Proestukkie: Linelle Venter – Onverskrokke rebel

Die volgende oomblik kies alle gedagtes van haar verlede, versigtig wees en vertroue die hasepad toe Renier geïrriteerd regop sit en sy oorpak se bostuk begin losknoop.

“Wat dink jy doen jy?” Die skok laat haar stem ’n paar tone styg, selfs al wens sy dat sy ook haar bostuk kan losknoop om bietjie af te koel.

“As jy dit nie voel nie, Prinses, dis warm hier binne.” Hy knoop die oorpak los tot waar sy belt sit en trek dit mou vir mou uit sodat die bostuk ondertoe hang. ’n Knop die grootte van ’n boerpampoen gaan sit in haar keel en Claudette sluk vergeefs ’n paar keer om daarvan ontslae te raak. Genadiglik is Renier se bolyf nie kaal nie, maar die spierwit onderhemp wat hy aanhet sit gegiet teen ’n bolyf wat menige kunstenaar na ’n verfkwas, potlood of beitel sal laat gryp.

Sy gedefinieerde maagspiere lei na ’n borskas waarna Claudette se vingers hygend smeek om te verken. Haar oë beweeg na sy boarms wat elke vrou se hart ’n paar kloppe sal laat mis en dan stop haar visuele verkenning plotseling. Haar pa het altyd gesê dat net misdadigers tatoeëermerke het en Claudette wonder of dit die geval met Renier is.

Op sy regterboarm is die mooiste kunswerk. ’n Rankroos wat deur ’n musikale G-sleutel vleg begin by sy skouer en ’n arend wat fier op die onderste draai van die G-sleutel sit, is ’n paar sentimeter bo sy elmboog. Sy besef nie dat sy daarna staar nie en skrik toe Renier se diep stem haar gedagtes indring. “Het jy nog nooit ’n tattoo gesien nie?”

“Nie van so naby nie,” antwoord sy eerlik en gee nie eers om dat hy verbaas lyk nie. Sy kan eenvoudig net nie ophou staar na die fyn kunswerk op sy gespierde arm nie. “Ek het dit nog net in flieks en op foto’s gesien.”

“Wil jy daaraan vat?”

Claudette is seker dat hy die vraag as ’n spottende grap bedoel het, maar sy kan nie anders as om in te gee aan haar vingers se behoefte om te verken nie. Sy wikkel effe nader tot waar hy sit en kyk in sy ligblou oë. “Mag ek?”

Renier grinnik en klink geamuseerd. “Oukei.”

Haar oë en vingers volg die krulle van die G-sleutel en haar aandag word verdeel tussen die opwinding om aan ’n tatoeëermerk te raak en om Renier se warm vel onder haar vingerpunte te voel. “Dit voel soos jou vel.”

“Dit ís my vel.”

Sy is so vasgevang in die sensuele ervaring dat sy skaars die heesheid in sy stem registreer. Haar vingers streel oor die arend, wat lyk asof daar niks is wat hom ooit gevange kan hou nie en sy weet dat dit hierdie vryheid is waarna sy smag. Dit is haas ongelooflik dat Renier ’n kunswerk op sy arm het wat so perfek haar droom, wat sy drie maande gelede begin realiseer het, vasvang. “Jou vel is sag. En warm.”

“Prinses.” Die woord is slegs ’n fluistering, maar dra ’n waarskuwing, ’n hunkering, ’n belofte en ’n paar ander emosies waaroor sy liewer nie wil kontempleer nie. Sy linkerhand vou oor hare en druk dit styf teen die warmte van sy boarm.

Claudette se sintuie is oorweldig deur die sagtheid van sy vel onder haar palm en die grofheid én teerheid van sy palm wat haar hele hand toemaak. Sy kyk van hulle hande op na sy oë en sien daarin ’n ysvuur brand wat die lawapoel diep in haar maag ewenaar.

Die tyd staan stil en vir lang, dromerige oomblikke staar hulle in mekaar se oë en bestaan daar geen verledes, geen geheime en geen verskille tussen hulle nie. Stadig, asof daar ’n mag groter as hulle beheer oor hulle aksies het, beweeg hulle nader aan mekaar totdat hulle lippe net ’n droombreedte van mekaar is.

Hierdie magiese oomblik waarvan Claudette nog net in boeke gelees het, kom tot ’n wrede einde met ’n knal van iets wat in Pepper se deel van die werkswinkel val. ’n Streep vloekwoorde wat kreatief aanmekaar gestring word, dryf deur die werkswinkel tot waar Claudette en Renier steeds asemloos in mekaar se oë staar.

Die besef dat sy nou so amper soos stamper ’n regte-egte motorfietsryer met ’n regte-egte tatoeëermerk gesoen het, vries elke sel in Claudette se wese. Sy kan mos nou nie gaan staan en so iets aanvang nie. Renier sit terug en bestudeer haar met daardie ysblou oë van hom.

“Jy’s moeilikheid.” Sy stem het steeds die hees kwaliteit wat hom gevaarlik, maar uiters sexy laat klink. “Kan ek asseblief die klein sterskroewedraaier kry.”

One thought on “Proestukkie: Linelle Venter – Onverskrokke rebel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s