Proestukkie: Huis van die wind – Sophia Kapp

Rosalie trap rem toe sy die imposante hek gewaar: swaar klippilare aan weerskante van die ingang en ‘n gietysterboog wat van die een kant na die ander strek en met sierlike letters die naam van die plaas aankondig.

Boshoek, lees sy, en sy voel hoe die afwagting haar kom vollê.

Boshoek. Grootwordplek. Hartplek. Huis.

Sy draai stadig in, hoor die bande oor die veehek girts. Hou dan stil terwyl die enjin saggies luier en haar hande roerloos op die stuurwiel rus.

Dit was al die jare haar baken, hierdie boog, die skeidslyn tussen die wêreld daarbuite en die beskutting van haar kinderjare, waar sy die gedruis en gejaag van die stad waarin sy moes skoolgaan kon afskud en sy weer die rus en stilte en vrede wat haar siel so nodig gehad het, kon terugvind.

Elke Vrydag het haar pa haar by die koshuis kom haal en huis toe gebring. En elke Vrydag het hierdie toneel haar begroet: die regop klipmuur met sy dik pilare wat oupa Willem nog hier gebou het en nou soos ‘n erewag weerskante van die plaaspad staan om haar op haar geboortegrond terug te verwelkom. Die baakhout wat donkergroen en knoetserig in die glooiing van die voetheuwels saamdrom. Die bruin grondpad wat by die laagwaterbruggie oor die stroom na regs swenk, en dan soos ‘n messtreep in die groen gras teen die oorkantste helling uitklim. Porseleinblou lug. Haelwit wolke. Die wind wat deur die soetgras galop.

En in die agtergrond die pieke van die Drakensberg – Ukhathlamba, soos wat die mense wat in sy skaduwee grootgeword het dit noem – wat majestueus en persblou teen die hemel geteken staan.

Elke Vrydag het haar pa die motor hier ‘n paar oomblikke tot stilstand gebring, en elke Vrydag was dit dieselfde – daardie gevoel van tuiskoms, van hoort, van heimat.

Sy het dit nooit bevraagteken nie, bloot aanvaar as haar geboortereg. Hier was almal regverdig en goed, hier het dinge uitgewerk soos wat dit moes, hier het elkeen gekry wat hom toekom, en in die genoegsame kring van hulle klein gesin het elkeen van hulle ‘n plek gehad wat vir ewig aan hulle sou behoort.

Maar dit was ‘n ander tyd, ‘n ander werklikheid, en sy is intussen gedwing om groot te word en op die harde manier te leer dat die idille wat sy gedink het sy geleef het, eintlik net in haar eie kop bestaan het.

Twee en ‘n half jaar – dis hoe lank gelede sy laas hier was. Twee en ‘n half jaar lank het sy hierdie plek uit haar gedagtes geskuif. Het sy elke oggend die voordeur van die nou, regop Eduardiaanse huis in Kensington agter haar toegetrek en haar dagtaak as geleentheidsbeplanner vir een van die groot hotelle in Londen gaan aanpak. Kon sy vergeet van hierdie wye, oop, blou ruimte, van hierdie veld, van hierdie wit Afrika-son wat alles ongenaakbaar blootlê. Kon sy vergeet van die donker, vrugbare aarde waarin hulle Willem twee en ‘n half jaar gelede moes begrawe.

Haar hande klem onwillekeurig om die stuurwiel toe die herinneringe in haar opstu, so onkeerbaar soos syferwater ná die reën.

Willem, met sy groot hande en sy sagte oë. Oupa Willem se naamgenoot, Boshoek se erfgenaam, wie se taak dit was om seker te maak dat daar ‘n sesde geslag Jordaans is wat ná hom op die erfgrond kon boer.

