Proestukkie: Ninja in satyn

Sy loer om die tent. Tot haar verbasing sien sy nie die rondsluiper nie. Sy kon sweer hy was nog enkele sekondes vantevore daar. Sou hy onder die bome ingegaan het?

Sterk hande gryp skielik om haar lyf. Fokus, Jade! Sy gooi die aanvaller met een blitsige beweging oor haar skouer. Hy gryp haar om haar nek en trek haar saam. Hulle rol al hikkend oor mekaar teen die grasterrasse af.

“Oemf,” snakhik sy toe hulle oor die trap val, verder rol en feitlik teenaan die heining aan die bokant van die swembad stop. Sy mik en slaan sekuur in die opstaan na sy neus. Hy blokkeer die hou vinnig, maar sy draaigryp sy hand en skop sy bene onder hom uit. Die sluiper is haar een voor toe hy haar weer saamtrek, omrol en haar hande blitsig bokant haar kop vasdruk. ’n Skop in sy maag laat hom na asem snak. Dan sit hy bo-op haar bene. Sy spartel, maar sy krag is net te veel vir haar. Net haar pa kon haar tot op hede so vinnig uitoorlê.

Haar asemhaling is hortend. In die agtergrond hoor sy haar span se vinnige voetstappe teen die bult opkom. Sy moet net kalm bly. Die man bo-op haar gaan dit nou baie swaar hê, al is die span goed gedrink. Let op na uitkenbare eienskappe van hom, skop haar opleiding in.

Dan spoel verlamming genadeloos deur haar lyf. Dit voel of al die suurstof uit haar spiere verdwyn. Kan dit wees?

“Jy!” sis sy woedend.

Verbasing spoel oor Rocco se gesig waar hy kaalbolyf, met net ’n bokserbroek aan, op haar sit. Sy borskas deins op en af. Sy oë flits oor haar opgetrekte satynnagklere en ’n kragwoord glip oor sy dun getrekte lippe.

“My magtig, maar Jade is hardekwas. Nes ons vir haar ken. Het Fred Astaire smekend op sy knieë,” sugsê Vambo moedeloos.

Jade kan nie glo wat sy hoor nie. Kan hulle nie sien wat … ?

“Net een ding om in dié geval te doen,” onderbreek Skip haar gedagtes.

“Ja-nee, die tweetjies moet afkoel,” sê Vambo.

Tot haar ontsteltenis beaam die res van die span dit. Vier van hulle gryp Rocco wat woes begin keer. Die ander gryp haar.

“Nee! Julle verstaan nie!” skree sy vir hulle, maar dis te laat.

Sy en Rocco trek oor die reling reguit af swembad toe.

Met een sterk haal swem hy kant toe waar hy uitklim. Sy bokserbroek klou aan sy afgeronde lyf.

Goeiste! Sy kyk vinnig weg. As hy marmerwit was, kon hy net daar langs die swembad bly staan het as ’n Griekse god.

“Ek is kaptein Rocco Jordaan, julle nuwe bevelvoerder. En ek stel voor dat julle dadelik in julle beddens kom!”

So, dis hoe dit voel as ’n bom jou tref, dink Jade. Dit voel of net haar vel haar lyf bymekaarhou soos wat al wat ’n emosie nou deur haar liggaam hardloop.

3 thoughts on “Proestukkie: Ninja in satyn

  1. lendewaal says:

    Elsabe, dit is ‘n riem onder die hart om positiewe kommentaar op mens se werk te ontvang. Mens kry sommer moed om verder te skryf. Duisende dankies!
    My eerste boek is Vuur en Ys en Ninja in Satyn is die tweede een. Ek skryf aan die volgende een. Sukkel bietjie met hom, maar ek skryf!

  2. Elsabe says:

    Lene, ek het die boek gister gelees en kon dit nie neersit nie. Dit was nou vir jou romanse. Het jy
    dalk nog boeke geskryf? Skryf sussie skryf!!!!!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s