Proestukkie: Adam se plan, Jacolet v.d. Berg

“Hier hou ons die honde wat gereed is vir aanneming,” beduie sy sommer solank om hom met Vierpoot vertroud te maak. “Daar agter is die honde wat nog nie gereed is nie en in daardie seksie is die katte. Ek sal jou later die kampie gaan wys. Ons het twee donkies en ʼn skaap ook op die oomblik.”

Sy lees effense verbasing op sy gesig en stoot haar ken trots uit terwyl sy fyn glimlag. Die kantoormeubels is nou wel gehawend, maar die geriewe vir die diere is onverbeterlik. Daarvoor het haar effektetrust gesorg. Adam Hattingh sê nie veel terwyl sy verduidelik nie en sy wonder onseker of hy meer besonderhede wil hê.

Sy sluit haar kantoor oop en tree vinnig na binne toe die hitte van sy teenwoordigheid agter haar die haartjies oor haar hele lyf laat regop staan.

“Dankie. Sit die plakkate sommer hier teen die muur,” beduie sy voor sy byna om haar lessenaar vlug om ʼn soliede voorwerp tussen hulle te kry.

Hy lees vlugtig deur die plakkate en die kepies langs sy mondhoeke verdiep. “Is dit joune?” vra hy terwyl hy dit in die hoek staan maak.

Sy ontwyk sy oë en kyk af na haar hande wat op die lessenaar rus. Haar hart is steeds met ʼn resies besig. Hoe is dit moontlik dat die man haar so ongemaklik laat voel? Is sy gesteld op wat hy van Vierpoot of van haar dink?

Sy byt op haar lip en lig weer haar oë. Al ken sy hom van geen kant nie, is sy beslis nie skaam vir wie sy is nie. Hy is immers hier om hulle te ondersteun. Vir al wat sy weet, betoog hy ook vir sake waarin hy glo.

“Ja, ek beskou dit as deel van my werk,” antwoord sy eerlik. Hy moet seker weet waarby Vierpoot se mense betrokke is. “Sit solank,” wys sy na die stoel voor haar lessenaar.

Hy grinnik effens terwyl hy om hom rondkyk. “Dit gaan moeiliker wees as wat ek gedink het,” sê hy meer vir homself as vir haar.

Sy glimlag geforseerd terwyl haar verstand oortyd werk. “Ekskuus?” vra sy terwyl sy ook gaan sit. Wat gaan moeilik wees? Om sy geld vir Vierpoot te gee? Is hy teleurgesteld in hoe dit hier lyk? Het hy meer verwag? Het hy meer van háár verwag?

“Hierdie liefdadigheidsorganisasie van jou sukkel om op die been te kom,” begin hy en haar rug word styf.

“Nie werklik nie,” sê sy beslis. “Ons is al byna ʼn jaar lank aan die gang. Al groei ons dieretal vinnig, word daar ook maandeliks heelwat diere aangeneem. Dit is hoekom fondse so noodsaaklik is.”

“Die huidige ekonomiese toestand maak dit nog moeiliker vir julle,” gaan hy voort asof hy haar nie gehoor het nie.

Vir wat praat die man soos ʼn doemprofeet? Dit is nie nodig dat hy hulle probleme uitspel nie. Sy weet dit is moeilike tye. Pleks hy tot ʼn punt kom en net sê hoeveel geld hy vir Vierpoot gaan gee. Vir die res sal sy sorg.

Sy laat doelbewus  haar vingers ontspan en leun teen die rugleuning terug. Laat hy self sê hoeveel hy gaan gee, sy sal nie vra nie.

“HAD-ontwikkeling is bereid om jou te help.”

“Dankie,” glimlag sy ingenome terwyl sy haar hande afwagtend saamslaan. Adam Hattingh sal nie spyt wees nie, hulle doen goeie werk hier by Vierpoot.

“Ek neem aan jy het baie skuld en uitgawes. Ons is bereid om die grond vir ʼn baie goeie prys by jou te koop. Binnekort begin ons kantoorblokke op die stuk grond hier langs joune bou en ons het ʼn parkeerarea nodig. Hierdie grond van jou is ideaal daarvoor.”

Die glimlag op haar lippe verstar en haar asem steek in haar keel vas. Ontnugtering is soos ʼn skoot yswater in haar gesig. Sy kyk geskok na Adam Hattingh. Is die man van sy sinne beroof?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s