Hoewel sy dit nooit teenoor enigeen verwoord het nie, het sy van kleins af geweet dat Willem nie ‘n boer was nie, nie regtig nie. Sý was die een wat vir haar pa die tang sou vashou terwyl hy drade span, of wat vir hom koffie uit die fles sou skink wanneer ‘n koue front die hele Drakensberg onder ‘n sneeukombers toegegooi het. Willem sou eerder plat op sy rug in die veld lê en opstaar na die onbelemmerde blou boog van die hemel, of ure lank met ‘n verkyker soek na die bergarende se nes in die kranse, of Temba, haar pa se ou Basoeto-voorman, aan sy hand wegsleep om te kom sê watse bok die spoortjies in die sagte sand van die rivierbedding gemaak het.

Maar Willem het hierdie stukkie aarde liefgehad met ‘n passie wat baie dieper geloop het as ‘n behoefte om geld uit grond te maak, en hy het die verpligtinge wat saam met die naam gekom sonder enige huiwering of beswaar aanvaar. Daar was nêrens op die aarde waar hy eerder wou woon as hier in die omarming van die berg nie, en hy was hopeloos benoud en verward in Londen daardie een keer wat sy hom sover kon kry om vir haar te kom kuier. Willem en Boshoek was in haar kop en hart altyd sinoniem. Om nou die een sonder die ander te hê, maak net nie sin nie.

Hulle was nie dieselfde soort mense nie. Hulle was trouens in elke moontlike opsig teenoorgesteldes, sy en hierdie jonger broer van haar, maar hy was die een mens op aarde wat die vermoë gehad het om sonder woorde te begryp wat in haar gemoed aangaan. Daardie afgryslike dag toe sy haar pa se stem oor die telefoon hoor sê het dat Willem met die bakkie in die pas verongeluk het, het ‘n deel van haar doodgegaan wat sy weet sy nooit weer sal terugkry nie.

Dit was maklik om vir die twee en ‘n half jaar haar werk as verskoning voor te hou. Sy het haar daarin verdrink, doelbewus daarin verdrink, en dit was moontlik om haar ma se onsubtiele geskimp en die verlange in haar pa se stem te ignoreer sodat dit nie vir haar nodig sou wees om in die gapende afgrond te kom instaar wat ná Willem se dood voor haar voete oopgeskeur het nie.

En by die enkele geleenthede wat die verlange gedreig het om onhoudbaar te raak en sy wou toegee aan haar eie behoefte om hier te wees, was die gemors waarin sy en Edward was genoeg om haar net daar in Londen te hou. 

Hulle het mekaar liefgehad, sy en Edward. Eens op ‘n tyd het hulle mekaar seker liefgehad, elkeen op sy eie manier. En as hulle dalk ander soort mense was, as Edward net die vermoë gehad het om te wys wat hy voel, as sý net kon leer om hom te vertrou met haar eie menswees, sou hulle dalk ‘n sukses van hulle verhouding kon maak.

Maar hulle kon nie, al het hul albei hul bes probeer. Hulle was net te dieselfde, te gestruktureerd en te emosioneel beheers om in mekaar ‘n maat te kon vind wat die ander behoortlik kon aanvul en verryk. Die breekspul was van die begin af onvermydelik en dis asof hulle al twee die afgelope paar maande gesit en wag het vir ‘n sneller om die proses aan die gang te sit.

In die stilligheid het sy bly hoop dat Edward mans genoeg sou wees om haar om ‘n egskeiding te vra, maar dit was tevergeefs. Hy was voorspelbaar. In elke faset van sy persoonlikheid was hy wat hy voorgegee het om te wees: koel, beheers, konvensioneel. Hy het tot op die einde vir haar gewag om die geding aanhangig te maak.

Uiteindelik was dit Karen wat heeltemal onintensioneel die besluit op hulle afgedwing het: haar jonger suster trou en dit was gewoon ‘n uitgemaakte saak dat Rosalie die geleentheid sou bywoon. Sy is nooit gevra of dit haar pas nie, daar is nooit enige gesprek daaroor gevoer nie. Haar ma het bloot die datum deurgegee en haar gevra om asseblief oumagrootjie Dina se pêreloorkrabbers saam te bring sodat Karen dit op haar troudag kan dra.

Sy sou hier wees, natuurlik sou sy hier wees. Niemand in hierdie wêreld sê vir Henriëtte Jordaan nee nie, allermins ‘n kind wat in haar huis grootgeword het. Maak nou nie saak wát hierdie terugkeer haar sou kos nie, sy sou hier wees.

