Proestukkie: Die nuwe vennoot

Wat beplan jy vir die dag?”

“Met die kinders … seker nie veel nie. Hoekom wil jy weet?”

“Dan is ete vanaand seker ook buite die kwessie?”

Dié keer neem dit langer as die vorige twee kere om nee te sê. “Ek’s jammer, maar ek het niemand om na hulle om te sien nie.”

Johnny draai in haar arms om, sit sy armpies om haar nek en probeer soos ’n apie teen haar skouer uitklim. Eers hoor sy ’n burp-geluid, toe  voel sy die warm vloeistof in haar nek. “Oe!” roep sy uit. Sy hou hom dadelik weg van haar lyf, maar die skade is klaar gedoen. Sy wil vies word, maar met Evan wat haar soos ’n valk dophou, beteuel sy haar misnoeë.

“Johnny behoort nie meer sulke melkwinde op te breek nie. Jy moet maar eerder ’n spoegdoek byderhand hou,” gee hy ongevraag raad.

Haar tone  krul byna om soos sy gril vir die gemors in haar nek, maar Evan se opmerking is dalk belangrik. “Wat is ’n spoegdoek?”

Dit lyk asof ’n veer Evan kan omslaan.  “Dis ’n doek wat jy oor jou skouer gooi om jou klere in sulke gevalle te beskerm.” Sy frons verdiep. “Weet jy dit regtig nie?”

“Nee, ek het nog nooit gesien dat Mercia ’n weggooidoek oor haar skouer dra nie.”

Sy kan eerlikwaar nie verstaan hoekom hy dink dis snaaks nie, maar sy gaan nie langer staan en kyk hoe sy hom met haar onkunde vermaak nie. “Jy moet my nou verskoon, asseblief.” Ongeskik begin sy die deur in sy gesig toestoot.

Hy hou dadelik op lag. “Wag, ek’s jammer ek het gelag. Alle vrouens gebruik seker nie ’n spoegdoek nie. Solank jou babaoppasser een gebruik, is die saak reg.”

Sy wil nie na verskonings luister nie. “Totsiens, meneer De Vos,” sê sy kil en die deur klik hard en duidelik toe. Sy draai die sleutel met mening in die slot.

“Daai man, Johnny, sal my nog teen die mure uitdryf. Wat soek hy in elk geval dié tyd van die oggend op iemand se drumpel?”

Johnny ignoreer haar tirade en probeer ’n string van haar hare vasgryp. Toe hy dit in die hande kry, gaan dit werktuiglik na sy mond. Ná ’n paar pynlike oomblikke is haar hare vry, maar nie haar gedagtes nie.

Sy bedoel wat sy sê. Evan is nié goed vir haar gesondheid nie. Nie as vennoot of as buurman nie. Sy onthou dat sy hom nog vir die babastoeltjies en sy tyd moet vergoed, maar besluit summier dat Surita maar ’n faktuur uit hom kan kry. Sy sal net ’n tjek uitskryf.

Ten spyte van haar voorneme om Evan totaal uit haar gedagtes te kry, betrap sy haar dat sy deur die loop van die dag twee keer deur die noordekant se venster uitkyk. Sy motor staan in die oprit, maar daar is geen teken van hom nie. Laatmiddag sit sy Johnny in sy loopring en skep vir Chantelle ’n bak roomys in. Dan gaan sit sy met die kinders op die balkon waar sy oor die muur tot op sy huis se balkonne kan sien. As dit nie vir die blinders was nie, dalk tot binne-in sy huis. Sy weet dit grens aan die absurde, maar sy het ’n vreemde begeerte om te weet wat hy doen. En as sy heeltemal eerlik is, wil sy bitter graag weet of hy iemand by sy huis onthaal.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s