Proestukkie: Deborah – Chanette Paul

Die ringmure staan haar met eeue oue geduld en inwag toe sy daar kom en sy voel ineens effens verspot oor die haas waarmee sy teen die berg op is.
Sy rus eers bietjie, druk haar hoed diep oor haar oë en begin dan die klipmuur volg. Dis langer as wat sy gedink het. Eers nadat sy reg rondom gestap het, gaan sy na waar sy vermoed die ingang aanvanklik was. Binne-in die kraal is daar nog klipmure. ’n Hut, raai sy toe sy in die middel van oorblyfsels van ’n sirkelmuur so groot soos ’n rondawel gaan staan. Haar oë fynkam die grond en buk verras by ’n paar potskerwe wat op ’n hopie lê. Versigtig tel sy die grootste skerf op. Op die boggeldeel is daar versierings aangebring, sien sy met groeiende opwinding – parallelle strepe, en tussenin eweredige speldeprikkies in die klei gedruk. Die pot waarvan hierdie skerf voorheen deel was, besef sy met verwondering, is gebruik deur mense wat honderde jare gelede water daarin gehou het, of graan, of …
“My magtig, ek het julle mooi gevra om hier weg te bly!” Die diep stem slaan soos ’n sweepslag.
Deborah ruk van die skrik en laat val die potskerf toe sy opspring en omdraai. Agter haar, geëts teen die helderblou lug, met sy hande in sy sye,staan een van die grootste mans waarop sy haar oë nog gelê het.
Hy gee ’n dreigende tree nader, maar gaan staan weer toe Deborah vervaard agteruittree. “As ek my sonde nie ontsien nie!” roep hy uit toe daar van die potskerwe onder haar oprygstewels stukkend knars. “Kyk waar jy loop en probeer die potskerwe met jou lomp pote mistrap, knapie! En kom onmiddellik uit my kraal, anders is daardie baardlose kinnebakkie van jou daarmee heen. Hemel, ek het verstaan my bure is formidabele mense, eerbaar ook. En nou kom staan en trap so ’n slungeltjie van ’n knaap my potskerwe stukkend.”
Deborah kyk verbouereerd af na die grond en trap versigtig terwyl sy na die uitgang se kant toe beweeg. Toe sy buite die verbrokkelde ringmuur kom, bly sy op ’n veilige afstand van die groot man af staan. Met die son agter hom en die hoed se skaduwee wat oor sy gesig val, kan sy nie sy gelaatstrekke uitmaak of sy oë sien nie. En tog trek daar ’n vreemde gewaarwording deur haar. Dis seker van die skrik dat die lug so suurstofloos voel, haar hart so hamer. Of miskien omdat hy so dreigend daar staan.
“Nou toe,” hy beduie ergerlik Bergendal se kant toe, “skoert van my grond af en gaan loop sê jou pa ek spring volgende keer met die karwats onder julle seuns in as julle weer hier kom foeter. Gelukkig begin die skole seker binnekort, dan hoef ek nie voortdurend met die verkyker te sit en dophou wat hier aangaan nie.”
Deborah wil-wil lag kry omdat hy hom so met haar misgis, maar dit pas haar dat hy dink sy is ’n skoolseun wat kwaad doen. “Jammer, oom,” brom sy van onder haar hoed se rand uit.
“Jammer help nie. Ek sal nou nooit weer daardie pot aan mekaar gelym kry nie. En dit danksy jou.” Hy sug en skud sy kop. “Toe, ek wil sien dat jy Klipfontein se stof van jou voete afskud, en bewaar jou siel as jy weer hier naby kom.”
Net so befoeterd soos die ou Engelsman, maar darem sonder ’n haelgeweer, dink Deborah terwyl sy kop onderstebo wegstap en dan begin draf om onder die man se oë uit te kom – skielik nie seker hoekom sy vlug nie, want bang vir hom is sy nie. Nie regtig nie. Sy kan sommer sien hy is meer blaf as byt. As hy haar nie vir ’n seun aangesien het nie, sou sy nie so gedwee die aftog geblaas het nie, maar om een of ander duistere rede is sy maar net te dankbaar sy kan ontsnap voordat hy dalk besef dat sy nie ’n seun is nie. Ontsnap aan ’n situasie waar hulle moontlik as man en vrou teenoor mekaar te staan sou kom. Sy weet nie hoekom nie, net dat dit anders sou gewees het, al weet sy nie mooi hoe nie.
