Proestukkie: Skrikkelmaan – Bets Smith

Dis steeds donker toe sy weer met angstig-kloppende hart uit ’n sluimer-slaap wakker skrik. Sy sit regop in die bed, luister aandagtig. Dis maklik om te besluit vrees is nie haar baas nie, moeiliker om dit deur te voer. Dit wat haar wakker gemaak het, het haar kalmte weer heeltemal verwilder. Sweet slaan op haar vel uit en maak dit duidelik presies hoe min beheer sy oor haar liggaam het.

Hierdie keer was dit stemme wat haar wakker gemaak het. Sy het van haar pa gedroom, het met hom gepraat en hy het geantwoord. Nou is  sy wakker en sy kan die stem nog hoor.

Koue hardloop oor haar kopvel, teen haar werwels af. Iets drasties is verkeerd. Haar onderbewuste weet dit, dis net haar bewuste wat dit nie kan uitpluis nie.

Die murmeling van stemme is nie hard genoeg dat sy die woorde kan onderskei nie. Man. Vrou. Vraag-en-antwoord. Afrikaans, nie Engels nie. ’n Gesprek, nie ’n stryery soos vroeër nie. Moira se Afrikaans het ’n sterk Engelse aksent. Dis nie sy nie.

Sy ken albei stemme, die een baie goed, besef sy paniekerig.

Dis onmoontlik.

Maar tog … Sy herken die stem meer aan timbre en toonhoogte en intonasie as aan enigiets anders. Sy kén die stem. Sy bewe rukkerig, haar tande klap opmekaar. Sy het gewéét hier is te veel herinneringe, sy moes eerder die huis verkoop het, maar Gary het haar omgepraat om dit te hou. Sy moes nie toegegee het nie.

Sy vou haar handpalms oor haar mond, hoor kermgeluidtjies wat weier om heeltemal gedemp te word, in haar keel vorm.

Dit kan nie wees nie. Dis ’n droom, ’n nagmerrie waaruit sy netnou gaan wakker skrik. Sy druk haar mond teen haar kussing om die klanke van angs uit te doof, trek haar bene daarteen vas en hou albei styf teen haar bors, haar arms oor haar kuite gekruis. Met haar oë teen haar knieë gedruk, vou sy haar hande oor haar kop. Dis dan hoe mens voel as jou kop jou los, onthou sy hoe Joena altyd verwys het na iemand wat seniel raak. Jy is van jou sinne beroof, Beáte, sou haar ouma Toerien reguit gesê het.

Sy druk nie haar ore toe nie. Sy wil hoor. Sy móét hoor, moet seker maak, al sal dit beteken haar brein is baie vroeër as wat sy verwag het besig om haar in die steek te laat.

Dit ís sy stem. Die ander een kan sy nog nie plaas nie. Voordat angs oorslaan in volskaalse histerie, spring sy uit die bed. Haar pa is hier. Hulle het ’n fout gemaak, hy is nie dood nie. Sy skakel die bedliggie aan, hardloop deur toe, ruk dit oop, maar die stemme sterf vinnig weg.

Sy bly staan in die gang, luister aandagtig, maar die huis is grafstil. Buite kan sy die normale naggeluide hoor: die veraf geruis van die stadsverkeer, ’n kriek iewers in die tuin, ’n bosuiltjie in die koppie agter die erf. Alles doodnormaal asof die gedempte gesprek nooit plaasgevind het nie.

Haar pa is nie hier nie. Hy is dood.

Tog hét sy die gesprek gehoor, nie gedroom nie. Dit was onmiskenbaar haar pa se stem. Dis hoekom sy moet wegkom. So gou moontlik, so ver moontlik, of sy verloor haar verstand. Al is dit net vir ’n paar dae, moet sy afstand sit tussen haar en hierdie huis waar herinneringe aan haar pa nie meer troos bring nie.

 

2 thoughts on “Proestukkie: Skrikkelmaan – Bets Smith

  1. Alma Carstens says:

    Ek wil hierdie boek he, gaan dit Desember wanneer ons in SA is, soek om te koop! Baie geluk, Bets.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s