar gevoel het.

 

Leave a comment