Rosalie laat haar kop vorentoe sak en laat hom ‘n oomblik op haar hande rus.

Mag sy hierdie week voor die troue tog net oorleef. Mag haar ma só op die troureëlings fokus dat sy nie die spanning opmerk wat lyne om haar oudste dogter se mond getrek het wat twee en ‘n half jaar gelede glad nie daar was nie.

Dis uitstel, weet sy. Die veldslag is so onvermydelik as wat hy verwoestend gaan wees, maar as sy die ware toedrag van sake tot ná die troue vir haar ouers en susters kan wegsteek, wanneer daar ‘n kleiner gehoor is teenoor wie Henriëtte haar misnoeë en verontwaardiging kan lug, sal daar ten minste wegvlugkans wees.

Met ‘n sug kom sy orent en haar oog val op die ringe wat aan haar vinger flonker. ‘n Blote rekwisiet op hierdie stadium, dink sy wrang, maar nietemin noodsaaklik. As sy hou by die storie wat sy uitgedink het, rustig en gemaklik en oortuig daarby hou – dat Edward aan ‘n bouprojek werk en dat hy nie nou daar kan wegkom nie – behoort dit moontlik te wees om almal om die bos te lei. Dit is per slot van rekening haar sterk punt, hierdie vermoë van haar om kalm en oënskynlik gemoedelik te bly al dreig daar allerhande soorte rampe en krisisse op die agtergrond. Dit het haar trouens die afgelope drie jaar aan die gang gehou en haar in staat gestel om haar werk met haar gewone noukeurige stiptelikheid te doen, sonder dat enigiemand agtergekom het dat haar hele wêreld besig was om rondom haar ineen te stort.

Sy kan dit doen. Sy móét eenvoudig.

Met ‘n vasberade beweging druk sy die motor weer in rat en trek versigtig weg. Die pad van die dorp af is deesdae geteer – waarskynlik as gevolg van die verkeer na kwaMoyeni, die nuwe lodge wat intussen op die buurplaas gebou is – maar hierdie stukkie plaaspad tot by Boshoek se opstal is nog gruis, en sy kan sien haar pa is in die proses om hom te laat skraap. Daar is los grond en skerperige klipskerwe oral, en dit kos versigtig bestuur om nie die motor te laat gly nie.

Sy het pas die laaste opdraande aangepak voordat ‘n mens die lang, reguit stuk tot by die huis kry, toe die ongeluk haar tref. Die stuurwiel tol eers skerp na regs, en dan skerp na links, en dan voel sy hoe die motor swaar begin trek. Dadelik haal sy haar voet van die petrolpedaal af en trek aan die handrem terwyl sy die kar na die kant van die pad toe stuur, net soos wat haar pa haar geleer het. En toe sy uitklim om te gaan ondersoek instel, lyk dit ook net soos wat haar pa gesê het dit sal lyk: die band regs voor is pap tot op die velling.

Rosalie staan daar met haar hande op haar heupe, die son wat op haar neerblaak en haar moed wat dreig om in haar hoëhakskoene te sak. Sy het die oggend in die hotel in Johannesburg die peperduur Katherine White-linnerok uit die kas gehaal en aangetrek, al het sy geweet dis heeltemal te deftig en te formeel vir die geleentheid. Maar sy het ‘n kruk vir haar selfvertroue nodig gehad, en die klassieke elegansie van die swart rok het haar in staat gestel om haar skouers reguit te trek en haar ken te lig.

Nou wens sy sy het eerder met haar oudste T-hemp en haar afgesnyde jeans gery, want hierdie skepping is beslis nie iets waarin ‘n mens aan motors werk nie. En daar is mos altyd een of ander kosmiese sameswering wat veroorsaak dat ‘n mens hulp die nodigste het wanneer daar nie ‘n selfoonsein is nie, dink sy vies terwyl sy na die nuttelose instrument in haar hand staar.

