Proestukkie: Tussen twee vure

Hier is ‘n lusmakertjie uit Annetjie van Tonder se nuutste Romanza:

Boshoff, staan dit daar, met haar kwalifikasie en die naam van die bekende Amerikaanse universiteit waar sy studeer het. ’n Effense frons verskyn tussen sy oë. “Juffrou … mevrou …”

“Helette Boshoff, ongetroud, was nog nooit getroud nie,” vul sy vinnig aan, steeds verleë omdat sy geen benul het waarna hy verwys nie.

Hy knik. “Aangename kennis, juffrou Boshoff. Ekskuus, ek het myself ook nog nie voorgestel nie. Abel du Vos.”

Sy knik stram, vertrou nie haar  stem nie. Hy’t natuurlik nie ’n idee dat sy presies weet wie hy is nie. Gelukkig is hy nie titelbehep nie, dit maak hom meer toeganklik, al lyk hy so streng. Abel. Sy hou van die naam, klink sterk en manlik.

“Jy kan tog seker verstaan dat dit vir my moeilik gaan wees om my kind in die sorg van ’n wildvreemde te laat,” gaan hy voort, “daarom moet ek so veel as moontlik van jou te wete kom, veral hoeveel ervaring jy van au pair werk het en of jy lief is vir kinders, maklik met hulle klaarkom.”

Dit voel of ’n klomp miere by haar keel afhardloop en ’n hewige hoesbui oorval haar. Dit gebeur altyd wanneer sy skrik.

“Water. Drink,” kom die bevel toe hy die glas na haar toe uithou.

Sy probeer nie eers wonder waar hy dit so vinnig in die hande gekry het nie, sluk net die koel vloeistof terwyl sy herkou aan die nuwe wending. Dan is dit waarom hy haar verwag het. Die advertensie waarvan hy gepraat het … dit was vir ’n au pair en hy het toe sommer aangeneem sy het daarop gereageer en dit is die rede waarom sy gekom het. En hier is sy so opgewonde soos ’n kat wat ’n muis gevang het net om te ontdek dis toe al die tyd ’n rubbermuis. Sy sal hom eers laat klaar praat voor sy hom reghelp.

Miskien moet sy hom reguit vra oor sy vrou. Seker ’n werkende moeder, daarom dat hulle iemand nodig het om na die kind om te sien. Mevrou sit tien teen een nou by die werk en die professor, met moontlik genoeg af periodes, moet kind oppas.

“Mevrou du Vos … werk sy voltyds?” vra sy versigtig. Dankie tog haar stem klink heel normaal.

Hy kry ’n veraf uitdrukking in sy oë en dit lyk byna of hy haar nie  gehoor het nie. “Oorlede,” kom dit gedemp oor sy lippe, asof hy nie daaroor wil praat nie.

Oorlede? Dit voel of sy van ’n hoë krans aftuimel en hard met moeder aarde kennis maak. Dit kan nie wees nie. Sy het dan so gehoop … Eindig haar soektog dus hier? Teleurstelling spoel oor haar. Sy het haar suster verloor voor sy haar nog kon vind. En al het sy haar nooit geken nie, ervaar sy ’n pynlike gevoel van verlies.

“Ek is baie jammer om dit te hoor,” onthou sy oplaas haar goeie maniere. “Wanneer? Hoe?” Al weet hy dit nie, dit is vir haar ’n persoonlike knou.

“Leukemie. Ons het haar agtien maande gelede begrawe.”

Skielik besluit Helette, sy wil hier kom au pair, al het sy dit nog nooit in haar lewe gedoen nie, want hierdie kind is deel van haar biologiese familie. Sy sal die aanvanklike doel van haar besoek verswyg.  “Seun of dogter?” vra sy.

“Dogter. Vier jaar oud. Haar naam is Sanja.”

’n Dogtertjie … sou sy na haar ma lyk? ’n Gevoel van vertedering oormeester haar. Sy weet niks van kinders nie, maar het opeens ’n brandende begeerte om hierdie kind te leer ken. “Ek het nie ’n CV gebring nie, maak dit saak? Ek sal graag die werk wil hê, het dit dringend nodig.” Sy kruis haar vingers ongemerk. Dis darem nie heeltemal ’n leuen nie, sy moet iewers ’n inkomste kry, kan nie op ma Marna se nek lê nie.

