Chanette gesels oor die Daveltjies

Tamara is die eerste in die reeks.  Tamara Davel word die stammoeder en matriarg as moeder van Annabella, Deborah, Maryn en Christiaan en as tante van Willemien wat weer die ma word van Isabelle.

Toe ek Tamara begin skryf het, sou ek nooit kon droom dat dit die eerste van sewe sou wees nie.  Om die waarheid te sê, het ek amper ook nie vir Tamara geskryf nie.

In 1999 het my uitgewer my gevra om ’n historiese liefdesverhaal te skryf ter herdenking van die eeufeesviering van die Anglo-Boereoorlog.  My eerste reaksie was o, genade, nee toggie. My matriekgeskiedenis het ver in die verlede gelê.  Ek kon my ook nie indink dat die vae beelde wat ek gehad het van omies met bandoliers oor hulle boepense en skeefgetrapte velskoene aan hul voete, vreeslik passievol kon raak oor die uitgedyde tantes wat vroom onder kappies uitgeloer het nie.

Tog het ek na baie gewroeg en bloedsweet oor die opdrag besef dat dit eintlik ʼn heerlike uitdaging is.  Ek het ook besef dat die mense destyds nie net afbeeldings op dowwe sepia foto’s was nie, maar mense wat asem gehaal het soos ons, en liefgekry het soos ons.

Op ʼn dag het ek Tamara Davel met haar lang blonde hare en vurige blou oënet voor my sien staan.  Ek kon haar met haar perd,Tibbie,oor die aarde sien skeer. Ek kon haar sien waar sy in die kerslighaar vlegsel voorʼn spieëlkassie met baie laaitjieslosmaak. En waar sy in ʼn sinkbad lê waarin laventelblare dryf. En ek het gewonder: Wat gebeur as twee mense wat grootgemaak is om te glo dat hulle broer en suster is, mekaar liefkry en teen die agtergrond van die chaos van oorlog moet probeer uitvind hoe sake inmekaar steek?  Die gevolg was ʼn boek met die naam van Bittersoet Wals.

In 2005, amper ses jaar nadat Bittersoet Wals die lig gesien het, het Lapa Uitgewers my genader om die boek weer uit te gee.  Ek was natuurlik in my noppies – totdat hulle bygevoeg het hulle soek ook ʼn opvolg.  Dit was nou weer vir my ʼn nuwe uitdaging en ek het dadelik aan Mientjie gedink, Tamara se niggietjie wat saam met haar in die konsentrasiekamp beland het.

Ek was besig om aan Mientjie, wat intussen natuurlik groot en Willemien geword het, se verhaal te werk toe ek begin wonder het wat van Annabella en Deborah, dis nou Tamara se dogters, gaan word.  En natuurlik Ryk Ruben Gould se seuns wat deur Willemien opgepas word.  In ʼn oomblik van waansin noem ek toe vir my uitgewer dat ek so wonder oor die kinders en toe sê sy vir my:Maar vind uit.

Die gevolg was Annabella en Deborah en terwyl ek so aan Deborah skryf toe wonder ek oor Willemien daar in die vreemde Ierland en wat van haar dogter Isabelle sou geword het.

Intussen het Annabella en Deborah ook ʼn tweeling boetie en sussie ryker geword en toe wonder ek nog verder oor hulle ook.

Die uiteinde van die saak is hierdie sewe boeke oor die sewe eiesinnige Davel-vrouens.

Die laaste ses boeke het ek in een jaar (2005/2006) geskryf.  Ek het Davels geëet, gedrink, gedroom, ge-alles.  Enbitterlikgehuil toe ek Fleur, die laaste in die reeks,na my uitgewer toe gestuur het.

Die sewe sakke sout wat ek saam met die Davels van Bergendal opgeëet het, was een van my lekkerste skryfervarings.

Ek het die boeke so probeer skryf dat elkeen op hul eie kan staan en buite volgorde geniet kan word.  Die herdrukke spog elkeen met ʼn geslagsregister om die taak te vergemaklik.  Ek dink egter dat dit tog meer leesplesier bied as die reeks wel in volgorde gelees word, of ten minste Tamara eerste en Fleur laaste.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s