Wel, daar is geen ander genade nie, sy sal teen die bultjie moet uitstap en kyk of sy bo ‘n sein kry. Indien nie, is dit voetslaan tot by die huis, hoëhakskoene en al.

Die geluksgodin is haar nie goedgesind nie – die foon bly nog net so seinloos nadat sy die opdraande uit is – maar daar is blykbaar ‘n minder vooraanstaande geluksfêrie wat nog die skakelbord beman en inkomende paniekboodskappe hanteer, want in die verte hoor sy dit duidelik: ‘n dieselenjin wat ‘n paar keer roggel, dan ‘n metaalagtige tieng-tieng-tieng, en dan weer die enjin wat ‘n paar keer hoes en proes voor hy vrek.

Dit was lank gelede dat sy op ‘n plaas gewoon het, maar ‘n mens vergeet nie sommer hoe ‘n onwillige trekker klink nie. Of hoe dit klink as iemand besig is om daaraan te werk nie.

En dit mag dalk net iemand wees wat nie sal omgee om sy hande verder vuil te smeer en vir haar die band om te ruil nie!

Met nuwe moed stap sy nader om te kyk of sy die persoon kan sien. Steek vas toe sy die voertuig gewaar, staan effe besluiteloos toe sy besef dis nie een van haar pa se trekkers nie en dat die voertuig ook nie op hulle grond staan nie.

Boshoek se pad loop hier al langs die grensdraad met die buurplaas, Camelot, wat al die jare aan die Gardiners behoort het. Maar die plek heet nie meer Camelot nie en die Gardiners is ook nie meer die eienaars nie. Die ou man is vyf jaar gelede skielik oorlede en die tannie wou so gou moontlik van die grond ontslae raak sodat sy by haar kinders in Brisbane kon gaan woon. Voordat haar pa nog sy aanbod op skrif kon stel of ‘n eiendomsagent ‘n waardasie kon kom doen, het mevrou Gardiner die grond sommer uit die hand uit verkoop … aan Juan-Carlos D’Oliveira.

Rosalie voel hoe die stramheid onmiddellik in haar skouers intrek. Juan-Carlos, met sy donker oë en sy geniale hande, wat die kuns vervolmaak het om ‘n vrou die een oomblik soos ‘n engel en die volgende soos ‘n hoer te laat voel.

Sy raak eers bewus van die spanning in haar hande toe die selfoon in haar palm inbyt, en sy ontspan haar vingers doelbewus.

Sy is nou sommer onnodig besig om haar eie senuwees op hol te jaag. Die kans dat die eienaar van kwaMoyeni, met sy bekroonde restaurant en luukse chalets, sy foreldamme, sy stalle vol Arabiese stoetperde en sy wêreldbekende endemiese tuin, hier skuins voor middagete op ‘n warm somermiddag met ‘n stukkende trekker sal staan en karring, is nul. Dis tien teen een ‘n werker wat hier swoeg terwyl die baas van die plaas in ‘n lugverkoelde vertrek aan sy enkelmout uit Stuart-kristal teug. Sy kan gerus maar om hulp vra.

“Hallo!” roep sy in die rigting van die trekker.

Tieng-tieng-tieng.

“Hallooo!”

Tieng. Klang!

“Hallo, daar! Kan jy my hoor?”

Hierdie keer is daar beweging. ‘n Figuur wat gebukkend in die trekker se enjin gestaan en grou het, kom stadig orent en kyk op na waar sy staan.

Die skok knal soos ‘n skoot deur haar, en sy voel hoe die ontsetting koud en verlammend deur haar ledemate trek.

Hy is te ver dat sy die gelaatstrekke kan eien, en hy het buitendien ‘n toiingrige ou leerhoed laag oor sy oë getrek wat sy gesig heeltemal in skadu hul. Maar die lyf herken sy onmiddellik, selfs van hier af. Sy herken daardie sterk borskas, die breë skouers en die smal heupe; herken die manier waarop hy staan, so met sy liggaamsgewig op sy agtervoet en sy hande laag op sy heupe gestut.

‘n Oomblik lank wil sy omdraai en vlug, maar sy kry die impuls gelukkig beheer.

