Proestukkie: Maryn – Chanette Paul

Maryn was al ’n paar keer saam met haar ma by vendusies, maar dis die eerste keer dat sy self bie. Sy kom egter gou agter hoe dinge werk en palm vir haar die meeste van die goed wat sy geoormerk het in. Die geelhouttafel gaan moeiliker. Êrens is daar ’n man wat teen haar bie. Sy hoor sy stem, diep en resonerend, en sy sien die vinger wat opgaan in dieselfde ry as wat sy sit, maar sy kan nie verby die vrou met die groot hoed sien hoe hy lyk nie. Net die kroontjie van sy swart kop steek uit.

Sy bie weer en weer gaan sy hand op. Maryn byt haar onderlip vas. As sy nog genoeg wil oorhou vir die ledekant…

Sy verhoog die bod. Basta, sy het vir haar ’n perk gestel, maar dis darem nie asof sy pennieloos hier sal uitstap net omdat sy weet wat sy wil hê en bereid is om meer te betaal as wat sy gereken het nie.

Toe die bod uiteindelik wel op haar toegeslaan word, kos die tafeltjie haar feitlik twee keer meer as wat sy gereken het. Tot haar misnoeë gebeur presies dieselfde met die kombuiskas. As die ellendige man tog net nie nou boonop die koperledekant wil hê nie, kners sy heimlik op haar tande, maar toe die afslaer begin, is die onbekende man se hand eerste in die lug.

Maryn wag totdat hy ’n paar ander bieërs afgeskud het voor sy tot die bod toetree, en sommer met ’n groot sprong.

Die afslaer kyk onseker na haar, maar sy knik net kalmpies. Uit die hoek van haar oog hou sy die vreemdeling se hand dop om te sien of dit weer opgaan, maar dis nie sy hand wat sy sien nie. Hy leun vorentoe terwyl sy oë oor die mense in hul ry gaan. Sy draai haar kop, lig haar ken en kyk in sy oë met wat sy hoop ’n vreeslose uitdrukking op haar gesig is. Iets maak kadoemp reg in die middel van haar maag toe hul oë sluit. Nog nooit het sy sulke oë gesien nie. Die kleur van kerslelies in volle blom. En die kleur is selfs nog opvallender omdat sy oë na haar loer uit nessies van roetswart wimpers onder roetswart wenkbroue onder ’n roetswart kuif.

“Vir die eerste maal …” ruk die afslaer se stem haar terug na die werklikheid. Word die bod op haar toegeslaan, of het die man met die oë ’n teken gegee wat sy nie raakgesien het nie? “Vir die tweede maal …”

Die man met die kerslelie-oë lig sy hand en kyk dan eers van haar af weg. ’n Oomblik vrees sy hy gaan die prys die hemele in stuur, maar hy bie net ’n paar sjielings meer. En kyk haar dan met ’n skewe glimlag aan, verby die ses of so mense tussen hulle ingeryg op die kerksaal se stoele.

Maryn knik toe die afslaer na haar loer en steek haar vinger op om ’n pond te beduie. Die afslaer se wenkbroue skiet die lug in.

Mense begin opgewonde murmel.

“Bergendal … daardie spoglemoenplaas … mos een van die ryk Davels se dogters …” hoor sy flardes van ’n vrou wat nader aan die bie-man sit se fluistergesprek en Maryn val amper op haar rug.

Ryk Davels! Dis vir haar ’n nuutjie. Maryn hou egter die man se hand soos ’n valk dop, oorbewus daarvan dat hy vir haar kyk, maar nie van plan om weer in sy oë te kyk nie. Die hand roer, maar bly op sy skoot.

“Vir die eerste maal … die tweede maal … en vir die derde en laaste maal. Bod toegeslaan op juffrou Davel. Dankie, dames en here, dis dan al vir vandag.” Die afslaer se stem vervaag in die gebabbel wat om haar losbars.

Maryn steur haar nie aan die mense nie. Groet hier en daar waar sy ’n bekende gesig sien, maar baan vir haar ’n paadjie oop na waar sy moet opdok en haar goedere se laaiwerk moet reël.

Sy is besig om toesig te hou oor die laai van die bed toe hy uit die bloute langs haar staan. En oor haar toring. Hy vou sy arms, sy oë op die bed.

“Dit was ’n goeie koop.” Sy stem is nog dieper as wat dit voorheen geklink het. Ryk en resonant. Dan eers kyk hy af na haar en steek sy hand uit. “Corneille von Wildenstein, maar noem my gerus Niel.”

Maryn huiwer, maar vertrou dan tog haar hand aan hom toe. “U het my vandag baie meer uit die sak gejaag as wat ek beplan het, meneer Von Wildenstein.” Sy probeer koel klink, maar haar ore suis en sy weet nie of sy dit regkry nie. “Maryn Davel.”

Niel von Wildenstein glimlag. Dis iets wat hy eintlik nie in die openbaar behoort te doen nie, dink Maryn verward en voel ineens onvas op haar bene. Daardie glimlag het ’n heeltemal te verwoestende aanslag op ’n mens se sinne.

“Ek is jammer jy voel so. Ek het nou weer gereken jy het ’n baie regverdige prys betaal. Buiten die bed. Dit was ’n winskoop. Maar ek gun jou dit.” Hy glimlag weer en leun nader. “Ons gaan dit immers vir baie jare lank nog saam gebruik,” sê hy sag en daarmee draai hy luiters om en stap weg.

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s