Proestukkie: Doodgewone wonderwerk

Tot Simon se verbasing klop Elizabeth gouer aan sy deur as wat hy verwag het, maar die raaisel van hoe sy ’n halfuur lange rit in minder as twintig minute kon aflê, word opgelos toe hy haar motor sien. Sy sogenaamde assistent ry met ’n Porsche. En hulle het skaars weggetrek, of hy stel vas dat Elizabeth nooit ’n rybewys moes gekry het nie. Sy wissel ratte soos ’n renjaer en haar voet ken net een posisie op die petrolpedaal: heel onder.

“Tygervallei?” vra sy. Voordat hy kan antwoord, swiep die Porsche soos ’n swaeltjie verby die kafee wat hy in gedagte gehad het en glip die hoofstroom van die verkeer binne met ’n skaars merkbare vermindering in snelheid. Simon sukkel sy sitplekgordel vas.

“Dis seker maar stil by jou noudat jou suster en haar dogtertjie weg is,” gesels Elizabeth.

“Lekker rustig, ja,” sê Simon en trap ’n rempedaal wat nie bestaan nie, want hulle is agter ’n vragmotor en die bakwerk kom heeltemal te vinnig nader. Elizabeth mompel vererg. Met ’n terloopse blik in die truspieël glip sy regs deur ’n gaping wat Simon misgekyk het en swenk terug in die linkerbaan voordat hy sy asem terugkry.

“Is jy altyd so haastig?” vra hy ergerlik.

“Dis ’n Porsche, nie ’n kruiwa nie,” grinnik sy en kyk sydelings na hom. “Of maak spoed jou senuagtig?”

“Nie as ek self agter die stuur is nie.”

Sy lag en versnel. “Dit lyk my dis alle mans se kwaal. Jy hoef jou nie te bekommer nie. My pa het my leer bestuur en om hom tevrede te stel was nie maklik nie.”

“Werklik,” sê Simon.

Haar swart hare wapper soos ’n vertoiingde seerowersvlag in die wind wat by die oop venster inkom. Sy sisfluit ’n deuntjie sonder wysie deur haar tande. Sy lyk nie ’n dag ouer as sestien nie.

Hy probeer regverdig wees. Dit lyk asof sy weet wat sy doen, al doen sy dit te vinnig.

Sy tik-tik met haar voet op die rem, en ’n blink buisie rol onder sy sitplek uit. “My lipstiffie,” sê sy verras. “Ek het gewonder wat daarvan geword het. Kan jy dit bykom?”

Hy kry die lipstif raakgevat en wil dit voor in die paneelkissie bêre. Sy neem dit egter ongeërg uit sy hand, draai die truspieëltjie met ’n geoefende gebaar heeltemal na haar kant toe, leun vorentoe, maak haar mond oop en kleur haar lippe met drie behendige hale in. Bloedrooi.

Hy het geen idee hoekom dit so eroties is nie. Sy maagspiere verstyf asof hy ’n vuishou verwag.

Soos ’n vlermuis uit ’n solder blits sy die afrit na die winkelsentrum af en parkeer vlak voor ’n ingang met die lipstiffie steeds tussen haar vingers. “Wat ’n geluk, ons hoef nie eens ver te stap nie,” straal sy.

Simon sit versteen. Sy wip uit en maak sy deur oop.

“Ek sal regkom, dankie,” kners hy.

“O. Waarheen eerste?” vra Elizabeth vrolik.

“Eintlik,” sê Simon strak, “wou ek net melk en ’n koerant gehad het.”

“Maar dan kon ons mos sommer by die kafee gestop het,” frons Elizabeth verbaas.

Vier weke hiervan? dink Simon. Te duiwel daarmee. As sy haar verbeel sy gaan hom in ’n hartstilstand in bestuur elke keer wat hy uit die huis wil kom, wag daar ’n verrassing op haar.

5 thoughts on “Proestukkie: Doodgewone wonderwerk

  1. Bets Smith says:

    Slaapkamersake? Sal my ma dit kan lees? Die boek is op pad na haar toe en ek ook!! Ai, ek gaan die ruk by die see VIER maande se Romanza klubboeke (8 + 2 geskenk van hulle!) lees. Miskien kom Jan s’n ook voor ons huis toe ry. Agge toggie, ek hou dit nooit tot daar nie!

  2. theaholland says:

    Dankie, Annetjie. In die res van die boek doen Simon sy bes om die roekelose Elizabeth hok te slaan en op haar plek te sit, maar hy kan natuurlik nie wen nie.

    En, dankie, Rika. Ek het dit geniet om ‘n bloedjong heldin te skep met ‘n onblusbare optimisme en ‘n vreeslose benadering tot die lewe – en dit sluit alles in, van broodsny tot slaapkamersake.

  3. Annetjie van Tonder says:

    Lekker adrenaliengedrewe. Wat ‘n vrou! Gebeur alles in hierdie boek teen hierdie tempo? Skitterend, Marile.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s