Dis net ‘n man, soos enige ander, preek sy vir haarself. Dis glad nie vir haar nodig om weg te hol of ontstig te raak bloot omdat dit juis hý is was daar staan nie. Sy is ook darem nou al dertig en mooi groot, en weet hoe om lastige emosionele reaksies teenoor mense weg te steek. Dis vir haar heeltemal moontlik om haar vrou teen enigiets en enigiemand te staan indien dit nodig sou wees. Selfs teen hierdie man.

Veral teen hierdie man.

Dit kos ‘n keer se keelskoonmaak, maar sy kry ‘n hoflike, onpersoonlike noot in haar stem ingeforseer. “Middag. Ek is jammer om te pla, maar ek het hulp nodig.”

Hy bly eers net so doodstil staan, asof hy besluit of hy gaan reageer, dan trek hy ‘n oliebesmeerde lap uit sy agtersak en vee sy hande daaraan af. Tel ‘n bottel water op en neem ‘n lang sluk daaruit voordat hy met sy voorarm oor sy mond vee. Draai die bottel stadig toe en gooi hom terug in die trekker se kajuit.

Eers toe begin hy nader stap, rustig en tydsaam, met daardie lang, gemaklike treë van hom wat dit laat lyk asof hy ‘n Sondagmiddagwandeling onderneem eerder as om teen ‘n steilerige helling op te stap.

Toe hy uiteindelik voor haar tot stilstand kom, blaas hy nie eers nie.

Hulle staan daar in die helder Natalse son, met die wind wat die gras om hulle roer en die spanning wat soos elektrisiteit tussen hulle vibreer.

Tyd het dit nie verander nie, besef sy. Die afstand het niks gedoen nie. Ook nie die omstandighede nie. Die elektrisiteit is daar, ongevraagd en bitter onvanpas, maar nietemin dáár.

Die enigste manier waarop sy beheer oor die situasie, en oor haarself, kan behou, is om haar oë baie stip op sy gesig te hou. Sy kan nie haar blik toelaat om te dwaal nie, glad nie, want sy weet as sy haar oë gaan toelaat om oor daardie gladde, blas vel van sy kaal bolyf te streel, of selfs vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde te registreer hoe die jeans knus en laag om sy heupe span, gaan sy moet sluk.

Hý, daarenteen, het natuurlik geen probleem daarmee om sy donker blik ewe voorbarig oor elke sentimeter van haar lyf te stuur nie. Van die blonde hare wat sy vanoggend glad en netjies van haar gesig af weggekam het en agter haar kop vasgesteek het, oor haar borste, haar middel, af tot by haar voete in die Louboutins wat sy tydens haar laaste besoek aan Parys gekoop het, en dan weer terug tot by haar gesig. Gemaklik en takserend, asof hy ‘n skouperd op ‘n vendusie staan en bekyk.

Sy wil hom op sy plek sit, maar voordat sy aan iets met ‘n behoorlike angel kan dink, het hy aan die verlepte hoed se rand getrek. “Mizz Rose,” knik hy in haar rigting.

Ergernis stuif onmiddellik in haar op, so onkeerbaar soos rooi stof in ‘n Augustuswind, en sy kners vir ‘n oomblik op haar tande al weet sy hy kan dit sien.

Sy is nie ‘n bynaampie-mens nie. Haar skoolmaats het dit nooit gewaag om een vir haar te skep nie en haar kollegas in Londen het haar altyd op die Engelse weergawe van haar volle naam aangespreek. Selfs Edward het nie eers in hulle intiemste oomblikke met meer vorendag kon kom as die konvensionele en geykte “my dear” nie. Die “Rose” is al klaar soos sand tussen haar tande, maar die stemtoon waarmee hy haar aanspreek, met daardie gemaakte Southern drawl soos iets uit Gone with the wind, is genoeg om haar te laat wens sy kan op haar spykerhakke omdraai en loop.

Maar sy kan nie. Die band is nog steeds pap en sy het nog steeds sy hulp nodig.

“Juan,” sê sy met ‘n koel glimlag. “Ek het so ‘n bietjie teenspoed met my motor gehad en ek het gewonder of jy dalk bereid is om te help?”

