Proestukkie: Marietjie Welgens: Papierpop

Marietjie se nuwe boek is in Januarie op die rakke! Hier’s is ‘n lusmakertjie.
Met haar terugkeer na die sitkamer bly sy stom verbaas in die deuropening staan.
Nicolaas het hom skuins oor haar bank tuisgemaak en hy is … vas aan die slaap. Nie eens toe sy langs hom gaan sit, en sy kop gemakliker maak teen haar skouer, word hy wakker nie. Dit gee haar die geleentheid om sy gesig deeglik te beskou. Sy sien die lyne, getrek deur jare se ondervinding, wat oor sy voorkop loop, en die fyn plooitjies langs sy oë. Ondanks die grys in sy hare is sy gesig relatief plooiloos in sy ontspanne, slapende toestand. Sy kyk na sy mond, waarvan die weerloosheid haar skielik aangryp en lok … en sy wil hom soen.
Haar blik gly na sy op-en-af deinende borskas, sy plat maag, nog laer na sy gordel se silwer gespe … die lang bene in ’n donkergrys langbroek wat in ’n v-vorm verdeel – die een voet op die grond en die ander een oor die armleuning van die bank.
Toe haar oë weer teruggaan na sy slapende gesig is sy kykers oop, en wakker op haar gerig. Sy ontwyk sy spottende oë verleë. “Het jy lekker geslaap?”
“Dit was lekker, net te kort … en ongemaklik. Maar as ek my nou op jou bed kan gaan uitstrek … eers van die ongemaklike klere ontslae raak …” Hy vang haar oë vas met sy suggestiewe blik.
Al Shauna se idees van verleiding is oombliklik vergete. Hoe lank hou hy haar al dop? Terwyl sy hom van bo tot onder onbeskaamd bekyk het?
“Dit sal die dag wees,” brom sy binnesmonds. “Drink jou koffie. Dit is seker al koud.”
Nicolaas swaai sy been van die leuning af en kom orent. Terwyl hy die toebroodjies hongerig verslind en sy koffie drink, hou sy hom ongemerk dop. Sy hare staan eenkant regop van die slaap, en haar vingers jeuk om deur sy donker, sout-en-peper grys hare te kam.
 “Ek moet ry. Het nog ’n lang pad voor.” Hy staan op en gaan sit hulle gebruikte bekers en borde in haar kombuis.
Hulle stap na haar voordeur. By die deur aarsel Nicolaas voor hy beweeg. Hy omraam haar gesig met albei sy hande.
“Ek wil jou na my huis toe vat,” sê hy sag net voor hy haar op haar mond soen. “Binnekort … baie binnekort.”
Hy wag nie vir ’n antwoord nie. Maak die deur oop en glip uit.
Shauna staar nog lank na die toe deur. Sy is bewus daarvan dat sy haar kanse ernstig verspeel het, maar dit maak die vooruitsig soveel aanlokliker.
Sy moet net nie weer op die man verlief raak nie, herinner sy haarself streng. Bly koel en nugter.

3 thoughts on “Proestukkie: Marietjie Welgens: Papierpop

  1. Bets Smith says:

    Ek hou van hierdie man al is die heldin daarop uit om wraak te neem: hy sit minstens die bekers in die wasbak! Jou man is sweerlik die voorbeeld vir dié kêrel se optrede! Ek kan nie wag dat die pos kom nie!

  2. Magdaleen Walters says:

    Marietjie,
    Dit lyk lekker. Sal bietjie sorg dat ek jou storietjie onder oë kry. Mmm, wonder hoe gaan sy wraak neem op daai man. Kan net ‘backfire’!
    O, en ek hoop jy gaan ‘n goeie jaar vol mooi hê.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s