Proestukkie: Voltooide sirkel – Madelie Human

Skielik staan die oorsaak van haar ellende by haar asof haar gewroeg hom uit die niet opgetower het. Die dowwe maanlig verf blink strepe oor sy swart hare, maak misterieuse skaduwees wat in die holtes van sy wange en oë opdam en sy sterk gelaatstrekke nog meer prominent laat uitstaan, haar asem steel en haar hele lyf laat prikkel asof die haartjies op haar vel oplig.

Haar trane verdamp summier, sy snak na asem, maak gereed om voet in die wind te slaan. Hy steek egter albei sy arms uit en stuit haar vlug teen sy bors. Riëtte bly roerloos staan.

Hy uiter nie ‘n woord nie, trek haar net stywer teen hom vas.

Haar oë gaan vanself toe en sy word bewus van sy rukkerige asem wat warm voel teen haar slaap. Haar hande kruip na sy skouers toe, loop vanself om sy nek. Haar vingerpunte vat ‘n stewigheid raak wat haar onmiddellik geanker laat voel. Sy arms span stywer om haar, druk haar vas teen die hitte van sy lyf. Die afgelope ure se dink en wonder oor hom, die begeerte na sy aanraking wat al die hele dag aan die opbou is, maak dat sy die koestering aangryp, hongerig verorber. Henning druk sy gesig in haar nek, dwing haar kop agteroor. Die aanraking van sy soekende lippe in haar nek op tot by haar mond laat haar saggies kreun. Dit por hom net meer aan en hy druk haar met die hele lengte van sy lyf teen die muur vas.

Ongeduldige hande beweeg oor haar asof die dik wolmateriaal van haar kamerjas hom frustreer. Met ‘n ongeduld van haar eie stoot sy hom effens terug sodat sy hand die knoop van die lyfband kan bykom en losmaak, voel sy die tevrede grom teen haar lippe toe hy daarin slaag.

Die sagte katoen van haar nagrok dien slegs om die prikkeling van sy strelende hande te verhoog. Haar borste reageer onmiddellik op sy aanraking en hy vul sy hande gretig met die plomp sagtheid daarvan.

Henning trek haar weer in sy arms in, soen haar diep totdat ‘n klein kreuntjie van oorgawe uit haar keel ontsnap. Hy lig sy kop. “Ja, of nee?” vra hy terwyl sy lippe haar oor liefkoos, sy asem nou rukkerig.

“H’mm …” sug sy, laat sak haar kop agteroor, bied haar keel aan vir meer van sy aandag. Dis al toestemming wat hy blykbaar nodig gehad het. ‘n Tevrede grom wat by sy keel uitglip, laat haar toegee aan ‘n onkeerbare drang om nog nader aan hom te kom.

Sonder om haar weer kans te gee om te huiwer, stoot hy haar by die oop kamerdeur in tot by die deurmekaar bed. Terwyl hy die deur toedruk, loop sy oë koesterend oor haar.

Soos in ‘n stadig, tergende ontkleedans raak hulle van hul kledingstukke ontslae terwyl hul oë mekaar vashou, liefkoos, vereer. Knope glip los tussen liggies bewende vingers en die gedempte geluide van ritssluiters en gespes wat loskom, skoene en pantoffels wat sag op die mat neerplof, die geritsel van materiaal op materiaal word erotiese klanke, bepaal reeds die meesleurende ritme vir dit wat gaan kom.

Uiteindelik staan hulle voor mekaar, ontdaan van alles behalwe hul begeerte na mekaar. Stadig stoot hy haar om sodat sy op die bed neersak, volg haar en druk haar met sy volle gewig teen die kussings in die sagte matras in. Vir lang tellings lê hulle net so, meet hulle lywe teen mekaar, drink mekaar se nabyheid in.

Riëtte drink die bewondering en suiwer begeerte wat uit sy oë straal, gretig in. Die streling van sy hande en sy mond demonstreer sy honger na haar. Opwinding laat haar innerlik bewe. Hierdie is dit waarvan sy deur al haar jongmeisiedae gedroom het. Die teerheid en verwondering in sy oë is die antwoord op al haar versugtinge. Die ekstase wat sy liefkosings teweegbring, is alles wat sy graag vir haarself wou hê. Sy gee haar oor aan elke sensasie en voel mettertyd hoe ‘n maalkolk wat in haar opbou en opbou, begin smeek om uiting.

Riëtte bêre die beeld van die man met die speling van die sagte lig in die holtes van sy gelaat diep in haar hart. Sy weet dat sy vir altyd die sagte geur van die bakkie pot pourri langs die bed met hierdie wonderlike oomblikke sal assosieer. Die afwagting vir wat gaan kom, laat haar liggies bewe.

“Myne,” fluister hy en druk sagte soentjies in haar nek en op haar skouers. “Minette?”

Die skor uitroep dring asof deur digte newels tot haar deur. Haar hart ruk. Alles in haar skok tot stilstand. Daar heers ‘n algehele stilte in haar kop vir ‘n hele paar tellings. Het sy reg gehoor, of was dit die stem van haar gewete? Haar vingers laat los onwillig sy hare waar hulle verstrengel geraak het, gly willoos af tot op sy skouers.

Riëtte kry skielik nie asem nie, dit voel asof sy gewig op haar haar gaan versmoor. Afgryse maak haar lyf, wat ‘n oomblik gelede van kop tot tone getintel het, vir ‘n paar tellings gevoelloos. Die stilte in haar kop word vervang deur haar suster se naam wat oor en oor deur haar brein weergalm asof hy dit uitgegil in plaas van die sagte uitroep wat dit was. Sy druk haar hande oor haar ore om dit te probeer stilmaak.

Het hy haar sopas Minette genoem? Sy het haar dit beslis nie verbeel nie! Dan kom haar asem en die lewe in haar ledemate terug. Met albei hande teen sy bors stoot sy hom met geweld weg van haar af, stamp hom letterlik van die bed af. Sy spring soos ‘n opgewende veer van die bed af, gryp wild na sy kledingstukke, pluk die deur oop en gooi dit een vir een uit op die stoep terwyl sy wurgend snak na asem.

Henning spring van die vloer waar hy geland het op, probeer haar teëhou, maar sy is onkeerbaar en stamp hom net so poedelnakend agter sy klere aan by die deur uit.

“Riëtte … wag … nee!” kreet hy dit uit, maar sy slaan die deur in sy gesig toe en sluit dit om seker te maak dat hy nie weer kan inkom nie, trek die dik gordyne dig toe.

One thought on “Proestukkie: Voltooide sirkel – Madelie Human

  1. Bets Smith says:

    Dit klink na ‘n disaster wat ‘n plek gekry het om te gebeur! Demit, nou moet ek wag tot Desember voor ek verder kan lees want die boek is by my ma.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s