Hy staan haar so lank met daardie enigmatiese donker blik van hom en aankyk en sê só lank niks dat sy haarself doelbewus moet keer om te vroetel of aan die babbel te raak.

Hy ontsenu haar, besef sy. Nog steeds.

Die gewaarwording maak haar vies en sy lig haar ken. “Asseblief?”

Uiteindelik kom hy nader tot by ‘n klippilaar, trap teen die basis vas en swaai homself met een, gemaklike beweging oor die draad. Land duskant op al twee sy voete. “Waar staan jou kar?”

Sy stem is net so ryk en net so diep as wat sy onthou.

“Hier onder in die draai.”

Hy kyk haar ‘n laaste keer op en af, draai dan om en begin met die pad aanstryk, sonder om te kyk of sy hom volg.

Teen die tyd dat sy onder by die motor aangetrippel kom, het hy reeds by die pap band gehurk en die situasie bekyk. “Moer toe,” is sy diagnose. “Waar’s jou sleutels dat ek die noodwiel kan uithaal?”

Sy oorhandig dit woordeloos en kyk hoe hy die kattebak oopsluit. Sien dan hoe hy met sy hande in sy sye gaan staan terwyl hy na die spul bagasie kyk. “Waar gaan jy met al die goed heen? Trek jy terug?”

Rosalie voel hoe haar hart ruk. Die stemtoon waarmee hy die vraag gevra het, was spottend, maar die donker oë wat haar vanonder die hoed se rand betrag, sny soos ‘n skalpel.

“Ek is vir ‘n hele rukkie in die land, en ek gaan waarskynlik heelwat rondry,” kry sy vinnig ‘n storie aanmekaargeflans.

“Mmm.” Hy klink nie oortuig nie en hy lyk dit nog minder, maar hy laat staan gelukkig die argument daar. “Wel, ek neem aan die noodwiel is onderin? En bruikbaar?”

“Ja … Wel, ek weet nie, ek neem so aan.”

Hy kom stadig orent. “Jy weet nie?”

“Ek het nie gekyk nie.”

Hy sê niks, maar sy kan aan sy gesigsuitdrukking sien wat hy dink: dom blondine wat niks van karre af weet nie; onnosel vroumens; gevaar vir haarself.

Sy kners nog ‘n slag op haar tande, maar hou haar in. Dis ver huis toe.

Met gemaklike bewegings haal hy die tasse agter uit die motor en sit hulle op die kweek langs die pad neer sodat hulle nie vol stof word nie. Haal die noodwiel uit, bons hom op die grondpad se oppervlakte. “Hy’s nie styf genoeg gepomp nie, maar jy behoort die huis te haal.”

Sy knik. “Is daar iets wat ek kan doen om te help?”

Hy haal eers die domkrag onder uit die kattebak, kyk haar weer ‘n slag op en af. “Dis baie ordentlik van jou om aan te bied, dankie, maar nee.”

Hy laat haar soos ‘n pops klink. En voel. En hoewel sy hom bitter graag eenkant toe wil stamp en die band self omruil, weet sy dat hy reg is. Die rok en pêrels het in haar doelmatige en klimaatbeheerde kantoor in Londen baie komplimente uitgelok, maar hier in die oopte van die veld laat dit haar opgesmuk en totaal uit koers voel.

Hoe is dit dat hierdie man haar so kan ontwrig? wonder sy terwyl sy hom dophou. Dis ten spyte van alles tog net Juan-Carlos D’Oliveira, die stil, rankerige seun wie se pa die kafee op die dorp besit het. Dieselfde seun wat elke Saterdagoggend die boks met aartappels en papajas kar toe gedra het en ewe gedienstig die muntstuk in sy sak gedruk het wat haar ma in sy palm laat val het. Dieselfde man wat in haar matriekjaar op ‘n dorpsdans vir haar gefluister het dat sy die mooiste meisie is wat hy nog ooit gesien het, net om vyf minute later met rykgat Peet Rautenbach in ‘n vuisgeveg betrokke te raak en deur die polisie daar weggesleep te word. Daar is niks aan hom wat haar hoef te intimideer nie, en niks aan sy herkoms of agtergrond behoort haar te ontsenu nie.