O, genade, die man moes weer gebel het, besef Deborah toe sy vader Joshua sien staan waar hy haar op die stoep inwag, hande in die sye en moord in sy oë. Deborah trek haar skouers agteroor en staal haar teen die aanval wat sy sien aankom.
“Het jy dalk enige verklaring daarvoor dat ons nuwe buurman soos ’n woedende leeu te kere gegaan het oor my seun van sy potskerwe vertrap het, Deborah Davel?” takel hy haar toe sy voor hom gaan staan.
“Ek is jammer, Vader. Ek wou net …”
“Gaan rondkrap op ’n ander man se eiendom? Nadat ek jou uitdruklik gesê het om nie jou voete op sy plaas te sit nie? Gehoorsaamheid aan ’n mens se vader bewys dat jy respek het vir hom, Deborah, en ek moet dus aanneem dat jy vir my geen respek het nie. En kan mens die man kwalik neem dat hy my dogter aansien vir ’n opgeskote knaap? Kyk hoe lyk jy. Ek was selfs te skaam om vir die man te sê dat dit eintlik my dogter is wat op sy eiendom rondgeflenter het. Dit maak van my ’n leuenaar en jy weet hoe ek oor leuens voel! Ek weier sommer dat jy na Aidan en Willemien toe gaan vir die ontydige etery waarheen hulle jou uitgenooi het.”
Deborah kyk verras op na haar pa. “Etery?”
“Ja, ek en Moeder kan nie gaan nie, maar Aidan het mooi gevra dat jy tog kom omdat daar iemand is wat hy aan jou wil voorstel. Glo een of ander grafgrawer of oudheidkundige of iets. Petronella iemand.”
“Pernella? Pernella Patterson?” Deborah gee ’n opgewonde gilletjie. “Dan het hy …” Sy bly net betyds stil. As haar pa agterkom sy het Aidan met so ’n verwaande versoek genader, sal sy behoorlik les opsê, en definitief nie op Orange Hall uitkom nie.
“Dan het hy wat?” Joshua kyk dreigend na haar.
“Dan het hy onthou dat ek eenkeer gesê het ek sal haar baie graag wil ontmoet,” plooi sy die waarheid.
“Ek sal nog besluit of jy kan gaan. Hempies kan jou seker met die spaaider vat, maar as jy jou voete weer op die Engelsman se plaas sit, is dit neusie verby, Deborah, verstaan jy? Ek wil nie moeilikheid met my buurman hê nie. Ek wil nog met hom gaan gesels oor verkoop, of grond verhuur. Ek het die weiding bitter nodig vir die bees. En ná vandag is my kanse seker reeds nul.”
Hy gluur haar weer aan, maar sy kan sien hy plak dit bietjie aan vir effek. So groot as wat haar pa is en so kwaai as wat hy soms kan wees, kon hy nog nooit baie lank vir sy kinders kwaad bly nie. “Toe, gaan trek jou ordentlik aan. Soos die meisiekind wat jy is.” Hy skud weer sy kop. “Waar ek aan dié wildewragtig van ’n dogter kom, weet nugter,” brom hy en stap dan weer die huis binne.
Selfs haar pa se ontevredenheid kan haar opgewondenheid nie demp nie. Sy gaan Pernella Patterson ontmoet! Sy het ’n potskerf in haar hande gehou wat dalk honderde jare oud is. En sy het vlinders in haar voel rondfladder onder die blik van ’n man wat meer man is as enigeen wat sy al ooit ontmoet het.
Deborah rol haar oë vir haarself. En waar kom daardie laaste gedagte vandaan?
Te veel son. Sy het definitief te veel son gekry.

One thought on “Proestukkie: Deborah – Chanette Paul

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s