Proestukkie: Tamara

Hier is ‘n uittreksel uit Tamara, net om die aptyt te prikkel:

Sy sit in haar katoennagrok op die bankie voor die spieëltafel en is besig om haar vlegsel los te maak toe daar ’n ligte klop aan haar kamerdeur is.
“Kan ek inkom, Tamara?” Joshua loer om die deur en stoot dit wyer oop toe sy verras knik.
Tamara trek die borsel met sy silwer rugkant deur haar hare. Sy trek ’n gesig toe dit in die borselhare verstrengel raak.
Joshua vat die borsel by haar en vryf met sy vinger oor die gegraveerde naam. “Dis ook omtrent al wat jy van moeder Deborah het, nè, Tamara?”
Tamara kyk in die spieël na haar broer.
Hy glimlag, tel ’n hand vol van haar hare op en begin dit van die punte af borsel soos hy kleintyd elke aand getrou gedoen het. “Ek wens jy het jou moeder geken, Tamara. Sy was die enigste een wat die sagte kant in Vader kon ontgin. En sy was net so pragtig soos jy. Ook die lang, blonde hare en die blou oë, maar sy was klein en skraal in vergelyking met jou lenigheid en krag. En tog het sy ons met ’n sterk hand regeer … Vader inkluis.” Hy tel nog ’n hand vol hare op en herhaal die proses.
Tamara hoor skaars wat hy sê. “Hoekom het jy destyds opgehou om my hare saans te borsel, Joshua? Hoekom het jy opgehou om na my kamer toe te kom vir ons geselsies? Nooit meer vir my op jou viool kom wiegeliedjiesspeel nie?”
Joshua kyk vlugtig na haar in die spieël, dan weer af na haar hare. “Jy het sestien geword, Tamara. ’n Nooi van sestien het haar privaatheid nodig.”
Tamara draai op die stoeltjie om. “Joshua, jy het my versorg wanneer ek siek was, jy het vir my geskerm by Vader wanneer ek stout was. Jy het Vader teëgegaan toe hy my vroeg al uit die skool wou haal, my ’n pak slae gegee toe ek en Benjamin gaan swem het terwyl die rivier afkom. Jy het my leer perdry, leer skiet, leer mes gooi, leer sweep klap en jy het my geleer om myself te verdedig.
“Liewe hemel, Joshua, jy het my selfs vertel wat aangaan en my na ma Saar toe geneem daardie nag … toe ek in ’n plas bloed en ’n onmenslike pyn op my maag wakker geword en nie geweet het wat anders om te doen as om na jou toe te gaan nie.” Haar wange word weer warm by die herinnering.
“Selfs daarmee het jy my gehelp, Joshua. En toe ek die dag sestien word, toe verstoot jy my. Jy was daar, ja, maar jy was ook nie daar nie. Jy het jou heeltemal aan my onttrek. Deur een ongenadige verjaardag het ek jou as vader en as moeder verloor. En meer … jy was ook my vriend, beskermer … alles wat ek nodig gehad het. En nou, die afgelope twee jaar, is ons skaars kennisse.”
“Ons sal nooit bloot kennisse wees nie, Tamara. Ek is jou broer.”
Sy draai terug spieël toe. In die weerkaatsing kyk hulle mekaar by die flikkerende kerslig weer in die oë. “Ek het tien ander broers, Joshua, dink jy nie dis genoeg nie?”
Asof hy iets soek om met sy hande te doen begin hy weer haar hare borsel. “Ek het gekom om verskoning te vra, nie om ons familiegeskiedenis uit te lê nie.”
Sy kyk hom onbegrypend aan.
“Ek was vroeër vanaand onnodig kortaf met jou. Ek is jammer.”
“Hoekom vra jy my om verskoning, Joshua? Broers is dikwels nydig teenoor hul susters. Nie een van my ander broers het my al ooit om verskoning gevra nie, behalwe wanneer jy hulle opdrag gegee het.” Tamara kan die halsstarrigheid, die uitdaging in haar stem hoor. Sy verstaan nie wat vanaand met haar aangaan nie, wat hierdie ongedurigheid, hierdie vreemde ontsteltenis is wat in haar hele liggaam nes gemaak het nie.
Joshua sit die borsel neer en draai haar aan haar skouers om sodat sy hom reguit in die oë kyk. “Ek was sestien toe jy gekom het, Tamara. Sestien toe moeder Deborah dood is en Vader vir my gesê het ek moet sorg dat jy groot kom. Jy is my verantwoordelikheid, het hy gesê, net soos hy Jong Dawid opdrag gegee het om na Benjamin om te sien. Jy is nou agttien, ouer as wat ek was toe Vader jou in my arms gelê het. Dis logies dat jou verhouding met my anders as met die res van die broers sal wees.”
Sy asem is warm en onverwags vinnig teen haar gesig voor hy wegdraai.
Daar hang ’n stilte in die kamer. Die bankie kraak toe Tamara opstaan.
Joshua draai om en vee deur sy donker hare. In die kerslig is sy gelaatstrekke gebeitel, sy oë donker en broeiend.
Tamara gaan staan voor hom. “Waarom dan …” begin sy, maar Joshua skud sy kop en hou sy hand op. Op sy voorkop blink fyn sweet.
“Dis nou die einde van hierdie gesprek, Tamara.”
“Nee, dit is nie. Ek wil weet hoekom, Joshua. Hoekom kan jy nie soos vroeër op my bed kom sit en my vertel van moeder Deborah, of sommer van die dag se gebeure, of soms selfs net ’n storie nie? Lukas doen dit soms sedert Lidia dood is. Benjamin warrel partykeer hier in en Gabriël kom vertel my af en toe wat hy gelees het, kom praat gereeld met my Engels. Maar nooit meer kom jy hierheen nie. Vanaand is die eerste keer sedert ek sestien geword het dat jy in my kamer kom.”
Sy skud haar kop. “Jy verwar my, Joshua. Aan die een kant sê jy vir my ons verhouding is spesiaal omdat jy my grootgemaak het, aan die ander kant sê jou houding en die manier waarop jy my behandel dat jy afstand tussen ons wil bewerkstellig. Ek verstaan dit nie.”
Tamara kyk hom pleitend aan. “Wat probeer jy nou eintlik vanaand vir my sê, Joshua?”
Joshua kyk haar lank in stilte aan.
Sy laat rus haar hande teen die growwigheid van sy hemp terwyl sy na hom opkyk. “Antwoord my, Joshua.”
Hy vou haar polse in sy groot, sonbruin hande toe, vryf haar palms met sy werkharde duime. Dit lyk asof hy iets gaan sê, maar dan skud hy net sy kop.
Met ’n hees “Nag, Tamara” stoot hy haar finaal van hom af weg en trek die deur agter hom toe, sonder om haar weer in die oë te kyk.

One thought on “Proestukkie: Tamara

  1. anngert Annetjie says:

    Hene Chanette, jy maak my nou so lus om hierdie boek te lees. Ene ek wil-wil ‘n raai vat wat met Joshua aan die gang is. Lekker gelees aan hierdie proestukkie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s