Toe hy skielik orent kom en na haar toe draai, gee sy onwillekeurig ‘n tree agteruit. 

Sy sien hoe sy oë vernou, hoe die een donker wenkbrou opwip, hoe hy regmaak om iets te sê.

Maar sy spring hom voor. “Die band lyk vir my erg pap. Sal hy hou tot by die huis?”

Hy staan haar lank en betrag, asof hy haar steeds in ‘n hoek wil keer, maar dan besluit hy blykbaar daarteen. Gelukkig. “Dit sal jou by die huis kry, maar moenie verder as dit probeer ry nie. Vra jou pa om eers daarna te kyk.”

“Oukei. Baie dankie.”

Hy knik net kortaf en draai dan weg om al haar bagasie weer in die kar te laai. Dis toe sy nader staan om die sleutels by hom te kry en in te klim, dat hy haar tussen die motor en die oop deur vaskeer. Hy staan daar met sy een hand op die motor se dak en die ander op sy heup gestut, en met die donker oë wat haar in haar spore vashou asof hy die waarheid uit haar wil intimideer. “Waar’s jou man? Hoekom is hy nie hier om die band vir jou om te ruil nie?”

“Ek … Hy …” 

Donker oë wag, weeg, stroop haar.

Amper lek sy oor haar lippe. 

“Hy’s in Kuala Lumpur. Hy werk daar aan ‘n projek.”

“En nou moet jy maar jou suster se troue alleen bywoon?”

“Nee, hy … kom dalk later. Hulle het probleme op die bouperseel gehad en dit was nodig dat die argitekspan daar moes wees … “

Haar stem sterf weg. Hy het nie geroer nie, maar dit voel letterlik vir haar asof hy haar al hoe vaster teen die kar druk. Die blik waarmee hy haar vaspen, is al genoeg om haar kortasem te maak. Maar die res van hom … Sy hele menswees is een bondel rou seksualiteit; ongebreidelde, ongetemperde manlikheid, wat ‘n vrou trek soos wat ‘n kers ‘n mot trek.

Sy swaai om en klim vinnig agter die stuur in. “Baie dankie vir jou hulp, ek waardeer dit. Jammer dat ek jou uit die werk gehou het. Ek moet ry, hulle verwag my vir middagete by die huis.”

Dis ‘n infame leuen. Haar ma-hulle weet nie eers dat sy op pad is nie, maar hy hoef dit nie te weet nie. Enigiets om nou onder sy oë uit te kom.

Hy stut weer sy hande op sy heupe, en sy sien die spiere onder die vel dans.

Sy ruk haar oë weg en fokus haar blik op die pad voor haar.

“Oukei, Mizz Rose, jy kan maar ry. Sê groete van huis tot huis.”

Sy hoef nie op te kyk om die snedige grimas te sien nie – die ironie lê sommer sy hele stem vol. En sy weet dat hy weet dat sy weet. Die arrogante bliksem!

Maar sy talm nie verder nie, skakel net weer die enjin aan en druk die motor vinnig in rat, verlig dat die onderonsie agter die rug is en sy kan wegkom van daardie donker, broeiende teenwoordigheid. Weg van Juan-Carlos D’Oliveira, weg van die onheilspellende trekkrag wat hy op haar het, weg van haar eie, onsinnige reaksie daarop.

Sy kry dit reg om haar oë stip voor haar te hou tot waar die draai van die pad hom uit haar gesigveld gaan neem. Vinnig kyk sy in die truspieëltjie.

En presies op daardie oomblik trek hy weer aan die hoed se rand, so asof hy geweet het sy gaan nie hou nie.

4 thoughts on “Proestukkie: Huis van die wind – Sophia Kapp

  1. Susan says:

    Ek het toe die boek dadelik gaan koop en kon dit nie neer sit nie. Dis ‘n uitstekende boek, alles wat jy in ‘n liefdesroman soek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s