Hy vou sy arms en kantel sy kop. “Toemaar, vertel my van jouself, waar het jy oral gewerk, hoekom werk jy as au pair, het jy enige kwalifikasies? Enigiets wat jy dink ek behoort te weet.”

Helette sluk. Hy gaan dit vreemd vind dat sy met haar kwalifikasies wil au pair, maar die waarheid moet seker dan uit. ’n Leuen sou haar kon red, maar … al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal dit wel. Marna se geliefkoosde spreuk. Dis beter dat hy dit uit haar eie mond hoor as dat hy dit later op ’n ander manier uitvind. “’n Studiebeurs het my vyf jaar lank in die buiteland aan die lewe gehou terwyl ek besig was met ’n doktorsgraad in musiek. Ek wil my nou toelê op kontemporêre komposisie. Maar dis nie Europa nie, dáár is goeie befondsing vir kunstenaars, hier moet ek myself aan die lewe hou.” Sy vervies haar vir haarself, vir wat klink sy so beteuterd? Hy sal definitief nou wonder waarom sy nie by die universiteit se musiekdepartement gaan aanklop het nie. Of haar dan ten minste op musiekleerlinge toespits nie.

Sy arms val langs sy sye terwyl sy wenkbroue teen sy voorkop uitklim. “Jy wil au pair, met ’n doktorsgraad agter jou naam?”

Sy skuif ongemaklik rond. O, ditsem, die man lyk kwaad. Vertrou natuurlik nie die vrede nie. Sy moet toegee, dit lyk seker baie verdag.

“En wat dink jy, wat sal dóktor Boshoff se salaris moet  wees?” Sarkasme drup uit sy woorde. Sy stem klink soos ’n suidpoolwind wat koud oor haar waai. Hy glo nie dat sy werklik ’n doktorsgraad of enige geleerdheid het nie. Hy dink seker dit is ’n spul leuens. Sy kan dit aan sy stemtoon hoor; op sy gesig sien. Met geen bewyse hier by haar nie, sal sy hom nooit kan oortuig nie.

Dan staan hy skielik op. “Nee wat, Júffrou, ek dink jy moet maar gaan, jy mors my tyd, daar sal wel betroubare kandidate opdaag. Jy probeer voorgee wat jy nie is nie. Ek kan nie my kind in ’n ongebalanseerde persoon se hande laat nie.”

Sy staan stadig op. Net soos hy, loop sy ook nie gedurig met haar titel te koop nie, daarom het sy hom nie vroeër reggehelp toe hy haar as juffrou aangespreek het nie. Maar een ding is seker, niemand mors met Helette Boshoff nie.

“Ek vra jou nie om my te glo nie,” sê sy afgemete en is vir die soveelste keer dankbaar vir haar lengte, want sy kan hom in die oë kyk. “Ek was nog nooit een vir leuens nie, het ook nie denkbeeldige grade nodig nie. Hoe dankbaar is ek nie dat ek jou nooit in my voorgraadse jare op die kampus raakgeloop het nie, dan was my siel jare gelede al vergiftig.” Sy hoop haar stem klink ysig genoeg. “Moenie saamstap nie, ek sal self regkom.”

Asof hy haar nie gehoor het nie, loop hy vooruit en maak die voordeur oop. Die soet geur van die yesterday-today-and tomorrow stroom saam met die helder sonlig binnetoe. Sy vlug as’tware na buite. Om só die deur gewys te word voel uiters vernederend.

Hy staan nog in die deuropening toe sy terugkyk, sy mond stroef en sy oë onleesbaar. So moes dit seker gevoel het toe die Berlynse muur mense so skielik van mekaar afgesny het –  heeltemal ontredderd.

Toe Helette haar motorsleutel uit haar skouersak haal, vat sy die harde stukkie plastiek raak en haal dit uit. Een van die naamkaarte wat sy vir haar oorsee laat maak het. Dr. H. Boshoff, staan dit duidelik daarop.

Vinnig stap sy terug voordeur toe en glip die kaartjie onder die deur in.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s