Proestukkie: Annabella – Chanette Paul

“Op die toekoms, Annabella,” lig Ben sy sjampanjeglasie.
Annabella glimlag. “Die toekoms.”
Ben sit nie sy glas neer ná die eerste teugie nie en kyk indringend na haar. “Ek sal graag wil sien dat jy deel uitmaak van mý toekoms, Annabella.”
Annabella se hand ruk effens toe sy verras na Ben kyk. “Maar Ben …” Hy maak haar met ’n kopskud stil. “Ek weet jy het planne en ek het sekerlik ook planne, maar jy sal vir my ’n wonderlike aanwins in die toekoms wees, Annabella. Jy is nie vreeslik berese nie, maar jy is belese, jy het dekorum, jy’s pragtig, verfynd en gekultiveer. En jy kom uit ’n gerespekteerde familie. Ek dink ons kan baie vir mekaar beteken.” Hy lig sy glas hoër. “Ek besef dit sal tyd en geduld neem, maar ek wou hê jy moet weet. Weer eens, op die toekoms.”
Annabella kan hom net oorbluf aankyk. Ben glimlag geduldig. “Ek sien ek het jou verras.”
“Verras is nie die woord nie, Ben. Jy weet tog ek gaan Stellenbosch toe? En buitendien, ek dink nie …”
“Stellenbosch lê nie aan die einde van die aarde nie, Annabella. Om die waarheid te sê is ek uitgenooi deur die Women’sEnfranchisementLeague van die Kaapprovinsie om hulle te kom toespreek oor my siening van hoe die toekenning van vrouestemreg Brittanje geraak het. Die voorlopige datum is in Maart. En ene mevrou Malan het my genader om in ’n raadgewende hoedanigheid vir haar groep op te tree. Daar is ook ’n goeie kans dat ek een van die parlementêre kommissies belas met die saak sal toespreek. Ek sien jou dus sommer kort ná jou vertrek weer.”
“Dis sekerlik ’n groot eer, Ben, dat hulle jou insigte so hoog ag,” is al waaraan Annabella kan dink om te sê.
“Ek het ’n uitstekende akademiese rekord en het gespesialiseer in politieke regsaspekte. Ek is goed voorberei vir ’n loopbaan in die politiek en ek het deur middel van my pa op die hoogte van Suid-Afrikaanse politiek gebly.” Hy neem nog ’n slukkie sjampanje. “My toekoms is blink, Annabella. Ek is vas van plan om diep spore in die geskiedenis van hierdie land te trap. Met jou aan my sy sal dit net nog beter gaan. Die Afrikaner-kontingent is ’n belangrike een, al besef almal dit nie altyd nie.”
Rondom hulle klap mense beskaaf hande en Annabella sien hoe die pianis buig en van die verhogie afstap, maar dit registreer nie werklik nie. “Ben, ek is seker baie meisies sal jou woorde as ’n kompliment interpreteer, maar een ding het jy uit die oog verloor … Ek is nie ’n politieke pion nie. Ek is ’n vrou en ’n individu. Ek sal net ‘aan die sy’ van ’n man wees wat my werklik liefhet. As Annabella Davel – die méns en die vrou wat ek is. As hy vir my sê dat ek baie vir hom beteken, wil ek weet dis omdat hy my liefhet – nie omdat ek by sy beeld pas of die Afrikaner-kontingent kan beïnvloed nie.” Annabella se stem het laag gedaal. Sy skuif haar stoel knarsend agteruit. “Verskoon my, ek gaan die ruskamer gebruik.”
Annabella probeer daarop konsentreer om te kalmeer terwyl sy blindelings tussen die tafels deurvleg. Haar verligting toe sy buite sig van die mense is, is so groot dat sy voor die deur van die ruskamer tot stilstand kom en haar oë dig toeknyp om weer beheer oor haar gevoelens te kry. “Opgeblase, arrogante vént!” prewel sy woedend.
“Ek is baie bly dis nie na my dat jy verwys nie.” Die stem is tergend en diep en melodieus, en sy Hollands dra swaar aan ’n vreemde aksent.
Annabella se oë vlieg oop. Hy staan met sy skouer geleun teen die muur by die ruskamer vir mans, sy arms gevou en sy enkels gekruis. Sy bly verstar staan waar sy is toe hy nader kom en reg voor haar kom staan. Sy moet haar nek agteroor knak om op te kyk na sy gesig – sterk en ru op een manier, en tog fynbesnede op ’n ander. Hoë wangbene, ruie wenkbroue, ’n sterk ken, en tog ’n fynbesnede neus en mond. Asof twee soorte gesigte bymekaargekom het en die beste gelaatstrekke van elk gekies is om hierdie man sy asemrowende aantreklikheid te besorg. Sy hare glim dig en pikswart en krul langerig in sy nek, sy oë is grysblou met goue vlekke wat dans en terg en vlei en liefkoos, alles tegelyk. Annabella besef ineens dat sy skaars asemhaal en dat sy die man behoorlik … nee, ónbehoorlik … aanstaar. Sy versluier haar oë vinnig en probeer hom systap om by die ruskamer se deur te kom, maar hy tree weer voor haar in. Sy werp hom ’n ergerlike blik toe. “Verskoon my …”
“Nie voordat ek jou naam ken nie.” Sy tande is pêrelwit en eweredig, buiten ’n oogtand wat baie effens ongemaklik tussen die ander sit, maar pleks dat dit afbreuk doen aan sy tergende glimlag, maak dit iets warms en weeks agter haar naeltjie wakker.
Annabella lig haar ken en kyk vas in sy besonderse oë, omraam deur roetswart wimpers. “Verskoon my, meneer, maar ek gee nie my naam aan vreemdelinge nie, en as jy my nie nou onmiddellik laat verbykom nie, roep ek om hulp.”
“Jou oë is ’n bergpoel met die son wat daarin flikker. Jou vel soos maanskyn op ’n meer van melk. Jou hare … ebbehout in ’n somerson.” Sy stem mesmeriseer haar net soveel as die woorde. Die houtvloer wat agter hulle kraak, verbreek die towerkrag van die oomblik.
“Annabella! Ben het gesê jy is …”
Annabella kyk om. “Deborah, dankie tog.” Deborah het agter hulle vasgesteek en kyk van Annabella na die man met die uitlandse aksent.
Toe Annabella weer na hom terugkyk, gee hy galant pad en beduie dat hulle kan verbystap. “Annabella,” fluister hy sag toe sy langs hom kom en dan draai hy weg en verdwyn op sy beurt in die mans se ruskamer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s