Proestukkie: Linelle Venter: Moeilike man

“Ek het jou nie aangestel nie.” Hy sê dit  so vinnig en vurig dat Alex voel hoe haar oë rek van verbasing vir sy blatante ongeskiktheid. Regardt sien haar reaksie, maak sy oë toe en skud sy kop moedeloos voor hy met neutrale oë na haar kyk. “Maar dis nie wat ons nou bespreek nie. Sê eerder vir my hoe jy beplan om jou span hier te kry, die situasie te red en nie my begroting te verwoes nie. Iets laat my dink dat jy reeds ’n plan het.”

Alex verduidelik. Saam sit hulle vir die volgende twee uur en werk die besonderhede uit. Sy ignoreer sy verontwaardigde uitdrukking en sleep ’n stoel nader om langs hom agter sy lessenaar te sit. ’n Paar keer kan sy haarself nie help nie en flankeer selfs skaamteloos met hom, wat verdere kyke en moedelose sugte by Regardt ontketen. Die res van die twee uur praat hulle soos gelykes en sien Alex die kant van hom waarvan Sollie haar vertel het.

Sy kan verstaan dat hy op so ’n jong ouderdom die uitvoerende direkteur van ’n internasionale firma is en soveel respek afdwing. Daar is oomblikke waarin eerlike intelligensie in sy oë deurskyn. Alex wil haar verbeel dat wanneer sy met ’n uitsonderlike slim voorstel vorendag kom, sy waardering in sy oë sien. Die onverwagte glans in sy oë verdwyn egter telkens vinnig, maar nie voor dit ’n warm gevoel in haar siel laat nie.

“Ek dink steeds jou span sal ’n onnodige uitgawe wees.”

Alex rol haar oë dramaties. “As die fondasies nie al gelê was nie, het ek jou nou werklik oor die kop geslaan en daar gaan begrawe. Hoeveel keer moet ek nog vir jou verduidelik dat hierdie ouens die beste is vir hierdie taak?”

“Totdat ek oortuig is.”

“Ek het ’n vermoede dat jy al klaar oortuig is, maar my net hard wil laat werk vir hierdie vergunning.” Sy leun suggestief nader aan hom en  vernou haar oë. “Jy dink ek’s oulik en interessant. Jy wil net hê ek moet aanhou praat sodat jy na my sexy stem kan luister.”

Regardt byt hard op sy tande en Alex wonder of dit is om sy glimlag of moorddadige gedagtes te onderdruk. Nietemin, sy frustrasie gee haar oneindige plesier en sy begin die planne met ’n groot glimlag op haar gesig oprol. Die draak kan maar langs haar sit en brul en blaas, sy sal die wiele aan die rol moet sit as sy die span hier wil kry en ook met Sollie reëlings wil tref. Sy tel die planne en haar skootrekenaar op en stap na haar lessenaar om dit daar neer te sit voor sy haar handsak optel.

“Waarheen dink jy gaan jy?” Regardt staan op.

Die man het regtig ’n oorvloed ongeduld, dink Alex en wonder hoekom hy nou weer vies is. “Om reëlings te begin tref.”

“Ek het nog nie jou plan goedgekeur nie.”

“Maar ek weet jy sal.” Sy lig haar een skouer om te wys dat dit vanselfsprekend is en draai na die deur.

Voor sy twee tree na die oop kantoordeur gegee het, het Regardt se lang, sterk bene hom tot reg voor haar gedra. Hy staan ’n enkele tree van haar af, so naby dat sy naskeermiddel weer haar neus kielie en sy dit diep intrek. “Jy ruik regtig lekker.”

“Wat?” Hy lyk onverhoeds.

“Sandelhout, nè? Elke keer wat jy so naby my staan en ek ruik jou aftershave, dink ek aan my houthut in die Stille Oseaan, die skemerkelkies en …” sy sug verlangend, “daai romantiese sonsondergange.”

Alex is so meegevoer deur haar verbeeldingstog dat sy die verandering in Regardt se oë sien, maar nie registreer nie. Sy staan ’n fraksie nader aan die man wat so lekker ruik en speel ingedagte met sy hempsknoop wat sy borskas vir die oog bedek. Ag, hoe wens sy tog nie nou dat sy terug is op haar houthut se stoep met ’n koue drankie en ’n goeie boek nie. Sy verloor haarself so in haar wensdenkery dat sy ruk van die skrik toe Regardt se sterk hand oor hare vou en hy dit styf teen sy bors druk. Eers staar sy verbaas na sy manlike hand wat hare omvou en toe probeer sy die vlinders in haar maag kalmeer.

Regardt se hart klop sterk onder haar hand en voor sy haarself kan keer, maak Alex haar hand oop en lê haar palm teen sy bors, net om te voel hoe sy hart vinniger begin klop. Sy sluk swaar om haar hartklop onder beheer te bring en haar oë dwaal stadig boontoe tot dit daardie soenbare lippe bereik. Sy lippe beweeg effe weg van mekaar en Alex kyk vinnig op om te sien wat die temperatuur in sy oë is, maar is glad nie gereed vir die ligblou hitte wat daar brand nie. Voor sy besef in watse penarie sy haarself nou met haar flankeerdery beland het, vernou Regardt se oë en beweeg sy ander hand blitsvinnig na die agterkant van haar kop om haar in sy omhelsing te vang. Met haar een hand styf teen sy bors en sy hand agter haar kop, het Alex nêrens om heen te beweeg toe sy kop vinnig sak totdat sy lippe enkele millimeter van hare is nie.

Hy wag net een hartklop voor hy sy kop verder laat sak en kragtig haar lippe opeis. Die wêreld om Alex ontplof. Sy kan sweer haar hart het gaan staan en besef dat daar nie ’n enkele sel in haar wese is wat hierteen wil weg nie. Die oomblik wat sy haar lippe gewillig oopmaak, verander die soen in iets wat Alex tot in die kern van haar siel raak. Regardt se lippe wat ’n oomblik terug met woede haar ’n les wou leer, liefkoos haar mond nou sagkens in ’n intieme soen wat Alex oortuig dat dit ’n hele digbundel kan inspireer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s