Proestukkie: Die regte kandidaat van Dina Botha

Roelien is nie seker hoe lank sy in totale euforie op die mat gelê het nie, maar toe sy haar oë uiteindelik oopmaak, voel sy nog ’n deken oor hulle. Hy moes dit intussen  uit die kas gaan haal het. Sy glimlag. Sy het nie eens agtergekom hy staan op nie. Sy draai haar kop.

Tor lê haar met sagte warm oë en aankyk, sy kop op sy hand gestut.

“Ek moes aan die slaap geraak het,” sê sy sag.

Hy vee met sy wysvinger oor haar gekneusde lippe. “Jy weet ek het hierdie aand nie doelbewus beplan nie?”

Dis ’n  bietjie laat om skuldig te voel, dink sy geamuseerd, maar  waardeer nogtans sy eerlikheid. “Ek weet jy het nie.”

Haar gesig moet hom fassineer, want nou volg hy die lyne van haar ken. “Is jy spyt?”

“Nee, is jy?”

“Nee … ja.”

Sy frons liggies en dadelik stryk hy die plooitjie tussen haar oë uit.  “Jy weet dit het niks verander nie, eerder gekompliseer, nè?”

“Wat bedoel jy, dit het niks verander nie? Ek glo nie ek het al ooit so na aan ’n  man gevoel soos op hierdie oomblik nie.”

“Ek voel dieselfde, maar wat ek bedoel, is dat ek steeds ek is en jy steeds die dogter van ’n  baie ryk en invloedryke man is. Die een of ander tyd sal jy na jou lewe moet terugkeer. Jy weet jy kan nie vir altyd hier wegkruip nie.”

“Ek weet dit alles, maar  dit verander nie hoe ek op hierdie oomblik voel nie. Ek …” Skielik wil sy die woorde wat haar al die afgelope twee dae knel hardop sê. “Ek dink ek het jou …”

Voordat die woord oor haar lippe kan glip lê Tor sy vinger oor haar mond. “Moenie nou iets sê nie, want niks wat tussen ons is … is eg nie.”

“Wat ek ’n  paar minute gelede ervaar het, het eg genoeg vir my gevoel.” Sy vat aan die rooi soenmerkie teen sy skouer. “En as jy in die spieël gaan kyk, sal jy sien dat ek my merk op jou gemaak het, net om dit te staaf.’

Tor val nie vir haar geterg nie. Sy gesig bly ernstig, asof hy haar nie gehoor het nie. “Dis ’n  storieboekfantasie wat ons probeer uitleef, Roelien. In die regte lewe stop ’n busbestuurder nie in die middel van nêrens en kom tot die redding van ’n blonde blouoogprinses nie. Die pragtige prinses vertrou nie, in ’n oogwink, ’n wildvreemde man en laat toe dat hy haar slaapplek gee nie.”

“Ek weet dit alles, en normaalweg sou ek nooit so iets gedoen het nie, maar ek was desperaat om net van alles en almal af weg te kom. Ek het ook nie geweet of my pa al klaar iemand agter my aangestuur het nie.”

“Jy moet my belowe, Roelien, dat jy nooit weer iets so onverantwoordeliks sal aanvang nie. Vir al wat jy weet, kon ek ’n   reeksmoordenaar of iets gewees het.”

“Maar jy is nie. Die oomblik toe ek in jou oë kyk, het ek instinktief geweet ek kan jou vertrou. Daar was … is net niks duisters in jou oë nie.”

Tor lag. “Jy ken duidelik nie die wolwe van die lewe nie. Enige man wat op daardie oomblik in jou pragtige maar bang gesig gekyk het, sou ook die wêreld vir jou probeer verskuif het. Jy’s blykbaar nie bewus van jou sjarme nie. Een kyk in jou oë en  selfs ’n tagtigjarige in die ouetehuis sal ’n  wit perd wil vang, net om jou ridder te wees.”

“Jy vergroot nou,” sê sy maar kan nie help om te lag nie. “Buitendien, jy het bewys dat ek jou kan vertrou. Jy het nie van my misbruik probeer maak nie.”

“Het ek nie?” vra hy dubbelsinnig. Hy wag nie vir ’n  antwoord nie, maar rol op sy rug. Terselfdertyd trek hy haar bo-op hom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s