Proestukkie: Alta Cloete: Geur van vervulling

Dis vroegskemer toe sy die kusdorpie binnery. Soos altyd verskaf die tuine haar plesier, al is die vygies lankal toe-oog vir die nag. Langs die pad was nie meer veel blomme nie, net halfryp grassade, weemoedig in die wind.

Haar ma-hulle se houthuis staan hoog en suiwer op sy pale bokant die fynbos en wit duinesand. Werklik ’n juweel wat die twee hier staangemaak het. En ’n voorreg dat sy en die kinders dit na willekeur kan gebruik.

O hel, sy moes darem seker eers haar ouers gebel het. Maar sy weet hulle is noordwaarts op soek na die laaste lenteblomme, hulle sal nie hierdie naweek hier uitkom nie. En ander mense laat hulle baie selde hier toe, behalwe hier en daar ’n afvlerkvoël wat ’n ruspunt soek.

Is dit wat sy geword het – ’n afvlerkvoël wat ’n rusplek soek? Sy, dinamiese Vivien van Zyl wat vir haar ’n skitterende nuwe lewe op die wrakstukke van haar huwelik kon bou? Vivien wat veertig nie weer sal sien nie, maar manne die helfte van haar ouderdom gedaan kan dans? Die Vivien wat mense aanraai om elke dag met mening te gryp en die heel beste daaruit uit te wurg as dit moet?

Toe sy uitklim, slaan die seelug koud teen haar lyf. Sy vou haar ligte trui stywer om haar lyf, voel hoe skraal sy is en glimlag by haarself. Sy is klaar gedans na ’n man se pype, klaar opgetel agter die seuns, klaar tweede viool gespeel. Dis net reg dat sy haarself ’n slag eerste stel. En dit behels onder andere dat sy met haar lyf kan maak nes sy lekkerkry; dit vet voer of uithonger, nes sy voel.

Hierdie paar dae is ek-tyd vir haar, en basta met die res. Sy sal ’n bietjie wegkruip, in die son lê en haar boeke lees en haar spoke uit die verlede finaal begrawe. En Maandag dinge van voor af aanpak.

Sy het reeds haar tas in haar kamer gesit en stap deur die woonvertrek om die los goed te gaan haal, toe sy onraad bemerk. In die middel van die koel blou en wit vertrek steek sy vas en kyk onrustig rondom haar. Die kussing met skulpmotiewe op die een gemakstoel is ingeduik, die koffietafel staan baie effens skuins. Klein dingetjies, maar nie dingetjies wat haar ma se skerp oë sou ontgaan nie. Waar Veronica is, staan dinge regop en haaks, dit verval nie in onnodige gemak nie.

Toe sy afkyk, staan die hoendervleis knoppiesrig op haar voorarms. Oor moordstories dood sy, maar in werklikheid is sy so bang dat sy kan bars. Sy sal moet agterkom wat hier aangaan  en vinnig ook. Terugry kan sy wragtig nie nou nie. En vir ’n gastehuis sien sy sowaar nie kans terwyl haar ouers se huis hier vir haar regstaan nie.

Haastig stap sy uit op die dek en kyk oor die relings na onder waar haar motor staan en afkoel ná die harde rit. En daar is dit – wielspore in die sand, gedeeltelik uitgewis deur dié van haar eie kar. Maar duidelik dié van iemand anders se voertuig wat by die erf ingery en weer uitgery het.

Ag Vader, hoekom tog nou net mooi hierdie naweek? Die een keer in haar lewe dat sy behoefte het aan alleenwees? Normaalweg sou ’n huismaat vir haar geen probleem gewees het nie, sy dink soms sy is nog steeds aan die inhaal ná die eensame tyd saam met Wilhelm op die plaas. Van gesels kry sy nie maklik genoeg nie. Maar nie hierdie naweek nie. Hierdie naweek is bedoel vir bestekopname, hergroepering.

Sy vlieg om en drafstap deur die huis. En daar is dit, in die seuns se kamer wat nog kompleet daar staan soos in hul seuntjiedae met sportheldduvets en vakansiefoto’s teen die muur. ’n Netjiese naweektassie, ordelik staangemaak langs die bed. Op die bedkassie ’n leesbril en ’n dik Afrikaanse roman, van die soort wat sy gelees het toe sy ’n taalonderwyser was en waarvoor sy nou te lui geword het.

Sy bekyk die bril noukeurig sonder om daaraan te raak. Man of vrou? Moeilik om te besluit, die smal goue raam kan vir enigiets gaan. Maar dalk manlik. Versigtig lig sy die boek se buiteblad, loer vir ’n naam voorin. Maar dis ’n biblioteekboek, soos sy in die eerste plek aan die plakker op die rugkant moet agtergekom het.

’n Oomblik oorweeg sy dit om in die koffer te loer, besluit dan daarteen. In die hangkas kan sy darem kyk sonder om te erg deur haar gewete aangekla te word. Maar daar is niks behalwe ’n vergete T-hemp van loskop-Ben en ’n papperige rugbybal nie.

Wel, haar ma-hulle sal nie enige skobbejak hier toelaat nie. Hulle sal maar die beste van die saak moet maak. Die huis is ruim en die strand so wyd soos die Heer se genade, hulle sal wel uit mekaar se pad kan bly.

Toe sy haar foon uit haar handsak grawe, is daar reeds twee ergerlike SMS’e van Ben en een besorgde boodskap van Wim. Die een wil natuurlik weet waar sy is en wie nou die wasgoed gaan doen en wat sy dink hulle moet eet, terwyl die ander vra of sy oukei is.

Here, as sy hulle net nie so liefgehad het nie, dan was dit sekerlik makliker om hulle te laat gaan. Wel, vanaand is ’n goeie punt om te begin. Help julself, x by die c, SMS sy in die taal wat sy weet hulle verstaan.

Ja, sy was nog altyd ’n cool ma. Nie die kinders in verleentheid gestel met outydse aansprake en kritiek op hul musiek of taalgebruik of meisies nie. Sy kon aanpas, saamstap op die pad van grootword. Dis die minste wat sy kon doen, siende dat hulle pa eers wakker geskrik het toe dit al feitlik te laat was om veel impak op hul lewe te hê.

Maar nou probeer hy inhaal, en hy doen dit so effektief dat sy nou ook wat die seuns betref op die kantlyn staan. En kwalik neem kan sy hom nie regtig nie, daarvoor het sy hulle darem jare lank grotendeels vir haarself gehad.

Wel, die geheimsinnige huismaat het seker net gaan sigarette koop of so iets, of dalk gery tot by die beginpunt van die wandelpaadjies tussen die twee sandstrande en ’n ent gaan stap. Sy gaan haar nie moeg maak oor dié siel nie, seker hoeka een van haar ma se afvlerkvoëltjies wat moet kom aansterk hier.

Sy gaan stort lank en lekker, trek ’n sweetpak aan en maak haar op die bank tuis met ’n beker koffie, ’n lekker groot stuk nougat en haar boek. Die soetigheid en die kafeïen en die intrige laat stadigaan die knop op haar maag oplos, die bitter gevoel van alleenheid en twyfel wegsypel in die veraf geruis van die see en die wind wat met sagte vingers deur die fynbos vee.

Sodat sy gedisoriënteerd opkyk toe Herman Dreyer windverwaai en stomverbaas in die deur verskyn.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s